Ons enigste landboukoöperasie in Namibië, Agra, wil oorskakel na 'n maatskappy. Volgens die raad van direkteure het hulle deeglik oor die pro’s en con’s besin en tot die slot gekom dat dit uiters wenslik is in die huidige besigheidsomgewing. Ek kan nie stry nie want ek weet nie van beter nie, maar ek word gevra om 'n besluit te neem en 'n kruisie te trek. Is daar miskien van julle wat ondervinding hiervan het wat dit met ons sal deel, om my besluit 'n ingeligte besluit te laat wees?
George skryf:
Vir die van julle wat belangstel en deelgeneem het aan die debat:
Erens in Januarie is die prospektus en die stembriewe uitgestuur. Die eerste inligtingsvergaderings het vroeg in Februarie afgeskop. Ek was daar. Ek het al julle menings bymekaargesit asook die stemmery op landbou.com se uitslag saamgevat en bekendgestel. Van alle deelnemers aan ons debat was daar net een baie positiewe een nl. Terra. Ook die stemmery was oorweldigend TEEN oorskakeling gekant.
Nou wil ek vir julle wys hoe dit gekom het dat die NP die land kon verkoop. Nog voordat enige inligtingsvergadering plaasgevind het het reeds by die 800 lede VIR omskakeling gestem. Sonder om hulself ordentlik in te lig, sommer so uit gierigheid, want hier wink mos maklike geld. (ek praat onder korreksie, maar ek dink die totale ledetal is rondom 1700)
In die prospektus word as rede vir omskakeling aangevoer "Dit is wêreldwyd bewys dat besighede slegs met volhoubare groei suksesvol kan bly". Klink logies nie waar nie.? Verder se dit "Ons wil voortgaan om vir u, die lede, die BESTE diens aan te bied..." Klink ook nie sleg nie, nie waar nie?
En toe bars die bom. Toe moet die "bestuurder besigheidsontwikkeling" erken, DAT NET 34% van lede gebruik maak van AGRA. Agra het laasjaar vir die eerste keer die een biljoen Rand grens deurbreek, maar net 34% lede maak gebruik van AGRA. Verstaan ek nie besigheid of het die bestuur van Agra geen benul van besigheid? As net 34% lede gebruik maak van dienste moet die klokkies lui en die rooi ligte flikker. Dan moet daar vrae gevra word en antwoorde gevind word. Maar nie by die menere nie! Hulle het gehoor van "vorentoe verdediging". Liewers al die lede verloor maar die omset hemelhoog jaag.
AGRA is deur die laaste jare omskep in 'n soort supermark. Die tille word volgestaan deur voete van die straat wat een bottel koeldrank en twee toffies koop. Dis so erg dat baie klante (lede 66%) verkies om by die opposisie te koop omdat hulle nie kans sien om in 'n ry te staan van 'n horde brabbelende kopers groot en klein.
Persoonlik sien ek geen manier waarop mens opponerende menings by die lede kan uitbring nie. Die bestuur en die raad beskik oor al die magte, fondse en media om lede te oorreed om JA te stem. Ek kan tog nie nou van inligtingsvergadering tot inligtingsvergadering ry om julle menings te opper?
Watse raad het julle? Of moet ons maar Gods water oor Gods akker laat loop?
Georg
Georg,
Siende dat jy my in jou baie inetressante verslag kwoteer, lewer ek graag kommentaar.
Ek wil reg aan die begin se dat behalwe as 'n lid, ek nooit verder by die ko-operasie wese betrokke was of enige leiersposisie beklee het nie. Ek reageer maar net op wat vir my soos gewone logika en common sense voel.
By die lees van jou e-pos, was die eerste vraag wat by my opgekom het, waarom 66% van die lede nie hulle eie organisasie ondersteun nie. Wat bied die ander voorsieners hulle dan?? Dit wil mos vir my lyk asof daar iewers by jou ko-op 'n groot skroef los was en dat baie van die lede dit besef het. Daarom het hulle deur hulle kruisies op die stembrief die boodskap gestuur: Ek ondersteun nie die manier waarop jy besigheid doen nie en ek is ten gunste daarvan dat jy jouself her-organiseer soos die besighede aan wie ek wel my ondersteuning gee.
Die volgende vraag wat hieruit voortvloei is waarom, as die ko-op so swak ondersteun word, jy daarteen gekant is dat dit omvorm word in 'n maatskappy. Watter voordele is daarin om maar te bly voortbestaan soos in die verlede. Jy kla omdat daar nie 'n manier is waarop opponerende menings by lede uitgebring kan word nie. Jy weet, met baie respek, jy gee ook geen redes nie, en behalwe vir sentiment en emosie, het ek geen werklike konkrete redes in hierdie hele debat gesien waarom daar nie oorgeskakel moet word nie-----en die 66% van jou kooperasie se lede het, nog voordat stembriefies en dinge tersprake gerkom het, met hulle voete gese: Ons verkies ander voorsieners.
Jy insinueer dat die bestuur van Agra geen benul van besigheid het nie, (en ek ken nie een van hulle nie). Maar kom ek vra dan vir jou die verdere vraag: Wat is besigheid dan en waarom gaan dit? Vir my gaan besigheid net om twee dinge: Diens en wins. Of dit noual die apteek op die hoek of die Ko-operasie in die hoofstraat is, as hy nie diens aan sy klante lewer nie, gaan hulle na die een wat wel diens lewer. En om hierdie diens te lewer is geld (wins) nodig. En laat ek sommer nou ook dadelik reageer op onsinnige kommentaar wat so dikwels in die debat oor hierdie onderwerp hier op die forum gelewer is. Wins gaan nie in die sakke van die Bestuur en Direksie nie. Die Bestuur en die Direksie is albei in diens van die aandeelhouers. Betuurs salarisse en Direkteurs vergoeding word op Algemene Jaarvergaderings deur aandeelhouers goedgekeur. So ek herhaal weer wat ek al tevore hier op die forum aanbeveel het: Koop vir jou een aandeel en sorg dat jy die volgende jaarvergadering bywoon, en gee die manne hel as hulle durf waag om die wins in hulle sakke te steek of om onrealistiese vergoedingspakette vir hulle self aan te beveel. Maar as jy bereid is om jou senior bestuur met "peanuts" te vergoed, moenie ontsteld wees as jy vind dat net ape vir hierdie poste aansoek doen nie.
Op jou opmerking dat jy nie bereid is om in toue te staan nie, kan ek kwalik sinvolle kommentaar lewer. Daar is ook wins op die bottel koeldrank en twee toffies waarna jy verwys. Dit dra ook by om jou finansiers te betaal en om beter diens aan jou te lewer. Maar as jy werklik gewetensbesware het, gaan dan na die besigheid waar jy nie in toue hoef te staan ie. Dis tog jou goeie reg. Jy is die klant en jy betaal vir wat jy wil he. Maar dit lyk vir my twee derdes van die lede van jou ko-op deel nie hierdie gewetensbesware nie.
groete
Terra.
Oom Andre en Georg
Ek wou reageer en het nou genoeg motivering om wel te reageer.
Die rede waarom so min lede nog met die besigheid sake doen is waarskynlik omdat hulle behoefte in tussen al verander het, maar hulle het nie ‘n meganisme om van hulle aandele sinvol ontslae te raak nie of hulle wil die aandeel behou sonder om met die onderneming besigheid te doen – dis deel van besigheid. As jy Kumba-aandele koop doen jy nie noodwendig met hulle besigheid nie.
Die wanpersepsie wat grootliks deur enkelinge hier geskep is dat direkteure en besture wins najaag wat in hulle sakke land, is gewoon nie waar nie. Besture word vergoed volgens hulle vlakke van kundigheid en direkteure kry in meeste landbou-ondernemings, baie beskeie vergoeding vir hulle insette.
Ek dink die situasie wat Georg skets is die beste motivering vir omskakeling.
Groete
Louis Hauman
Ja jy sien, Andre,
Ek het so baie oor holistiese bestuur gepreek - en alles het by jou verbygegaan!. Al weer wil jy die simptoom dokter en nie die oorsaak nie.
66% lede het hul besigheid na ander plekke gevat omdat Agra nie meer na hulle behoefte omgesien het nie. En is dit nou nie swak bestuur nie?
Die ou siekte van enige ambisieuse bestuurder om hoeer omset te jaag ten alle koste. Feit is, Agra se wins was nog altyd en is nog steeds power in terme van gesonde besigheidsbeginsel. Die beginsel geld hier "dit kos tien Rand om 'n klant te verloor en duisende om hom weer terug te wen".
Frank het ook vir jou die doelstelling van 'n kooperasie mooi uiteengesit, 'n besigheid deur boere om aan die insetkant en aan die uitsetkant vir die beste pryse te kan beding. Nou klink dit vir jou dat maksimum winste gerealiseer moet word?
Die 66% lede het ander voorsieners gekies omdat hulle gxxxvol is om vir ure in rye te staan en wag en swak diens van BEE personeel te ontvang. En dit is 'n feit soos 'n rots. As jy anders is is jy 'n moerse uitsondering! Toevallig was dit 'n swart boer wat op die genoemde vergadering my oë oopgemaak het toe hy presies hierdie toedrag ten sterkste afgekeur het. Agra het sy kernbesigheid verwater en moet deesdae al hoe meer op die kleinhandelafdeling steun om boeke te laat klop (of te groei soos hulle dit stel).
My tuisdorp Gobabis is vir jou die beste voorbeeld van swak bestuurders. Daar koop jy jou vleis by die bakkery, en jou enjin laat doen jy by die duikkloppers. En omgekeerd natuurlik.
Jou laaste sin maak nie sin nie. Tweederdes deel juis my gewetensbesware anders het hulle nie verkas nie.
T.o.v. direkteure- en bestuurdersvergoeding kan ek net meld dat nog op geen jaarvergadering dit bespreek is of openbaar gemaak is nie. Ek bly aan my eie wiskundige afleidings onderworpe as ek bereken dat daar soveel direkteure is wat moontlik eenmaal per maand vergader en die totale uitgawe soos per balansstaat dan soveelduisend Rand is. Dan werk ek sommer vir myself uit dat die manne vir die 4 ure maklik dubbel van 'n gesoute advokaat verdien. Maar weereens die syfers word hermeties dig gehou. En hoekom wil die bestuur so graag omskakel? Want dis net hulle wat dit dryf. Die boeredirekteure is gewoon nie bekend met al die implikasies. So word hulle koppe gesmokkel. Die bestuur daarenteen dink in terme van Rand en Sent in sy sak en aansien in die samelewing.
Georg
Ek stem saam met Terra, die koeel is deur die kerk. As die eie lede nie die ko-op ondersteun nie, is die geveg hopeloos. Dis baie jammer! Jy sal sien oor 10 jaar sal al die boere wat nou lede is, beweer hulle het teen die voorstel gestem. Net soos hulle in die politiek beweer hulle het nooit vir De Klerk ondersteun nie!
Spyt kom altyd te laat!
Frank
Wat ek nie van die lewe kan verstaan nie is dat enkele mense die insig en durf het om ‘n saak raak te sien en die leiding te neem en dan moet hulle hulle agterente af spook om die res te probeer oortuig om in hulle eie belang op te tree – al is dit net om nee te stem. Beteken dit dat die grootste gedeelte van die volk te dom, te aan die slaap, te gevrek en te slap is om die geringste opoffering te maak om hulle eie saak te red of te bevorder?
Sterkte met jou stryd.
Hier by ons was Ou Tante Koba (OTK) nooit regtig ‘n toonbeeld van diens en wakkerheid nie, maar sedert dit Afgri geword het, is dit nog erger. Net een ding maak vir hulle saak en dit is die prys van hulle aandele. Diens aan die boer geniet geen prioriteit nie en hulle skep die indruk dat hulle dink jy moet maar net te dankbaar wees dat hulle darem nog plek-plek sukkelwinkeltjies oophou en nie net op hulle karweiwerk konsentreer nie.
Was verlede week by drie takke om eenvoudige Gramoxone te probeer koop vir voorbrande, maar hulle het nie voorraad nie en gee bloot nie om nie.
As jy eendag iewers in die koerant lees van ‘n Dom Boer wat ‘n gevrekte, ongevoelige Afgri-klerk of -bestuurder vermoor het, hê dan tog maar ‘n bietjie simpatie met my.
Dom Boer
Die uiteindelike doel van oorskakeling na ‘n Mpy is om mettertyd die bates van die ko-op, dus die boere se jarelange spaargeld (eintlik jou pensioen) te stroop. Die boere lede word met n kaal dop gelaat wat vir hom geen finansiele voordeel inhou nie.
Butch praat hier van WPK , Sasko en ander, eens magtige boere organisasies wat die graanboere se sake behartig het van ploeg en plant tot brood aflewer. Nou is Pioneer en Kaap Agri maatskappye in beheer van PSG en al wat tel, is aandeelhouers se dividende.
KWV is na 100 jaar nou finaal van sy boere lede gestroop. Die jongste is dat PSG en Remgro reeds die beherende belang in KWV maatskappye besit en nou n aanbod gemaak het om die totale aandeelhouding uit te koop.
Die geskiedenis van alle landbou ko-ops is presies dieselfde: die boere verloor beheer en daar is geen voordeel vir hom in enige van die maatskappye nie.
Doen alles wat jy moontlik kan om die oorskakeling na maatskappye tot die bitter einde te beveg
Mias Adams
Mias, wat my pla is dat hierdie buite - beleggers vir donkiejare nooit in die Landbou belang gestel het nie en nooit bygedra het tot die uitbreiding daarvan nie. Hulle sien nou dat weens te min kos in die toekoms daar geld te maak is uit die Landbou - en nou klim hulle met mag in om "oor te neem". Daar bly inderdaad net 'n dop oor as hulle die entiteite klaar gestroop het, maar dalk maak ek darem nog in die toekoms iets uit my aandele. Dit stuit my teen die bors, want dit was nooit die idee nie. Die idee was inderdaad dat die Koop my moes help om produksiemiddele teen die laagste pryse te bekom. Dis lankal nie meer die geval nie en die "Koop" is nou duurder as die ander verskaffers.
Sulke vreemde transaksies kom byt jou altyd na die tyd.
Butch