‘n Wes-Kaapse groenteboer sê sy plaaslike landbouverenging kan gaan doppies blaas nadat hy twee jaar lank vergderings bygewoon het, maar nie genooi is om aan te sluit nie.
Mnr. Tyron Williams het deelgeneem aan ‘n debat oor die georganiseerde landbou op die gespreksforum. “So, al wil ons baie graag betrokke raak by die georganiseerde landbou, weet ons waar ons nie welkom is nie en ek sien dus ook nie kans om my tyd te mors nie.”
Dié debat oor die georganiseerde landbou het ontstaan nadat berig is dat Agri Mpumalanga om vrywillig likwidasie aansoek gedoen het. Hier is van die skrywes op die gespreksforum daaroor:
Andre Geldenhuys skryf:
Sien nou uit 'n mediaverklaring van die TLU dat Agri Mpumalanga in vrywillige likwidasie gaan. Wat 'n hartseerdag dat so-iets moet gebeur op 'n tydstip in ons geskiedenis waar ons as boere die georganiseerde landbou so nodig het, of dit nou AgriSA/TLU of wie ookal is.
Wil die vraag vra sonder enige motiewe of bybedoelings of dat ek enige navorsing daaroor gedoen het of betekenisvolle kennis het: Is die ketting tussen ‘n lid van die georganiseerde landbou en die topstruktuur nie té lank nie? Is die belange van die verskillende streke só verskillend dat provinsiale strukture (en die koste om hulle te onderhou) werklik nodig is?
Speenkalf skryf:
Ek sal uiters graag wil sien dat die forum debat voer oor hierdie punt wat jy hier aanroer. Ek sit sommer hier en dink aan dinge wat nie vir my sin maak nie.
Dit gaan nie net oor die provinsiale strukture nie maar oor die bestaan van drie organisasies in die landbou Agri SA, TLU, Nafu.
Verder moet alle ander bedryfsorganisasies soos, MPO, RPO, Graan SA noem hulle maar op by beide Agri en TLU affilieer alles jaag kostes op.
As ek kyk na die organisasies se missie is daar geen wenslike verskil nie.
Kommunikasie is nie wat dit veronderstel is om te wees nie...ons kry verskillende seine van verskillende organisasies.
Wat my meer as enige iets pla is die feit dat ons nie hier op hierdie forum geen reaksie kry oor Georganiseerde Landbou nie.
Dit laat my wonder is ons so onbetrokke omdat ons bang is ons kan so ekstra bietjie tyd moet opoffer. Is dit altyd die ander ouens wat hulle tyd moet opoffer: Die ander ouens wat die saak moet dryf.
Is ons werklik so ver van die topbestuur af...of doen ons dit uitvry wil deur ons te weerhou daarvan om ons opinie te lig op 'n openbare forum.
Ons kan vinnig vir Landbouweekblad 'n briefie in die pos goei en kla dat X en Y te veel by die Minsters en Prez lê.. maar van bydrae lewer, aikona.
Ek het nie 'n saak aan watter een van die Organisasies mense behoort nie, feite is ons moet begin praat oor die goed. Dit affekteer elke ou wat hom/haarself as 'n landbouer sien binne Suid-Afrika.
As ons net kyk wat dit ons finansieel uit die sakke jaag om twee organisasies in stand te hou ens moet ons regtig begin wonder is dit sinvol...
Tyron Williams skryf:
Ons het probeer aansluit by Agri Wes-Kaap, maar as individu moes ons by ons plaaslike landbouvereniging aansluit en daardeur lid word van Agri Wes-Kaap. In ons geval is ons klein groenteboere (alhoewel sekeres sal se dat 9 ha intensiewe losblaar slaai, of in Engels "fancy leaf lettuce/designer lettuce" nie so klein is nie). Elk geval, ons plaaslike landbouvereniging is verteenwoordigend van kommersiële koring en melkboere. Nou om aan die geagte menere se vereniging te behoort, moes ons eers ‘n paar vergaderings bywoon totdat een van hulle besluit het dit is tyd om ons te nomineer om lid te word van hulle vereniging. Ná twee jaar wat ons meer vergaderings bygewoon het as hul eie lede en nog steeds nie genomineer is nie, het ons eenvoudig besluit hulle kan loop doppies blaas. (Ironies was ek op skool met meeste van die lede, so ek is nie ‘n vreemdeling nie, ek boer maar net met groente.)
Ek is nie lui om my tyd op te offer nie. Ek is voorsitter van ons inwonersvereniging, dien in twee kommitees van twee skietklubs waaraan ek behoort, is ‘n verteenwoordiger van ons gemeenskap op die plaaslike Wyksforum van die Munisipaliteit en is lid van die Moniteringskommitee op die gebruik van Rioolslyk. Maar ons is nie waardig vir die plaaslike landbouvereniging nie.
Soos ek nou die dag vir ‘n ou gese het toe hy vir my se ons is eintlik kleintjies: As mens kyk na inkomste per ha, maak van die ouens R5000 tot R7000 per ha op hul grond met koring per jaar. Ek draai tussen R20 000 en R30 000 om per ha per maand! Maar ons is nie goed genoeg nie.
So, al wil ons baie graag betrokke raak met die georganiseerde landbou, weet ons waar ons nie welkom is nie en ek sien dus ook nie kans om my tyd te mors nie. Ons sal dus net op ons eie aangaan. Tragies is daar in ons area drie groterige groenteboere, vier intensiewe tonnelboere en seker omtrent ses of sewe kwekerye. Ons kan nou probeer om ‘n vereniging van ons eie aan die gang te kry, maar met die hoeveelheid rompslomp wat dit inhou om by Agri Wes-Kaap as vereniging te stig, konsentreer ek eerder op my boerdery.
Andre Geldenhuys skryf:
Dis vir my skrikwekkend om jou skrywe te moet lees, en as dit waar is (en ek het geen rede om jou nie te glo nie!) is dit 'n klad op die naam van jou plaaslike landbouvereniging en ek glo dat die bestuur deur Agri Wes-Kaap aangespreek behoort te word!! Ekself behoort aan die Volop Landbouvereniging wat affilieer by Agri Noord-Kaap en ons nooi enige nuwe boer van wie ons in ons omgewing hoor onmiddelik persoonlik uit om by ons aan te sluit. En al is jy nie lid nie, is jy nog steeds welkom om die vergaderings as 'n waarnemer by te woon - jy kan net nie stem oor enige aangeleentheid nie.
AgriSA verteenwoordig die belange van KOMMERSIëLE boere, of jy nou groot of klein of wit, swart of pienk of wat ookal is. In tye waar ons as landbouers moet saamstaan kan ons nie bekostig om een enkele potensiële lid te verloor nie.
29 Julie 2010
Tyron jammer om van jou situasie te hoor, maar soos alle sake in die lewe waar mense verskil het hierdie saak ook 3 kante. Jou kant, hulle kant en die regte kant. Ek neem aan jy het om 'n rede probeer aansluit by die Landbouvereniging en jy het die waarde wat Agri Weskaap/Georganiseerde Landbou nagevors. Dit is onaanvaarbaar dat jy nie voorgestel is nie, maar aan die ander kant as jy so graag wil aansluit gaan gesels weer met die Voorsitter. Konfronteer hom met jou feite. Jy sien dit is hoekom ons "boere" nie kan saamstaan nie want daar is genoeg ouens wat so houding het dat "as hulle nie na my toe kom nie gaan ek nie na hulle toe nie". Moet asseblief nie in daardie strik trap nie. As jy regtig iets wil hê werk daarvoor. Ek dink jy het so gereeld vergaderings bygewoon die ouens het jou al aanvaar as 'n lid. Jy moet eintlik gelukkig wees dat jy kon vergaderings bywoon sonder om ledegeld te betaal. Dit werk maar omtrent oral so dat iemand eers so 3 vergaderings moet bywoon sodat die lede eers die nuwe lid kan "uitcheck". As jy mooi oplet sal jy sien in die boerdey is daar ook maar "Fly by nights" So gaan praat weer met die voorsitter, onthou ons almal maak maar foute een of ander tyd, party maak net groter foute...Sterkte.
Die probleem met georganiseerde landbou in die land is dat ons lede ons gat af werk om dit aan die gang te hou, maar dat daar baie ander is wat die voordele geniet wat die werklike opbetaalde lede beding. Ons het onlangs hier in die Suid kaap droogtehulp gekry. Ek het hier ouens sien toustaan vir droogtehulp wat ek nooit besef het boere is nie wat nog te sê van aan 'n Landbouvereniging behoort. Die droogte hulp is deels deur Agri Weskaap en die DA regering (Min. Gerhard van Rensburg) beding neem ek aan. Tog het omtrent alle boere gekry,lid of nie. Daar is al baie bottels wyn uitgedrink rondom die probleem, maar nog nie 'n oplossing gekry nie. So wat bly oor , ons lede moet maar die nie lede motiveer. As hy regtig nie wil lid word nie,intimideer hom. Rugryer is 'n goeie naam om mee te begin. Onthou daar is 3 soorte boere. 1.Die wat dinge laat gebeur. 2.Die wat kyk wat gebeur. 3.Die wat wonder wat het gebeur. Bly maar by die eerstes, dit werk.
Hi Henry May
Ek wil net graag twee vinnige kommentare lewer:
Jy se: "sien dit is hoekom ons "boere" nie kan saamstaan nie want daar is genoeg ouens wat so houding het dat "as hulle nie na my toe kom nie gaan ek nie na hulle toe nie".
Ons het na hulle toe gegaan, hulle nie na ons toe nie. Ons het vir amper twee jaar vergaderings bygewoon, maar is nie genomineer nie, so ons het hard gewerk daarvoor.
Tweedens: As jy my skrywes lees, sal jy sien ek is glad nie skaam om my deel te doen vir my gemeenskap nie. Ek is nie een van die ander wat wag dat iets vir ons gedoen moet word nie.
Elk geval, net n bietjie terugvoering:
Baie dankie aan die terugvoering wat ek gekry het van verskillende oorde af, veral van Gawie af. Ek waardeer dit. Ek het in die tussentyd met van die ander boere in ons omgewing gesels en ons gaan probeer om ons eie landbouvereniging te stig wat na ons eie behoeftes sal kan omsien. As dit aan die gang is sal ons die pad vorentoe bekyk en dalk weer kom aanklop vir hulp om by die georganiseerde liggame aan te sluit.
Baie dankie!
Ai Tyron daar trap jy in die gat.D is mos ons Suid Afrikaners se probleem. As ons nie saamstem nie dan stig ons af.
Dit help nie julle het net vergaderings bygewoon nie, het julle gaan vra wat gaan aan? Soos ek hier bo geskryf het, mense maak foute. Nee man jy moet 'n Chuck Norris houding hê: Neem die perd tot by die water en MAAK hom drink... Ek dink nie jy werk nie hard in die gemeenskap nie, dis hoekom ek verbaas is dat jy nie die bestuur van die Landbouvereniging aangevat het nie. Maar ons sal ook nie weet nie, want soos gesê 'n saak het 3 kante.
Namens wie gaan julle wat doen? Onthou in die bedryf moet 'n organisasie getalle hê. Ons het al klaar te veel Landbou organisasies. Dis hoekom ons nêrens kom nie. Daar is reeds 'n wiel julle moet hom net benut. Kontak weer Agri-Weskaap.
Groete
Ai boere, daar is krisis op krisis in die landbou en oral wat golf-op-golf op ons afgespoel kom. Daar is aardverwarming, watertekort, regeringsbeleid wat onvriendelik is, noem maar op. Ons boereverenigings behoort elke moontlik boer as lid op te slurp om die bedingingsmag groter te maak. Die probleme wat ons regtig bedreig is universeer van aard, maak nie saak waarmee jy boer nie. Laat ons hande vat, probleme begin en eindig nie net op jou eie plaas nie. Kom ons staan kollektief saam en vat terug wat ons s'n is!
Tyron , kontak my asb ek sal jou help ,
ek verteenwoordig Stellenbosch by Agri Weskaap
Gawie 082 577 6991