Kersfees het gekom en gegaan, en so ook beloftes van onderskeie departemente, en ander betrokkenes, dat daar daadwerklike hulp sal kom met die skade onder ons vee deur probleemdiere. ‘n Goeie klomp van my, en ander boere se Kersfees-lammers het die jakkals “gesteel”, andere is vermink. `n Paar verbruikers gaan minder lamsvleis hê, ander gaan duurder moet betaal vir hul braai oor die “Groot Dae”.
Ons in Namibie het ook hierdie probleem, veral met Jagluiperds, Luiperds en die Strandjut. Ons verloor gemiddeld 8-10 stoet kalwers per jaar. Dan samel organisasies geld in om die Jagluiperd beskermde wild te hou. Ek weet nie hoe bedreig hulle nog kan wees as jy op jou plaas ry en tot 12 Jagluiperds per naweek sien nie. Ons het al hokke gestel en al wat slim plan is beraam en raad van heinde en verre gevolg maar kry hulle net nie gevang nie. Wat my verbaas is dat die Strandjut ook wel vang en nie net aas nie. Weet nie of daar iemand anders is wat dalk raad het oor hoe mens hierdie probleme kan aanspreek en die “groen ouens” tot ander insigte kan bring nie.
Henriette
Henriette
Ek het baie begrip vir jou probleem. Skade veroorsakende diere word nie sommer oornag uitgeskakel.
Dit het altyd geklink of julle in Namibië redelike sonder die probleem boer.
Asof die probleem op sy eie nie groot genoeg is, is daar mens wat hul uitlaat as kenners, terwyl daar nog nooit amptelike navorsing onder Landbou omstandighede daaromtrent gedoen is, en voorskriftelik wil wees en ondoeltreffende wette maak.
As jy nog nie lid is van http://jaracal.com/index.php. Gaan registreer asb. Ons het al die hulp nodig om mekaar te ondersteun. Niemand gaan dit vir ons doen nie..
Lukas
Beste Henriette,
Ek het my lank van die tema weerhou, maar nou is dit genoeg.
Hoe verduidelik jy dit dat rondom my kalwers deur jagluiperds gevang word - maar nie by my nie? Ek het oor baie baie jare opgelet dat my koeie nie skrik vir jagluiperd of hond of jakkals. Inteendeel, my honde kan nie saam my in die kraal gaan nie, die koeie wil hulle net optel.
So ook ondervind ek dat daar etlike van my Damaralammers deur Jakkalse gevang word, maar nie een volwasse ooi nie. Ook nie bokooie nie. My buurman daarenteen verloor skrikwekkend baie ooie deur Jakkalse wat net die uier uitbyt uit die lewendige dier uit - en dit onder sy oee. Hy boer met van Roois.
Wie moet ons nou as die skuldige aanvaar? Die ongedierte wat net sy natuurlike instinkte volg en die maklikste pad daarnatoe, of die mens wat te stupid is om doeltreffend te bestuur? Wat is die verskil tussen my koeie en die bure s'n? Altwee is Bonsmaras.
Ek kan jou sê: waar verse en speenkalwers van hulle ma's geskei word en in aparte troppe loop sal hulle nooit kan leer om nie vir die jagluiperd te skrik nie. So sal daar ook oplossings wees vir ander probleme.
Wat jy presies as Strandjut beskryf weet ek nie, maar as jy van die gewone klein strandwolf praat wat in ons omgewing voorkom, is die storie oor sy "vangery" ook maar nonsies.
Georg
Ek wil nou sommer 'n klompie van julle op een slag antwoord, maar eers al my ondersteuning aan Lukas bied met sy skrywe oor Cape Nature en die ondiere in die Wes-Kaap.
Ek glo nie julle mense buite die Wes-Kaap verstaan heeltemal wat hier aangaan nie en besef ook die gevaar dat hierdie tipe regulasies na die res van die land kan uitbrei nie. Onthou net, basies almal van ons ignoreer CN met hul belaglike idees (wat oorspronklik hoofsaaklik met Bool Smuts se samewerking opgestel is), maar ons kan seker wees hulle gaan een of ander tyd voorbeelde begin maak waar hulle mense toevallig vang en kan julle dink wat die effek sal wees as hierdie belaglike regulasies oor die res van die land toegepas word? Hoe moeilik gaan dit wees vir hulle om oor die hele land elke maand 'n paar boere vas te trek en voorbeelde van hulle te maak? Ons boer nog in die berge en gaan wragtig nie sommer gevang word met nagjag of slagysters nie, maar hoe gaan van julle manne wat in die Vrystaat of Transvaal op die vlaktes boer, dit wegsteek as julle in die nag skiet met ligte? Die punt is dat as almal nie begin saamstaan en, eerstens Cape Nature aanvat nie, maar ook baie ernstige druk op die Departement van Natuurbewaring begin sit om te keer dat hulle heeltemal oor die afgrond spring agter CN en Bool Smuts en sy makkers aan nie, gaan ons almal met 'n baie groter probleem sit as wat ons besef. Hierdie probleem gaan vir ons veeboere groter raak as die wapen wette en alles wat daarmee saamgaan. (Besef julle hoe gaan ons sukkel as ons nie meer wapens mag hê om jakkalse te jag nie en ons mag ook nie slagysters of honde gebruik nie? Ons gaan seker knopkieries moet gebruik.)
Aan van die ander mense wat gereageer het, Andre, daar is verskeie ouens wat professionele spanne honde het. As jy regtig wil uitvind kyk op die jagforum (Lukas het al die verwysing gegee) of laat weet my, dan kry ek vir jou een of twee van hulle se besonderhede.
Speenkalf, ek weet jy glo die RPO doen iets hieraan (en ek is ook lid!), maar op hierdie stadium doen die RPO self niks en praat hulle maar ook net. Onthou die enigste instansie waarvan ek bewus is, wat werklik iets doen, is die NKWV en die nuut gestigde gesamentlike forum, waarop die NWKV, RPO, Wildvereniging en so meer (dink ek) inspraak het. Hierdie ouens werk hard hieraan en is betrokke by samesprekings met die Departement Natuurbewaring en in die proses. Selfs AgriSA en al sy provinsiale bene (of arms?) doen nie veel hieraan nie.
Ek weet nie of julle bewus is hiervan nie, maar Bool Smuts het so 'n paar maande terug probeer om Woolworths en van die ander kettingwinkels so ver te kry om Suid-Afrikaanse lamsvleis heeltemal te boikot oor die jakkalssituasie. Die NWKV se manne (Petrus de Wet en andere) moes inderhaas Kaap toe om die saak te beredder en het gelukkig geslaag daarin. Besef julle watter tipe skade hierdie tipe ouens kan doen aan ons?
Aan George kan ek maar net sê ek is spyt ek boer nie langs hom nie. Daardie wilde goed waarmee hy boer hou seker sommer al die 2- en 4-been jakkalse in die hele distrik weg!
Henriette, die strandjut waarvan jy praat neem ek aan is 'n bruin hiëna? Normaalweg word die bruin hiëna 'n strandjut ook genoem en die maanhaarjakkals word die strandwolf genoem. In party streke word albei dieselfde naam of omgekeerde name genoem. Die bruin hiëna is 'n pes (wat Natuurbewaring natuurlik nie glo nie en eintlik dink bedreig is!) wat amok kan saai onder skape (groot en klein) en voor kom amper die hele RSA vol. Baie mense besef nie hoeveel van hulle loop eintlik rond nie, want mens sien hulle vrek moeilik en net in die nag. Die maanhaarjakkals kom wyd voor in die droër en meer westelike dele van die land (ek sien gereeld van hulle dood gery lê, veral in die Karoo van Willowmore se wêreld af dwarsdeur tot aan die Weskus en veral ook baie in die Suid-Vrystaat, maar mens kry hulle in die Noord-Oos Vrystaat in die Drakensberge ook). Hulle is nie veronderstel om lammers te vang nie, maar doen dit wel partykeer met klein pasgebore lammers en aas ook maklik. Hulle is in elk geval nie werklik ons probleem nie.
Ondersteun asb vir Lukas in sy versoek. Hulle is ook besig met 'n baie goeie program waarmee bewustheid gekweek gaan word by stedelinge oor ons ongedierte probleem. Wanneer dit voluit aan die gang kom, gaan almal op hierdie forum se betrokkenheid, ondersteuning en fisiese deelname nodig wees!
Pieter Esterhuizen
Lukas,
Ek sien enige optrede wat gevaar inhou dat die Boer op een of ander manier inkomste uit sy boerdery kan verloor as ‘’n direkte aanval van die regering om boere van hulle plase te probeer dryf om grondonteiening te bevorder. Daar is talle sulke gevalle soos belasting op plase, belasting op waterverbruik, ens.
Soos almal reeds weet is daar nie meer fondse om grond te koop nie en begin hulle aternatiewe metodes gebruik.
Barry
Pieter
Ek het so 'n 12:30 uit die veld uit gekom. Al my lammers is so twee weke gelede gespeen en is op kraal, van hulle weeg nie eers 25kg nie maar ek speen hulle want anders word hulle take-aways. Vanoggend is daar in my een kamp 11 ooie weg. Soek die kamp behoorlik deur en kry twee groot ooie wat laasnag deur een of meer rooikatte gevang is.
Miskien le daar nog ander ook rond wat ons net nie kry nie (300ha kamp vol slote/koppies/haakbos). So jy kan nou dink hoe my gemoedstoestand is!
Jy is verkeerd met jou uitspraak dat "die RPO niks doen nie". Daar is/was vir jare lank al 'n werksooreenkoms dat die NWKV die leiding sal neem tov ongediertebeheer, en dat die RPO op sy beurt die leiding sal neem tov veediefstal.
Ek is van mening dat die Dept van Landbou ons as boere in die rug steek deur nie die belaglike proklamasies teen te staan nie. Om die waarheid te se, dit is die Dept Landbou se plig om daadwerklike aksies te loods om die ongedierte-probleem op te los! Dit is die Dept Landbou se plig om alles in sy vermoee te doen om landbouproduksie te bevorder. Dit is die enigste werklike taak van die Dept Landbou - en hulle het oor die afgelope jaar gruwelik in die uitvoering van hul taak gefaal. Ek glo egter dat minister Tina Joenat Pieterse haar dalk meer op die werklike funksies van die dept sal bepaal en daarom het ek tog hoop vir die toekoms.
Ek wonder hoeveel van die land se politici en ander politieke diere bewus is van die krisis? Ek wonder of hulle weet dat hul pogings om kleinveeboerdery onder gekleurde mense te bevorder sonder twyfel GEDOEM IS TOT MISLUKKING weens die ongedierte-krisis? Ek wonder of die besluitnemers bewus is daarvan dat die meeste lede van die anti-ongediertebeheer drukgroep bestaan uit 'n klomp ryk wit mense wat nie 'n hel omgee of enige boer (wit of swart) verarm gaan word weens hul ondeurdenkte aksies nie? Dink die kiesers van die meerderheidsparty ook dat jakkalse beskerm moet word en dat hulself die prys daarvoor moet betaal as gevolg van hoe vleispryse weens die groeiende skaarsheidswaarde van kleinvee?
Ek maak my lammerooie elke aand bymekaar om in krale te slaap. My gespeende ooi-lammers wat in die veld loop het almal King-Collars aan.
Ek probeer regtig om groen te boer, maar wat moet mens doen as die goed nou al begin om jou groot ooie op so 'n skaal te vang?
Andre Geldenhuys
Beste Georg
Ek sou jou graag as konsultant aanbeveel, want jy kan sekerlik vir my en baie ander boere iets leer oor boerdery. Ek sien ook jy kan dalk ook by die NWKV as "varmint-whisperer" aansoek doen, want hier in die Wes-Kaap vang die katte by almal en nie net by die bure nie. Dalk kan jy die katte kom "weg fluister".
Wat die permit in die Wes-Kaap betref, het eie ondervinding my geleer dat jy maar vroegtydig moet aansoek doen. Ek het maar baie gesukkel en toe met behulp van 'n ander kantoor een bekom.
Ons ander probleem hier is ratels. Dit is nou 'n nare dier. Gemiddeld 90% van alle ooie en lammers lewe nog met wangvleise en die vetstrook op die dikrib weggevreet.
Ek stem saam met "Lukas" se kommentaar. En as vuurwapens nie gebruik mag word/afgevat word..gif kan maar weer gebruik word..Die hoofdoel van die mens op aarde is om te oorleef en die mens sal in beheer wees oor alle diere/ongediertes.Die mens is verhewe bo alle diere/ongediertes. Sou dit n oortreding wees as n mens met jakkalse begin boer en hulle slag en uitvoer na die lande waar die bevolking honde eet? En die "Groenmense" wil he ek moet die vleis uit die velle eet sodat hy kan leer skoene en leersitplekke in sy v/tuig kry.In die bybel se tyd het jy al sulke "siek" mense gekry,seker afstammelinge van hulle,as die goeie mense is?
Ou spitsneus is slimmer as 'n mens.Terwyl daar oor sy getalle en toekoms gestry raak grawe hy homself goed in en raak sy getalle al meer.Ek is nie bang dat sy spesie sal uitsterf maar soos hy jakalmaai(katermaai)onder my kleinvee sal of ek uitsterf of die spesie skaap.Omdat skaap se vyand jakkels is maar jakkels se vyand is nie skaap en mens mag nie jakkels se vyand wees --- word nou gedwing om die vyand aan jou bors te kloester.My ma het my baie jare terug geleer "Pasop my kind as jy 'n adder teen jou bors probeer vasdruk gaan hy jou dood pik" My dogter is ook 'n groene maar was self baie ontsteld om te sien hoe weerlose lammertjies verskeur word.Dit laat jou wonder
Ek is een van die kleiner boere en ek kan nie dink dat enige getalle ooit na aan reg kan wees nie. In my omgewing glo ons aan "shoot&shut up". Dit geld vir alles wat kan skaap vang.(jakkals, rooikat,bobbejaan, luiperd en hond) Ek het alles in my vermoë gedoen om my verliese tot die minimum te beperk en steeds het ek verliese as gevolg van ongediertes. Jakkalsproef heining met klippe gepak,geëlektrifiseer,asook 'n plaaswerker wat twee keer per week die lyn patrolleer. Neem ook kennis dat hierdie heinings net te voet gepatrolleer kan word indien die werker nie oor ‘n helikopter beskik nie.
Verskoon my sarkasme, maar ek kan nie sien hoe 'n permit,indien die boer daarvoor moet betaal, 'n verskil kan maak nie.Indien ek die permit kan verkry deur dit te ruil vir 'n half gevrete karkas sal ek inkoop in die idee. Die arme dorpenaar kla oor die hoë vleispryse en die boer oor die lae vleispryse.Die boer kan alleenlik tevrede wees met 'n laer prys,indien hy meer lammers oor het om te bemark.
Van die roofdier se kant gesien. Boerdery vernietig hulle natuurlike habitat en hulle moet eet. So wat eet die roofdier as daar niks anders as vee op die grond is wat hy kan eet nie?
Ek kan nie anders as om met jou saam te stem nie, maar voorheen was my of u kantoorgebou dalk die habitat van die luiperd, leeu of dalk olifant en renoster. Net soos ons dus parke moes skep om dié diere te akkommodeer, moet ons seker maar dieselfde doen vir die ongediertes. Ons kan eenvoudig nie ons kantoor deel met 'n leeu nie, ook nie ons veekampe met veediewe nie, hetsy twee been of vierbeen.
Net 'n voorstel.
Nes George het ek ook my verliese maar hulle is minder as my bure sin.
My skape slaap saans op kraal EN my veewagter het 'n hond wat orals saam met hom loop.
Die reuk van die hond, glo ek, skrik die roofdiere af want ek verloor slegs skape as ek my skape in my kampe injaag wat aan my bure grens. In my binnekampe verloor ek bitter min.
Verder glo ek dat natuurbewaring sal sukkel om my honde toe te sluit as hulle 'n jakkals vang. Hulle is nie opgeleide jaghonde wat vir die doel gebruik word nie so as hulle 'n jakkals vang is dit nie my skuld nie - dis in die hond se natuur en hy kan nie lees of skryf nie so hy weet nie wat die wet se nie.....
Slim dink manne(en dames)
Dit klink goed (mkruger se voorstel) en kan werk in sekere dele van ons land. In ons area is dit egter oor en oor bewys dat diere wat snags in 'n kraal staan nie kan kers vashou met diere wat snags kan wei nie. Dit geld natuurlik meestal vir ons warm, droë gebiede waar die muggies bedags die diere verhinder om te wei.Ongelukkig "wei" die ongediertes ook snags.
Ja die mense wat die wetgewings instel weet nie eers hoe lyk n jakkals nie,hulle ken net die jakkals wat die twee spore trap en jou vee vang.Ek boer self ook maar help ander boere wat die probleem het met ongediertes.Die beste manier wat ek oor die jare gesien het wat werk is om met honde te jag.Ek vang in n nag tussen 10-17 jakkalse by een plaas waar dit regtig n probleem is.En na n paar keer se jag by dieselfde plek begin dinge verbeter,want die wat nie gevang word nie begin agterkom wat gebeur en gaan soek ander jagvelde.By een spesifieke plaas gaan jag ek gereeld so een keer n maand en in die laaste 5 jaar is daar 1 kalf gevang en 4 lammers.Waar ek in die begin vir die eerste 5 maande 87 jakkalse gevang het is dit nou so 3 n maand as ek gelukkig is.Moet nie net in die nag jag nie ek het net soveel sukses in die dag.Kontak my asb.vir enige inligting.
Dat die wat beskerm Die die jakkalse kom vang en ons vergoet vir elke skaap of bokke wat gevang word het nou 60 Bok lamers en 10 Skap lammers verlore Die Helte van my aanwas
http://www.jackal.co.za/deat_comments.html - Interressante kommentare op die wet gewing.
http://www.info.gov.za/gazette/acts/2004/a10-04.pdf - Die wetgewing.
Die blyk dat die nuwe ordinansies in die WesKaap in isolasie geskep is. Die nodige navorsing moet gedoen word voordat "pilot projects" van stapel gestuur word. Dit blyk verder asof sekere organisasie Carte Blanche gegun om regulasies en ordinansies voor te stel sonder inagneming van die boeregemaanskappe wat daaronder gebuk moet gaan. Uiteinde = beskadigende en oneffektiewe wetgewing.