|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 06:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 82% |
| Wind: |
Oplossings benodig en plaasmoorde moet bekyk word meen belanghebbendes
'n Beroep deur pres. Thabo Mbeki op 'n Werkersdagbyeenkoms in die Suid-Kaap dat alles moontlik gedoen moet word om aandag op die lot van plaaswerkers te fokus, het wye reaksie ontlok.
Mnr. Johannes Möller, ondervoorsitter van Agri SA, sê dit jammer dat "ongekwalifiseerde kritiek" oor onder meer bewoningsreg gelewer is "sonder om aanleidende oorsake uit te vind en alternatiewe oplossing aan te bied".
Hy sê die afskaling van die landbou se arbeidsmag stel sekere uitdagings. "Verminderde werksgeleenthede in die kommersiële landbou is 'n werklikheid waarvan die knellende ekonomiese en maatskaplike dimensies grootliks oplossings van buite die bedryf verg".
Volgens hom is.
In die verslag van die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (OESO) oor die Suid-Afrikaanse landboubeleid is aangetoon dat die land se kommersiële boere van die minste ondersteuning en beskerming ter wêreld ontvang.
"Die landbou moes aanpas by gedereguleerde marke," het Möller gesê.
Hy sê dit is die Regering se verantwoordelikheid om te verseker dat die arbeidswette van die land toegepas en gehoorsaam word.
Die parlementêre portefeuljekomitee vir arbeid gaan volgende maand op 'n feitesending na plase in die Wes-Kaap waar hy eerstehandse kennis oor plaaswerkers se omstandighede wil inwin.
Volgens me. Rebecca Kasienyane, voorsitter van die komitee, is talle plaaswerkers selfs nie gelukkig met die diens wat hulle by plaaslike arbeidskantore ontvang nie.
Kasienyane het aan Landbouweekblad erken dat die komitee se besoek veral genoop is deur die onlangse voorvalle in Stellenbosch.
"Ek kry al lankal oproepe van mense wat sê ons moet kom kyk wat aangaan. Die belangrikste gaan wees om uit te vind wat die probleem is," het sy beklemtoon.
Sy het ter velde getrek teen inspekteurs van die Departement van Arbeid wat volgens haar in sommige gevalle met werkgewers "saamwerk" om die regte van plaaswerkers te ondermyn.
Volgens haar het die departement ook hopeloos te min inspekteurs en sal daar na meer aanstellings gekyk moet word.
Die ACDP het in die verband gesê hulle sal graag wil hoor dat die president ook iets sê wat sal help om plaasmoorde tot 'n einde te bring.
Mbeki se beroep volg ná verskeie onlangse protesoptogte onder leiding van Cosatu na plase in Stellenbosch. Die jongste optog sowat week gelde was op plase in die Jonkershoek-gebied oor beweerde uitsettings en aanrandings.Cosatu het ook gedreig dat hy op 16 Junie sal terugkeer na die plase as daar nie 'n oplossing vir die klagtes van die werkers gevind word nie.
Hy het in sy toespraak benadruk dat vryheid wat deur die stryd teen apartheid bereik is, gebruik moet word om die lewens van alle Suid-Afrikaners te verbeter.
"Dit sluit in die lewens van plaaswerkers wat onder onaanvaarbare omstandighede werk en die voortdurende moontlikheid van onwettige uitsettings in die gesig staar," het Mbeki gesê.
12 Mei 2006
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24