Koelkamer uit vergange se dae

Janbez
User offline. Last seen 2 dae 5 ure ago. Van lyn af
Aangesluit: 3 Apr 2009
Inskrywings:

Wie onthou nog die koelkamer, of “safe” uit vergange se dae?

Helen du Toit het ‘n die volgende navraag oor outydse koelkamers (die “safe”) op landbou.com gedoen. Sy skryf: Ek is op soek na ‘n bouplan/spesifikasie vir ’n outydse koelkamer. Dié soort met houtskool wat dan nat gehou word. Die grootte wat ek ingedagte het is ongeveer 2mx2mx2m. Dit is vir die berging van vars produkte.
Kan iemand dalk help?

Landbouweekblad se bibliotekaresse, Vossie de Vos, het die volgende briewe daaroor opgespoor, wat in die LBW-uitgawe van 11 Desember 1998 gepubliseer is.

H.J. DUMINY, Posbus 211, Heidelberg, Kaap, skryf.
Ek lees met belangstelling Johan Pansegrouw se brief "Wie ken 'n 'safe?"' (LW, 13 November). Nou ja, die ding ken ek goed: Dit was algemeen in gebruik in hierdie omgewing. In die oorlogsjare het ek talle van hulle gemaak vir mense hier rond. Die algemene mate was 2 voet 6 duim x 3 voet hoog. Die dak is van sesduim-vloerplanke gemaak.

Die sif was nie van ogiesdraad nie, maar 'n plaatmetaalsif met gaatjies van ongeveer 1 mm. Aan die voorkant van die "safe" was 'n groot deur wat die ophang van die vleis vergemaklik het. Daar was ook 'n "safe" met pote wat dan sy plek op die agterstoep gevind het as dit daar lekker koel was. Lugsirkulasie was baie belangrik. Bate ander produkte is ook in die "safe" gebêre.

Dit was ongeveer teen die einde van die oorlog dat twee dinge aan die "safe" verander bet. Die Afrikaner het onder meer van sy taal begin bewus word. Die "safe" het nou 'n vleiskas geword en die plaattnetaalsif was nie meer verkrygbaar nie, en is deur ogiesdraad vervang.

Mnr. Pansegrouw soek ook interessanthede uit die verlede. Ek onthou hoe Jannie Smuts se oorlogskabinet verskeie besparingsinaatreels getref het, soos die verbod op die verkoop van wit meel (broodmeel), die koeponstolsel vir brandstof on die verbod op die verkoop van vleisprodukte op Woensdae. Gesien die eonvoudige plaaslewe van toentertyd, was melktert en koek met Kersfees en Nuwejaarsdag eenvoudig ondenkbaar. Dit bet die "organdie-siffte" tot gevolg gehad. Die vorm van die siffie was soos 'n langwerpige troggie - oop aan die onderkant met die "organdie" styf oor die opening getrek. Aan die binnekant was twee spaantjies om die meel te roer. Op dié manier is die fynste fynmeel verkry.

Die brandstofkoepons bet natuurlik interessante smokkelary en baasliegters opgelewer. Met die vleislose Woensdae het ons nie raad gehad nie. Ons jong manne het toe maar 'n grappie daaroor gemaak: As 'n meisie offens skraal van been was, bet ons gese sy het Woensdag-beentjies.

J.C. VAN DER SPUY, Moerbeilaan 96, Wonderboom, skryf:
'n "Safe" is 'n vleiskas met 'n houtraam. Dit is oorgetrek met gaasdraad om vlieë uit te hou. Ogiesdraad kon oor die gaasdraad kom vir versterking. In die koeler Hoëveldgebiede is vleis goed ingesout met fyngemaalde sout en in die "safe " opgehang. Die "safe" is dag en nag op'n koel plek gehang, bv. in 'n goed geventileerde rondawel of onder 'n goeie koelteboom.

In warmer gebiede is vleis anders bewaar. Die vleis is saans ná sononder in die "safe" gehang om of to koel. Soggens voor sonop is dit uitgehaal, in 'n skottel gepak on met 'n doek bedek. Dan kom 'n paar lae koerantpapier en'n kombers of twee bo-oor. Dit word in die koelste plek in die huis, verkieslik op'n sementvloer, gebêre.

VOLGORDE
Mnr. Pansegrouw wil ook weet van die volgorde waarin vleis gaargemaak is. Die afval is eerste gekook omdatdit die bederfbaarste is. Die ander vleis is ingesout. Ná die afval is die rugstring en nek gebruik omdat die murg maklik bederf. 'n Braaiboud was, warm of koud, die geliefkoosde gereg op Sondae. Daarna is die blaaie gebruik. Ribbes kon vir laaste bewaar word omdat dit dun is en droog word. Dit kon gebraai of met kerrie gaargemaak word.

Die ronde, seningrige spier in 'n bees se boud was as braaibiltong bekend. Dit is in 'n ysterpot gebraai.

18 Augustus 2010

4.6
 
 
Onbekende besoeker 

Baie dankie Vossie vir die opdiep werk en inligting! Ek gaan dop hou en sien of daar nog inligting vorendag kom. Ek soek eintilk na inligting vir so n inloop 'safe' om dit nou so te stel. Kom ons sien of daar nog mense is met hierdie tipe inligting. Beste groete, Helen

Onbekende besoeker 

Ek dink jy verwys na 'n "cooler". Die mure is hol (so 100mm) gebou en tussen elke baksteen is ongeveer 'n derde baksteenwydte opening gelaat. Die holte tussen die mure is dan met Kooks (uitgebrande steenkool) gevul. Gewoonlik 'n betondak gekry. Perforeerde pyp is bo in die muur geplaas en water drup dan deur dit geventileerde kooks. Verdamping koel dan die hele kamer heerlik af.

Dom Boer
User offline. Last seen 1 year 23 weke ago. Van lyn af
Aangesluit: 2 Nov 2009
Inskrywings:

Skitterende storie!

Henry Mey 

Hi, die inloop "cooler en 'n "safe" is twee verskillende goed. Ek het ondervinding van altwee. Die beskrywing van die "safe" in die brief van Mnr. Duminy is die een wat ek ook ken en wat ons gebruik het. Nadat ons 'n parrafien vrieskas kon bekostig het die vleiskas 'n biltongdroeër geword.
Op Trawal waar ons met uitvoergroente geboer het, het ons so inloop koeler gebou. Ons het so bietjie moderne tegnologie gebruik. Die mates was so 4m L x 2m W x 2,4m H. Daar is pale geplant, so 1m uitmekaar, en binne en buite is dit oorgetrek met 20mm sifdraad versterk met staaldraad. Die spasie tusen die draad is gevul met steenkool-as of soos hier bo genoem, Kooks. Dit word bietjie gestamp van bo of "ingeskud". Bo-op die "muur" het ons twee drupperpype langs mekaar gelê. Die druppers is 50cm uitmekaar en die pype word dan so geplaas dat daar elke 25cm 'n drupper is. Gewone pyp met gaatjies werk ook maar dan kry jy 'n klomp water naby die inlaat en min water verder van die inlaat. Selfkompenserende druppers werk die beste. Ons het 'n gewone asbes dak opgesit en bo-op dit 'n dik laag Fluitjies riete. In die een 2 meter muur teenoor die deur was daar 'n waaier wat die lug uit die "gebou" suig. So word die lug van buite deur die nat muur gesuig en koel dan af. 'n Gewone hout deur is as deur gebruik. Die temperatuur binne was gewoonlik so 7 na 10 grade koeler as buite temperatuur. Die drupper pyp was gekoppel aan 'n tenkie wat bo-op die dak gestaan het en die water toevoer is gereguleer met 'n kraan sodat die "muur" tot onder nat bly. Ek neem aan 'n mens kan ander materiaal ook gebruik, maar ons het maar gebruik wat daar was op die plaas. Ons het die groente daar gestoor wat van die lande gekom het totdat dit verpak is en in die regte koelkamer gepak is.
Lekker bou
groete

CP van der Merwe 

Ek het nog so 'n "inloop safe" op die plaas. Word ongelukkig nie meer gebruik nie. Het die bou inligting. Dink net hoeveel krag en geld ons kan spaar deur weer die ou metodes te gebruik!!

Janbez
User offline. Last seen 2 dae 5 ure ago. Van lyn af
Aangesluit: 3 Apr 2009
Inskrywings:

CP,
Skryf asb. vir ons daaroor. Dit lyk asof die onderwerp heelwat belangstelling uitlok.
Jan Bez

gwen Coetzee 

Ek weet hoe het die kas gelyk maar wil nie landwyd probeer verduidelik nie (en my naam wielie walie maak nie). As Helen miskien my e-pos by julle kan kry dan sal ek een-op-een miskien vir haar verduidelik. Groete Gwen

Onbekende besoeker 

Ek is nou so bly ek het op hierdie onderwerp afgekom! Ek het grootgeword met 'n "koeler" op die plaas naby Grootfontein in die ou Suidwes waar dit baie warm kon word. Ek onthou hoe lekker koel dit altyd daarbinne was en elke dag is die vars melk van die kraal af daar gebere. My ma het ook nog self die vars melk verroom en self botter gemaak. Ooo... daai vars room en biltong was baie dae ons stapelvoedsel! (Ek onthou nog ek was baie verontwaardig toe ek in 'n toets skryf dat vleis ons stapelvoedsel is en die juffrou dit verkeerd merk!)

Ek dreig nou al geruime tyd om vir my weer 'n koeler te bou om my eie vars groente en vrugte in te bere. Sommer ook die gemmerbier vir kersfees, want dis ook iets wat ek weer begin maak het soos van ouds.

Ons koeler was rond soos 'n rondawel en dit was soos die persoon hierbo verduidelik het met bakstene wat 'n entjie uitmekaar geplaas, is gebou. Dit het 'n konkryt dak gehad en dit het onder groot bome in die skaduwee gestaan. Dit is van bo af natgemaak met water en die windjie het gesorg dat dit heerlik koel bly daar binne, winter en somer.

Gesien in die lig van Eskom wat alreeds weer voorbrand maak vir 'n kragtekort en die kragpryse wat alweer drasties gaan styg hierdie jaar, dink ek ek moet so gou as moontlik begin met die bou van my koeler!

Groete, Santi

johann Botha 

Het iemand al die planne vir die safe?

Sakkie 

Ja - planne vir 'n koeler, nie 'n "safe" nie, dis 2 verskillende goed soos hierbo al genoem. Ek het 'n plan soos wat ek myne gaan bou, maar weet nie hoe om dit hier op te sit nie. Bel my maar: 0825 789 782

Dis 'n klinkersteen gebou en werk op 'n baie basise prinsiep: koue lug sak af en warm lug styg op. Die koeler waarmee ek grootgeword het, het baie goed gewerk, maar met 'n paar veranderings en vandag se tegnologie soos die drupperpyp wat reeds deur iemand vroeer genoem word en 'n "whirly bird" te gebruik kan dit beter werk. Die muur word van 2 rye klinker stene gebou met 'n 110mm spasie ("cavity") tussen in wat met kooks (jy kan dit miskien by steenoonde kry of langs die spoorlyn optel) gevul word. Kooks lyk soos 'n verbrande/gesmelte stuk kly/klip en is redelik lig. Die hele buitenste muur was so gebou dat daar 'n 1/3 van 'n steen opening tussen elke steen was. Die binnste muur was solied behalwe vir die heel onderste en heel boonste ry stene. Daar was ongeveer 'n 25mm spasie tussen elke steen gelaat. Dit het 'n beton dak op gehad met 'n hoër rand rondom sodat dit as 'n dammetjie kon dien. Daar was klein gaatjies deur die beton reg bo die kooks. Die dam bo-op die dak is met n kraan 2 keer/dag volgemaak en die gootjies (as ek moes skat, +- 5mm in deursnit) het die water stadig laat deurloop sodat die kooks nat kon word. Dit veroorsaak dat die lug rondom die kooks afkoel en afsak. Binne die koeler styg warm lug op en ontsnap deur die 25mm openinge in die boonste ry stene wat weer koel lug by die onderste 25mm openinge in suig. Ons het 'n rondawel koeler gehad wat goed gewerk aangesien die windserkulasie aan die buitekant van 'n ronde gebou beter is as 'n reghoekige gebou. As daar 'n ligte windjie roer, kry jy 'n groter area nat kook wat kan afkoel agv die luggie. 'n Probleem net met 'n ronde gebou is om die vormwerk te doen vir die beton dak en dis 'n biekie moeilikker om te bou. Dit het natuurlik onder die bome gestaan, maar die gaatjies het gereeld verstop - skadunet bo-oor sou die andwoord gewees het, maar ons het nog koelers gebruik, so skadunet! - wat was dit?

Die een wat ek wil bou sal so 'n biekie anders lyk. Die buitenste muur sal ek nie heeltemal vol gate bou nie. Ek sal slegs die boonste 1/2te of self 'n 1/3de vol gate bou. Ek sal ook nie die 25mm gate bo in die binneste ry stene bou nie - ek sal dit vervang met 'n "whirly bird" in die dak. Die gate deur die blad om die kooks nat te maak sal ek ook vervang met die besproeiings driplyne soos vermeld vroeer al. As die "whirly" draai, sal die lug in die koeler nie net sirkuleer agv die natuurlikke afkoel-en-warm raak proses nie, maar die lug sal effens gesuig word en dit sal die temperatuur verder verlaag. Die rede hoekom ek nie die hele buitenste muur vol gate sal bou nie is omdat ek die lug wat al reeds begin afkoel en sak nie wil in kontak bring met ander warmer lug buite nie. Die lug buite die koeler is van bo tot onder dieselfde temperatuur, maar waar die buitenste muur solied gebou word, kom hierdie warmer lug nie met die reeds afgekoelde lug in aanraking nie en kan dit nog verder afkoel. Ek sal ook die dam op die dak vol water maak, maar sonder die gaatjies deur die beton. As beton nat is, is dit koel - beter isolasie. Die deur sal en ook maar seker maak dat hy goet geisoleerd is. Die binnekant van die koeler moet met 'n sterk sement/sand mengsel gepleister word ter wille van die hoë vog en higiëhene. Die muur kan met 'n moswerende verf of produk behandel word. Die afvoergeut onder die kooks moet laer as die vloer wees en teen 'n val wat veroorsaak dat die water kan wegloop. Die koeler kan dan ook maklik binne uitgewas word.

JAAA, dit is 'n paar rand se werk en dit kos maar 'n biekie kopkrap. Dit is ook nie 'n yskas nie, maar werk baie goed en wat van as die KRAG te duur of op raak - wat dan? Soos dit nou gaan, is dit al klaar so. Die feit dat ons gerieflik wil leef en ook wil hê wat ander het, veroorsaak dat ons 'n groot meulsteen om ons nek sit genoemd: SKULD wat veroorsaak dat ons SLAWE van 'n sisteem en gerief raak!

Dawid Nel 

Cp jy sê dat jy die planne het vir so 'n koeler. Hoe kan ek dit by jou kry? Kontak my asb.
dawidnel@mweb.co.za

Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)

Jou e-pos adres sal nie vertoon word nie.