Vertroue in die landbousektor het tot gunstige vlakke teruggekeer ná die internasionale ekonomiese afswaai, maar dit kan beter wees, sê die Landboubesigheidskamer (LBK).
Me. Lindie Stroebel, die LBK se ekonoom, sê volgens die LBK/IDC se landbou vertroue-indeks het die vertroue in dié sektor in die derde kwartaal van 2009 die laagste vlak nog bereik met ‘n persentasie van 35%. Dié persentasie het vir die huidige kwartaal weer tot ‘n gunstige vlak bokant 50% beweeg.
“In vergelyking met ander lande is die vertroue in ons landbousektor nie sleg nie, maar dit is swakker as dit waaartoe ons in staat is,” sê sy.
Redes vir die swak vertoning
Stroebel sê volgens ‘n onlangse opname speel verskeie faktore ‘n ongunstige invloed op die land se ekonomie in 2010. Die belangrikste faktor is die vertroue in die land se politieke stelsel. Die vaardigheid van werkers in die openbare sektor, en dié sektor se vermoë om dienste te lewer, is ‘n verdere bekommernis. Kragvoorsieners, die koste van misdaad, die doeltreffendheid en bruikbaarheid van infrastruktuur en vervoerkoste is nóg faktore wat vertroue in die landbou skaad.
Beter ondersteuning aan die landbou sal dié sektor die kans bied om uit te brei en nie net te oorleef soos wat tans die geval is nie, sê Stroebel. “Dit is nie net die verantwoordelikheid van die Regering om die sektor te ondersteun nie, maar ook van ander rolspelers. Die bedryf is nie tans in ‘n omgewing om alles ten beste te doen nie, maar kan nie kanse waag om uit te brei nie, want die ekonomie knyp te veel en hulle moet sente omdraai.”
Leemtes in uitvoer
Wat die invoer en uitvoer van produkte aanbetref, verduidelik Stroebel dat ‘n groot leemte in die produksie en uitvoer van geprossesseerde landbouprodukte in die land bestaan. Sy het twee grafieke van die Wêreld-Handelsatlas oor invoer en uitvoer met mekaar vergelyk.
Volgens die grafieke is Suid-Afrika sedert 2000 ‘n netto-uitvoerder van landbouprodukte, maar die land is sedert 2006 ‘n netto-invoerder van verwerkte landbouprodukte. Dié statistieke dui dus aan dat ‘n leemte bestaan ten opsigte van verwerkte landbouprodukte in die land, en dit kan nié net die koste van voedsel beïnvloed nie, maar ook werksgeleenthede skep wat op vertroue in die landbou kan verbeter.
Hoe mededingend is SA internasionaal?
Die Internasionale Mededingingsindeks dui aan dat Suid-Afrika tans die 45ste plek beklee uit 133 respondente. Ten opsigte van die gesofistikeerdheid van die land se finansiële markte is Suid-Afrika die vyfde beste in die wêreld.
Die LBK is egter bekommerd oor die land se posisie ten opsigte van doeltreffendheid op die arbeidsmark, asook gesondheid- en primêre opvoeding. Volgens die indeks lê Suid-Afrika in die 90ste en 125ste posisies onderskeidelik in dié afdelings van die indeks. “Dié komponente moet dringend aandag kry want dit sal in die toekoms veral ‘n invloed op ander sektore hê,” sê Stroebel.
11 Augustus 2010
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)