Agriwiki

Trekkerwerf

Hunter & Jagter

Farming SA

Kan rosyne nie oes voor taks-datum

E-forum
User offline. Last seen 2 dae 6 ure ago. Van lyn af
Aangesluit: 7 Jul 2009
Inskrywings:

Andre Geldenhuys rugbreek@gmail.com skryf op die gesprekforum:

Met die onlangse mini-vloed wat ons beleef het is my normale toegangsroete vir amper 2 km ver onder water en sal ek die pad vir seker nog minstens 'n maand of twee nie kan gebruik nie. Dit beteken ook dat ek my rosyntjie-oes nie voor maandeinde (en belasting-jaareinde) kan bemark nie. Vanuit 'n belastingoogpunt sal dit vir my beter wees om die inkomste in die huidige boekjaar te verklaar. Hoe gaan ek te werk om dit te doen? Maak ek 'n skatting van die waarde en verklaar dit as voorraad op hande? En as dit die manier is en ek skat verkeerd (sal mos nie presies kan skat nie), hoe maak ek die regstelling in die volgende jaar?
 
Pieter Esterhuizen antwoord: 
Teoreties moet alle boere klaar ge-oesde produkte (hetsy graan, vrugte, wol, ens.) op jaareinde vir belastingdoeleindes toon as voorraad teen die laagste van kosprys of netto realiseerbare waarde.
 
Normaalweg sal mens hoop kosprys is laer as netto realiseerbare waarde (NRW=verkoopprys min bemarkingskoste/vervoer, ens). Kosprys (KP) in 'n boerdery se geval is natuurlik nou nie so maklik bepaalbaar nie (en hier begin jou belastingbeplanningsmoontlikhede, m.a.w. bepaling van kosprys en NRW). KP is veronderstel om te wees, die koste om die produk te kry waar hy is, m.a.w. baie dieselfde situasie as in 'n vervaardigingsbesigheid. Alles wat dit jou kos om daardie produk markgereed te kry. Wat die teoretiese ouens natuurlik nie besef het nie is dat boerdery eintlik so bietjie anders is as vervaardiging!
 
Jy moet dus jou rosyne se kosprys bereken as die som van, o.a. jou totale insetkoste op hierdie jaar se oes, die totale koste van jou boord/wingerd afgeskryf oor die leeftyd daarvan, jou vervoerkoste, jou plukkoste, ens., ens., ens. Kan jy dink hoe lekker kan mens rondspeel daarmee?!  Dink nou aan wol en graan, ens!
 
Vanselfsprekend is jou NRW dieselfde tipe storie, maar is dit bietjie makliker vir SARS om na te gaan, alhoewel elke boerdery se NRW ten minste bietjie sal verskil van mekaar, afhangend van bemarkings- en vervoerkostes, ens.
 
Let darem ook op die waarskuwing: SARS het wel maniere om redelike kospryse in breë terme te kan nagaan, veral omrede koöperasies nogal lief is om gemiddelde insetkostes vir elke produk te bereken. Wys jou net waar kry SARS al sy inligting!
 
Ek sou ook nie voorstel jy moet nou op hol gaan hieroor nie. As jou rekenmeester enigsins sy sout werd is, is dit regtig nie moeilik om 'n redelike skatting te maak (wat jy kan regverdig by SARS) en steeds baie lekker te beplan vir belastingdoeleindes. As jou rekenmeester sê dis onnodig om nou so 'n klomp goed te gaan staan en doen, dank hom af en kry iemand anders. Jy mag dalk vandag dit nie nodig hê nie, maar dink nou net wat sou die effek wees ná so 30 of 40 jaar se boerderyverliese en eise/uitgawes en beplanning (of tekort daaraan) en so aan.
 
Wat jou laaste vraag betref (oor die nuwe jaar se regstelling). Onthou in die huidige jaar wys jy nou net voorraad, volgende jaar wys jy die beginvoorraad (as aftrekking) en dan jou werklike verkope (as verkope). Die verskil is wins/verlies. Hierdie jaar is jou wins/vevrlies die verskil tussen jou eindvoorraad en insetkostes.
 
Ek wou nou nie 'n te lang storie hiervan maak nie, maar hoop bogenoemde gee jou darem 'n idee.
 
Pieter Esterhuizen is ‘n geoktrooieerde rekenmeester.
 
24 Februarie 2010
0
 
 

Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)

Jou e-pos adres sal nie vertoon word nie.