|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 08:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 88% |
| Wind: |
Die uitvoer van mielies het sedert die begin van die bemarkingsjaar tot einde Augustus vyfvoudig toegeneem vergeleke met die ooreenstemmende tyd verlede jaar. Goeie stygings in die prys van wit en geel mielies die afgelope paar weke kan egter meebring dat die uitvoer afneem.
Luidens inligting wat die Suid-Afrikaanse Graaninligtingsdiens (Sagis) verlede week bekend gemaak het, is 840 000 ton mielies in totaal vanaf 1 Mei tot einde Augustus uitgevoer. Verlede jaar is 202 000 ton mielies in dieselfde tyd uitgevoer. Uit die totale 840 000 ton is 807 000 ton heelmielies uitgevoer, vergeleke met 160 000 ton heelmielies wat verlede jaar uitgevoer is. Die vyfvoudige styging in die pas van uitvoer kan meebring dat heelwat meer as twee miljoen ton mielies uitgevoer gaan word.
Sommige handelaars sê hoewel daar nog altyd bedenkinge was oor of die land se infrastruktuur groot hoeveelhede uitvoer moontlik sal maak, kan die land heelwat meer uitvoer as die huidige syfer met sy bestaande infrastruktuur.
Mnr. Dirk Noeth, graanmakelaar by Commodity Trading House, sê sy berekenings is dat sowat 2,1 miljoen ton mielies tot die einde van die seisoen uitgevoer sal word. Hy sê sommige markspelers meen 2,4 miljoen ton kan uitgevoer word omdat sowat 200 000 ton mielies weekliks die land verlaat.
Die Departement van Landbou sê in sy jongste graan-balansstaat dat van 1,2 miljoen ton tot 1,9 miljoen ton mielies die huidige bemarkingsjaar uitgevoer kan word.
Noeth meen egter die stygings in die mielieprys kan die Suid-Afrikaanse minder aantreklik maak omdat ander lande mielies moontlik teen 'n mededingender prys kan verkoop. Hy sê die uitvoerpariteit is tans in die omgewing van R500 per ton, terwyl sy ontledings dui dat wit mielies waarskynlik nie laer as R800 per ton sal neig nie. Geel mielies se ondersteuningsvlakke is rondom R730 per ton, sê hy.
Hoewel daar vroeër groot kommer was oor of die land se infrastruktuur groot mielie-uitvoer sal toelaat, sê Noeth die geskiedenis bewys groter hoeveelhede mielies is al in korter tye uitgevoer. Sagis se inligting toon waar verlede jaar slegs 17 000 ton mielies van Mei tot Augustus deur hawens uitgevoer is, beloop dit tans 419 000 ton.
7 Oktober 2005
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24