Rentekoste is 'n belangrike uitgawe-item in 'n boerdery se kostestruktuur. Rentekoerse is deesdae bestendig, maar talle lesers wonder waarskynlik wanneer die eerste styging gaan kom.
Die Reserwebank se monetêre beleidskomitee vergader gereeld deur die loop van die jaar om te besin oor die aanpassing van rentekoerse (in wese is dit die aanpassing van die bank se repokoers). Die besluit word gegrond op die verloop van die inflasiekoers met inagneming van die Regering se inflasieteiken.
Dié teiken, die sogenaamde VPIX (inflasie sonder verbandrente) moet deurentyd in 'n band van 3 tot 6 persentasiepunte beweeg. Die rede waarom rentekoste uitgehaal word, is dat die rentekoers ook die instrument is waarmee die Reserwebank inflasie bestuur.
Vir die meeste mense is die VPI (verbruikersprysindeks) waarskynlik die gewone inflasiemaatstaf. Die redenasie is gewoonlik: As inflasie styg, bestee mense te veel en wanneer die rentekoers verhoog word, demp dit besteding, word prysstygings moeiliker en sal inflasie daal. Die probleem is dat dit ses maande tot anderhalf jaar duur voordat die verandering in rentekoerse deur die hele ekonomie werk. Dit beteken die monetêre beleidskomitee moet in sy besluitneming sy oog heeltyd op die langer termyn hou.
Die besluit word verder bemoeilik deurdat daar ook 'n verwantskap tussen die wisselkoers en inflasie is, maar ook met die rentekoers.
Wanneer die rand se wisselkoers teenoor ander geldeenhede verswak, beteken dit ingevoerde goedere word duurder, uitvoerpryse styg en dit werk vinnig deur om inflasie te laat styg. 'n Stabiele wisselkoers is 'n belangrike faktor in dié meganisme. Daarmee saam, as Suid Afrika se reële rentekoerse (verskil tussen inflasie en rente) taamlik groot is teenoor dié van ander lande, sal dit tot 'n invloei van kapitaal lei en die wisselkoers laat versterk. Daarom dat gerugte oor rentekoersstygings in Amerika bydra tot 'n verswakking in die rand se waarde teen die Amerikaanse dollar, omdat dit aantrekliker raak om geld in Amerika te plaas.
Die onlangse besluit van die monetêre beleidskomitee om die repokoers onveranderd te laat, is gegrond op die feit dat die VPIX binne die teikenband beweeg.
Net só belangrik is die feit dat die VPIX van 11,3 % in Oktober/November 2002 gedaal het tot 4,4 % in Maart en April vanjaar. Dit is gerieflik binne die teiken van 3 % tot 6%. Voorspellingsmodelle wys dat die VPIX vir die res van die jaar, en selfs in 2005, binne dié band behoort te beweeg. Daar is wel 'n kans dat die VPIX teen die einde van die jaar tot bo die teiken van 6 % kan styg. Dit sal waarskynlik tydelik wees.
Die verloop van die inflasiekoers en van voedselinflasie word in grafiek 1 gewys. Die aansienlike daling is duidelik. Inflasie het in April op 'n jaarbasis gedaal tot op die vlak van 0,2 %. Voedselinflasie is ook deesdae 2,5 % op 'n jaarbasis, wat heelwat laer is as wat in die begin van die jaar verwag is.
Voedsel dra 'n gewig van 35 % in die VPIX, daarna volg huisvesting en vervoer, met elkeen 'n gewig van 11 %. Dié elemente dra saam dus 'n gewig van 57 %. Die huidige lae graanpryse (ten spyte van 'n kleiner oes) steun die lae inflasiesiening.
Dan is daar die brandstofprys. Die stygende prys van ru-olie werk deur brandstofpryse, en dus vervoerkoste, tot elke sektor van die ekonomie. Die landbou word gereeld erg hierdeur geknou. Die skerp styging in die prys van ru-olie tot by $40 per vat in die onlangse weke se invloed op brandstofpryse is kwaai getemper deur die stabiele en sterker rand.
Die olieproduserende lande het intussen besluit om hul olieproduksie aansienlik te verhoog (op versoek van die G8-lande, omdat beperkte oliebeskikbaarheid ekonomiese groei knou). Oliepryse het reeds begin daal en kenners meen dit kan weer $28 per vat haal. Indien dit gebeur, sal die gevaar van brandstofinflasie ook vinnig afneem. Om die waarheid te sê, 'n daling in brandstofpryse is waarskynlik voor die deur.
Die ander belangrike faktor is die binnelandse ekonomiese groeikoers. Die alliansie ANC-Cosatu-NNP is onder aansienlike druk om werksgeleenthede te skep en die ekonomie te laat groei. Dit is waar dat die ekonomie nou al vir 18 agtereenvolgende kwartale groei (die langste nog), maar dat dit relatief laag bly en min werk geskep word. Heelwat aanwysers dui daarop dat die ekonomiese groei in die res van vanjaar en aanstaande jaar sal versnel - enige styging in rentekoerse sal die versnelde groei feitlik kortknip.
Hoewel dit nie een van die belangrikste maatstawwe is nie, is groei en werkskepping vir die hoof van die Reserwebank belangrik, aangesien hy deur die Kabinet aangestel is en dus die Regering se oogmerke in gedagte moet hou.
Myns insiens is dit die agtergrond vir die Reserwebank se besluit om die repokoers voorlopig onveranderd te laat. My siening is dat rentekoerse vir die res van die jaar stabiel gaan bly. As dit sou styg, sal dit 'n klein styging die einde van die jaar wees iets soos 'n kwart of half persent.
Lae inflasie en 'n stabiele wisselkoers sal belangrike gevolge vir die landbou inhou. Die stabiele rentekoers en die meegaande verloop van die rand-dollarwisselkoers word in grafiek 2 getoon.
Indien die rentekoers stabiel bly, is die verwagting dat die wisselkoers die volgende ses tot nege maande onder die vlak van R7/$ gaan bly. Daar is verskeie redes vir hierdie moontlikheid, waarvan een is dat Amerika se ekonomie nie so gesond is as wat algemeen gemeen word nie. Hierdie swakhede sal die dollar waarskynlik onder afwaartse druk hou. Die Amerikaanse inflasiesyfers bly redelik in bedwang en kan volgens voorspellers daal tot 1,9 % vir 2004 en aanstaande jaar nog laer neig.
Die tabel hieronder wys die verskil tussen verskillende lande se inflasiekoers en rentekoerse, 'n aanduiding van reële rentekoerse. Indien Amerika se inflasiekoers daal, sal rentekoerse nie styg nie en sal dit die rand sterk hou.
Die tabel wys ook dat die verskil tussen korttermynrentekoerse en inflasie in Suid-Afrika die grootste is. Dit lok geld na Suid-Afrika, iets wat die wisselkoers steun.
Die feit dat die Reserwebank se reserwes in die laaste maand vergroot het van $8,2 miljard tot $10 miljard, beteken dat dollars gekoop is, wat gekeer het dat die rand verder versterk. Hierby moet ons voeg dat Japan se sentrale bank 'n groot koper van Amerikaanse dollars is. Daarmee probeer hy keer dat die dollar te veel verswak (want dan raak Japanese produkte duurder in Amerika).
Daar is egter ook 'n perk hieraan. Indien Amerika se rentekoerse verhoog, sal dit die rand effens kan laat verswak, maar die tabel toon duidelik dat Suid-Afrika se reële rentekoers die hoogste is. Dit beteken dat al styg rentekoerse teen die einde van vanjaar dit steeds beteken dat beleggings in Suid-Afrika hoë opbrengste bied.
Die slotsom is dat die rand na verwagting stabiel sal bly of selfs teenoor die Amerikaanse dollar sal verswak. Dit is nie goeie nuus vir Suid-Afrika se boere nie aangesien dit produsentepryse onder druk gaan plaas, veral die prys van graan en produkte wat uitgevoer word.
Die relatief sterk rand gaan inflasie laag hou, waarskynlik tot beduidend onder die vlak van 5 %. Dit laat min ruimte om skerp prysstygings deur te gee. Op sy beurt gaan dit rentekoerse eerder langer laag hou, wat darem een ligpunt vir die landbou is. Soos vroeër genoem, dra rente beduidend by tot die landbou se koste. Grafiek 3 wys hoe rente-uitgawes in verhouding tot die netto landbou-inkomste gedaal het.
Die advies is dus dat boere moet wag voordat hulle hul finansieringskontrakte omswaai tot vasterentekoerskontrakte (rente word gewoonlik vir 'n bepaalde tyd vasgemaak op so twee persentasiepunte bo die prima koers), want ons is nog 'n entjie weg van stygende rentekoerse.
Die ander belangrike oorweging is dat as die inflasiekoers laag bly, nuwe projekte 'n heelwat laer rendement sal gee. Ek reken 10 % tot 15 % is haalbaar en dat die dae van opbrengste van 20 % tot 25 % op projekte vir eers getel is. Dit geld die winsgewendheid van die meeste besighede, boerdery ingesluit.
2 Julie 2004