|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 08:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 88% |
| Wind: |
Suid-Afrika sal tot 3,5 miljoen ton geel mielies moet invoer as die plaaslike oes verder deur die hitte en 'n gebrek aan reën in die belangrikste mielieproduserende gebiede geknou word.
Dr. Erhard Briedenhann, hoof van graanverhandeling by Afgri, het op die Veevoervervaardigers se byeenkoms by Sun City gesê hy verwag 'n oes van 7 miljoen ton en dat 1,6 miljoen ton geel mielies ingevoer sal word. As die oes verder verswak, sal meer ingevoer word.
Briedenhann het gesê daar is ramings dat vanjaar se oes net 5 miljoen ton mielies sal lewer. "Dit sal meebring dat ons nog 2 miljoen ton geel mielies bykomend tot die 1,6 miljoen sal moet invoer. Dan moet 'n mens begin vra of die land die infrastruktuur en vermoë het om dit alles die land in te bring.
"In die somersaaigebied het dit in Januarie en Februarie die minste in tien jaar gereën. Dit lyk of April ook 'n slegte maand gaan wees."
Die veevoerbedryf het verlede jaar 'n omset van sowat R12 miljard gehad. Dit is gegenereer deur verkope van 8,8 miljoen ton veevoer. Geel mielies is 'n belangrike bestanddeel van veevoer.
Mnr. Bertie Smith, direkteur van landboubankdienste by Standard Bank, het aan Landbouweekblad gesê die huidige droë toestande duur voort.
"Dit raak nie net die huidige oes nie, maar voorspel ook min grondvog vir die koringlande. Koringplanttyd breek binnekort aan.
"In sekere graangebiede word oesverliese van tot 60 % al voorspel, ander gebiede lyk egter beter."
Smith het gesê die huidige aanduidings is dat die Oesskattingskomitee se eerste produksieskatting verlede maand vir wit en geel mielies van 7,75 miljoen ton mielies afwaarts aangepas kan word weens die volgehoue swak toestande wat sedert die vorige skatting gevolg het. "Die weervooruitsigte vir die res van Maart is nie belowend nie. Selfs al reën dit nou goed, sal die opbrengs nie veel verbeter nie," het hy gesê.
Volgens mnr. Johan van den Bergh, landbouweerkundige van Enviro Vision/ARS, het dit in Januarie en Februarie min oor die grootste deel van Suid-Afrika gereën. Veral die westelike mielie-produksiegebiede is sleg getref. "Die grootste deel van die aktiewe groeiseisoen vir mielies was sonder beduidende reën en die plante het op grondvog staatgemaak."
Landbouweekblad, 23 Maart 2007
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24