Ek huur al sedert my jongboerdae altyd iewers grond. Die volgende faktore het 'n groot invloed op die huursom ter sprake, maar die beginsel is egter dat die transaksie vir albei partye gunstig moet wees - anders gaan die verhuring nie volhoubaar wees nie.
1) By besproeiingsgrond is dit belangrik om te besluit wie vir die water betaal. (Wanneer daar waterregte uit 'n skema betaalbaar is, betaal die huurder gewoonlik vir die water).
2) Waar die water uit 'n boorgat gepomp word, moet die partye besluit wat kry die huurder vir die huurgeld waarop julle ooreenkom. Gewoonlik is dit grond, besproeiingstoerusting, boorgatpomp, kragpunt, ondergrondse pype en krane, omheining (Wat gebeur as dieselfde kragpunt ook aan die opstal en werkershuise en werkswinkel van elektriese krag voorsien?)
3) Wie doen die onderhoud en herstel aan besproeiingstoerusting? Gewoonlik kry die huurder die stelsel in "Goeie werkende toestand" en moet hy dit so onderhou. Maar, as die pomp uitbrand en dit dus onherstelbaar breek, moet die verhuurder dit vervang. (byvoorbeeld as die pomp 6 maande voor die verstryking van die huurtermyn uitbrand, kan dit nie van die huurder verwag word om die ou pomp met 'n nuwe te vervang nie)
4) Die omheining moet veewerend wees, anders kom daar moeilikheid as diere die huurder se gewasse kom vreet. Dus moet die verhuurder die lande afkamp sodat daar nie onmin kan kom met vee in die lande nie.
5) Die huurtermyn moet minstens 5 jaar wees.
6) Die eskalasie persentasie op die aanvanklike huursom moet binne die inflasie teikens wees - byvoorbeeld 4% tot 5% vehoging van die huursom per jaar.
7) Die metode van huursom bepaling kan op verskillende formules bereken word en vergelyk dan die opsies.
* Byvoorbeeld ROI (Return on Investment) van 5% tot 8% van die waarde van die grond - sou die grond R60 000 per hektaar werd wees (Markwaarde vir soortgelyke besproeiingsgrond in die omgewing, in die onlangse verlede verhandel) dan is metode 1 se huursom tussen R3 000 en R4 800 per hektaar per jaar. En dan moet die huurder die water betaal en die onderhoud op toerusting doen.
* Deel van die oes. Sou die produksie van die lusern 15 ton per hektaar per jaar wees en die markwaarde R1 600 per ton. Dan is die oes se bruto waarde mos = R24 000 per ha per jaar. Die huurder moet dan eers vir sy produksiekoste vergoed word. Huurgeld, water, sny, hark en baal of weiregte per ha. Die "wins” word dan tussen die grondeienaar en die huurder verdeel 50/50. Nou kom ons maak 'n paar aannames. Produksiekoste van lusern - ingesluit vestigingskoste is sowat 50% van die verkoopsprys van R1 600 per ton = R800. Trek huurgeld af van sowat R3 500 per ha = R233 per ton lusern = R800 - R233 = R567 per ton lusern. x 15 ton produksie = R8 505 netto wins per ha lusern. Gedeel 50/50 tussen die grondeienaar en die deelboer = R4 252 per ha elk.
* Waarde van weiregte op besproeiingsgrond - wei met ossies wat gemiddeld 20 kg gewig per maand toeneem (oor 12 maande) en plaas 'n waarde van R15 per kg vir die gewigstoename - sowat die markprys vir speenkalwers. = 20 x R15 = R300 per ossie per maand. Die drakrag behoort so 5 ossies per hektaar te wees. dus R300 x 5 = R1 500 per maand x 12 maande = R18 000 per hektaar per jaar. Maar die huurder dra mos weer die produksiekoste van die raaigras wat gevestig en bemes en besproei moet word. Trek af die produksiekoste van die weiding en die rente op die uitleg van die ossis se finansiering. Die rente op 'n R2 500 ossie is sowat R300 per ossie per jaar X 5 ossies per ha = R1 500. Die produksiekoste van die weiding kan maklik in die omgewing van R9 600 per ha per jaar wees. Dus R1 500 + R9 600 = R11 100. Dan laat dit jou weer met R6 900/2 = R3 450 per ha aan elke party.
* OPSOMMING - So kan jy aangaan en verskillende moontlike gebruike op die grond gaan kwantifiseer. En die opsomming aan die einde van die oefening is - ROI = R3 900 per hektaar, deel van die oes = R4 252 per ha, weiregte = R3 450 per ha. Gemiddeld is die geskatte haalbare huur wat betaal kan word en wat 'n billike opbrengs aan die "Sleeping partner" gee = R3 867 per hektaar huurgeld alleen. Dan betaal die huurder die ander produksiekoste self.
Hoop dit help perspektief gee. ek weet nie wat die installasiekoste van kantrol of floppies is nie - verskaffers sal moet kwoteer.
8 Maart 2010