Koop eers skaal, dan stoof!

E-forum
User offline. Last seen 40 weke 2 dae ago. Van lyn af
Aangesluit: 7 Jul 2009
Inskrywings:

Hoe behaal ‘n mens sukses in die boerdery? Hier is uittreksels uit ‘n debat oor die onderwerp op die gespreksforum.

Dassie Mulder skryf:
Ons BV was Woensdag op ‘n uitstappie na ‘n bekende boer, wat baie suksesvol met wolskaap boer. Ons is onder meer na sy besproeiingsplaas toe om te sien hoe hy met wolskaap op aangeplante weidings (lusern en grasklawerweidings) onder spilpuntbesproeiing boer. Die resultate wat hy kry is uitstekend.

Toe ons terugry Cradock toe, toe wonder ek wat maak hom so suksesvol. Tegnies is daar min wat ek bygeleer het. Nie dat ek dink hy is tegnies swak of dat ek alles weet nie, maar hy gebruik nie eers iets soos kruipvoer nie. Ek onthou jare terug het hy gesê ‘n boer moet eers ‘n skaal koop, dan ‘n stoof.

Hy het nog steeds ‘n skaal en jy kan hoor hy gebruik dit soveel as moontlik. Ek glo weer jy koop eers kruipvoerhokke en kruipvoer voor jy ‘n ram koop. Vir wat dit werd is. Ja, hy het ‘n klomp boererate vir allerhande kwale en kleiner bestuursprobleme, maar niks wat klink soos “rocket science” nie. Na my mening het dit ook minder met sy werklike sukses te doen. Ek het al meer en beter dinge by ander boere gesien, maar hulle was nie so suksesvol nie. Miskien was hulle te wetenskaplik. Skielik dink ek weer aan wat iemand op Egoli gesê het – doen die maklike dinge reg! Ons is mos altyd op soek na iets moeiliks om te doen.

Ná ‘n week gaan ek min van hierdie boererate en dingetjies onthou, maar daar is twee dinge wat ek lank sal onthou. En MOET onthou as ek wil oorleef, selfs buite die boerdery. Die eerste is sy absolute passie vir wat hy doen en sy absolute positiewe benadering teenoor alles. Ek kan my nie indink dat hy al een oggend opgestaan het en gedink het ja, nog ‘n so-en-so-dag met die so-en-so nie. Met soveel passie kan hy waarskynlik nie wag dat die son opkom nie! Maar ek glo daardie passie is nie ‘n eienskap van hom nie, maar die resultaat van ander eienskappe soos doelgerigtheid, deursettingsvermoë, selfvertroue, en daardie absolute positiewe houding. Ek kan nie onthou dat hy eenkeer oor enigiets gekla het nie. Nie eers die weer of die regering of Zimbabwe of die Blou Bulle se verloordery nie (miskien is hy ‘n WP-ondersteuner, moet wees!)

Ook met ander rasse
Ek dink iemand wat daardie passie het vir wat hy doen, sal selfs ook suksesvol met ‘n Dorper of selfs ‘n Nguni kan boer.

Tweedens, is dit die manier waarop hy sy werkers motiveer deur aan hulle sekere verantwoordelikhede te gee, te betrek by besluitneming en vir my die belangrikste, ‘n geleentheid te gee om windgat te wees. Terwyl hy ons vertel wat daar aangaan het hy soveel keer as moontlik sy skaapbestuurder, Koko, geleentheid gegee om ‘n bydrae te maak. En op ‘n manier wat wys hoe belangrik Koko vir die boerdery is, en hoe goed Koko sy werk kan en ook werklik doen. Ek dink Koko kon nie wag dat hierdie klomp boere hul ry kry sodat hy kan aangaan met sy belangrike werk nie. Ek dink nou 2 dae later is daar nogsteeds ‘n stofstreep wat vir Koko volg.

Dit het my laat besef hoe baie breek ek nie my werkers af nie. Baie keer is hulle onskuldig want dis eintlik iets anders wat my pla, maar hy is beskikbaar (en gewoond) om afgebreek te word, en ek weet hoe ver ek my frustasie op hom kan uithaal sonder dat hy sy baadjie vat en loop. En dis ook baie gewild om oor plaaswerkers te kla, en net so maklik en gewild om daaroor te praat as oor die weer. En dan wonder ek hoekom is hulle nie soos Koko nie en ek nie so suksesvol nie.

Terra Terre'Blanche skryf:
Hier in die vroeë sewentigs het twee Amerikaanse bestuurskonsultant guru's, Tom Peters en Bob Waterman, met dieselfde dilemma as jy geworstel. Hulle het dus besluit om die resep vir sukses in die besigheidswereld te vind deur 'n analise van Amerika se mees suksesvolle besighede, grotes en kleintjies, te doen. Die resultate is gepubliseer in 'n boek "In Search of Excellence". Die maatskappy waarby ek destyds betrokke was het besluit om die twee here uit te nooi om Suid-Afrika te besoek en ek het dus die voorreg gehad om baie ure saam met die twee manne deur te bring. In kort was hulle bevindinge en die bestuursfilosofie wat hulle hieruit ontwikkel het, baie vereenvoudig, die volgende:

1. Besighede huiwer nie om die beste rekeningkundiges, wetenskaplikes ens. te huur nie - maar dit is die wat hierbenewens ook doelgerrig en deurlopend bewus is en aandag gee aan die honderde klein, soms skynbaar onbenullige dingetjies (hulle het die Engelse woord "mundane" gebruik), wat almal 'n trappie hoër op die suksesleer staan.

2. Moet nooit enige werknemer se passie (of gebrek daaraan) vir sy taak onderskat nie. Die suksesvolle maatskappye het almal een of ander stelsel gehad om passie en toewyding aan te moedig en te beloon. Hulle het ook stelsels gehad wat werknemers wat met nuwe gedagtes en metodieke na vore gekom het, (daar is na hulle verwys as "kampioene" vir 'n nuwe idee) die geleentheid te gee om hierdie gedagtes en metodes verder te ontwikkel en, wanneer dit as suksesvol bevind of bewys is, dit te implimenteer en die ontwikkelaar daarvan te vergoed.

4. Dit is uiters seldsaam dat 'n werknemer wat nie na wense presteer nie, dit uit kwaadwilligheid doen (diesulkes het hulle terroriste genoem). As eienaar of bestuurder moet jy jouself altyd die volgende afvra: 1. Het ek opdragte presies en akkuraat aan hom oorgedra, 2. Het hy verstaan wat ek van hom wil he, 3. Het hy die vermoë om dit wat ek van hom verwag te doen of moet ek hom liewer vir 'n ander taak of funsie aanwend 4. Het ek hom die nodige opleiding om die taak suksesvol uit te voer, gegee.

3. Hulle het die interessante staaltjie vertel oor een van die VSA se grootste lugrederye wat, na aanleiding van die boek, hulle gevra het om 'n ondersoek by die redery te doen. Met die oog hierop het Tom Peters vir 'n week lank kruis en dwars met hulle saam gevlieg. Terwyl hulle tydens 'n tussen landing by 'n lughawe gewag het vir aansluitende passasiers, het die hoof-lugwaardin in die deur van die vliegtuig gestaan en toe die deur van die vertreksaal oop gaan en die aansluitende passasiers hulle pad na die vliegtuig gevind het, het die hoof-waardin aan die personeel in die vliegtuig aangekondig:" Hier kom die diere!!!". Peters het die opgemerking gemaak dat iemand wat na sy klante, self grappender wyse, as diere verwys beslis nie op die toppunt van uitnemendheid kan wees nie.

Dit lyk vir my asof die suksesvolle boer wat so 'n indruk op jou gemaak het, of Peters en Waterman se boek gelees het, of instinktief geweet het waar die bron van uitnemendheid (excellence) is.

Gerdie Landman skryf:
Voel vir my of ons nog so ver van die doelpale is. Ons span van 80 werksmense is ons grootste bate, en word ook so bestuur!

Ek het onlangs besoek gehad van die einste wolboer, en ek deel jou waarneming. Hy is passievol oor wat hy doen. Die trots spoel oor na al sy personeel en die gevolg is almal is gemotiveer. Ek gaan die boek waarvan Terra praat, soek en lees.

Soos julle moontlik bewus is, is dit my vooreg om jaarliks die streekswenners van die "Boer van die jaar" nominasies te help evalueer om sodoende 'n Nasionale wenner aan te wys. En dis opvallend hoe daardie eienskappe by meeste kandidate teenwoordig is.

Ongeag die nuwe regering wat ook nie meer so nuut is ná 16 jaar in die saal nie. Die manne en vroue wat kan OPERATE, doen dit so onder ons neuse. Hulle benut die geleenthede en maak planne rondom die struikelblokke. Maar hulle jaag die doelwit na. En dis natuurlik elke mens se besluit wat sy doelwit in die lewe is.

Dis hoe jy die probleme aanpak
Ons almal word deurlopend met uitdagings gekonfronteer, dis hoe mens die probleme aanspreek, wat die verskil maak!

Al wat ek op FaceBook probeer stel het, was dat my evaluasie van die regering en van Suid Afrika se prestasie, 16 jaar na verandering van regering, meer positief as negatief is.

Kyk mens na die groter prentjie, dan groei die land steeds - miskien nie altyd gemeet aan ons eertydse maatstawwe nie - maar binne die Afrika konteks is die RSA steeds heel voor! Die infrastruktuur met paaie, lughawens, winkelkomplekse, strandhuise, is vergelykbaar met die beste in die wêreld.

Die bankwese is betroubaar, die Rand bly verstommend sterk - dis tog grootliks 'n aanwyser van die buiteland se opinie van ons land as beleggings bestemming. Die regstelsel word steeds deur meeste landsburgers gerespekteer.

Ek het onlangs by 'n padblokkade aan my getroue Huisdier langs my in die motor opgemerk, dat ons pad-verkeerstelsel met padtekens en padreëls eintlik goed toegepas en gerespekteer word. Beter as die SAPD byvoorbeeld.

Landbou slaag steeds in sy doel
Landbou slaag steeds daarin om in die bevolking se kos en drankbehoeftes te voorsien. Dis vir my baie positief, as mens in ag neem ons land se totale bevolking het seker (my skatting) gedurende die afgelope 16 jaar met minstens 12 miljoen (Afrika-imigrante) of sowat 20% gegroei? (Kan iemand bevestig wat die huidige getal mense in die RSA is. 45 of 50 miljoen?)

Die onaanvaarbare misdaad-situasie in die land het ons almal reeds veroordeel en dit bly 'n groot negatiewe punt van die huidige regering. Maar dan gee die Selebi-saak my weer moed.

Die swak bestuur op plaaslike regeringsvlak - munisipaliteite is vir almal 'n verleentheid... Maar ek glo dit kan reggestel word as dit nie op politieke basis soos in die verlede bedryf word nie.

Ek glo steeds in die toekoms van Landbou en van ons land Suid-Afrika... Want nadat ons familie reeds meer as 350 jaar en 110 jaar in boerdery is, is dit net soveel my land, as almal s'n wat saam hier woon en werk.

Speenkalf skryf:
Laat my dink aan wat 'n Ou Oom wat ook baie suksesvol geboer het eendag vir my gese het " Boet as die Vader in die oggend verby kom moet jy daar wees om jou seeninge te ontvang en as die Vader vanaand sy genade kom uitstort moet jy daar wees" Hy hak toe af en se Boet al wat ek in plein Afrikaans wil se is "wees wakker kyk na die positiewe dinge en gryp dit aan, moet jou nie met negatiewe dinge ophou nie, negatiewe dinge maak jou so moeg, dat jy nie kan wakker wees en seëning en genade kan ontvang nie"

Hannes Visagie skryf:
Daar in Calvinia se wereld het ‘n oom gese: Hy dink die Here wil graag vir Willie seën, maar hy kry hom nooit op die plaas nie!

Mias Adams skryf:
en dan is daar die storie van die boer wat so bitter gekla het oor sy melkery, die koeie dit, die werkers dat en nog ‘n paar dinge wat altyd verkeerd gaan. Toe gee die groot suksesvolle boer hom die raad van die vuurhoutjie boksie: hy moet elke oggend en elke aand voor melktyd die vuurhoutjies by elke koei se oor skud.
Maande later, nadat sy boerdery heeltemal omgeswaai het en hy begin geld maak, vra hy die groot boer hoekom die melkery nou so suksesvol is, wat het die vuurhoutjies daarmee te doen
Die antwoord: Jy moet elke dag daar wees om die boksie te skud.

17 Augustus 2010

5
 
 
Benhomely 

Baie goed en waar. Dit het my laat besef wat my eie probleem is. Ek het dit by die werk gedoen (togepas) maar nie by die huis nie. Baie dankie!!!

Benhomely

Onbekende besoeker 

Pragtige stories

Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)

Jou e-pos adres sal nie vertoon word nie.