|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 08:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 88% |
| Wind: |
Mielieboere wat in die afgelope bemarkingstydperk grootskaalse skade gely het en nog gaan ly weens die "mielie-fiasko" word gevra om 'n drukgroep te kontak sodat moontlike regsaksies geloods kan word. Dié versoek word onder meer ook aan die verskaffers van produksiemiddele en adviseurs gerig sodat "verklarings geneem kan word."
Hierdie stappe volg op ongelukkigheid onder sommige rolspelers in die mieliebedryf omdat die Nasionale Oesskattingskomitee gesê het meer as 12 miljoen ton mielies is verlede jaar gestroop. Kritici meen dit is waarskynlik 'n rapsie meer as 10 miljoen ton. Hierdie oorskatting kon meegebring het dat die mieliepryse gedaal het en laag gebly het, met boere wat nie hul mielies winsgewend kon bemark nie.
Die pryse het vir 'n groot deel van die jaar rondom R500 per ton verhandel, maar het sedert Oktober begin styg in reaksie op spekulasie oor 'n kleiner oes. Die laaste klompie weke het die witmielieprys teen meer as R1 000 per ton verhandel.
Intussen doen die groep in 'n persverklaring ook 'n beroep op pres. Thabo Mbeki om as 'n saak van dringendheid 'n raad aan te stel om die komitee te ondersoek. Dit is glo omdat "dit aanleiding gegee het tot sekwestrasies, werkloosheid, ontvolking van die platteland, 'n moontlike stapelvoedseltekort teen die einde van die 2006 en geleenthede vir onbehoorlike verryking ten koste van die graanprodusent."
Mbeki is ook versoek om 'n moratorium op die sekwestrasie van produsente te gelas. Adv. Riaan Pienaar, lid van die drukgroep, het bevestig dat 'n skrywe aan Mbeki se kantoor gerig is.
Afgesien van die oesskattingskomitee, word Graan Suid-Afrika gekasty omdat dié organisasie glo "daarmee volgehou het dat daar 'n groot mieliesurplus is en dat boere glad nie in die huidige produksietydperk moet plant nie". Finansiers word ook betrek omdat hulle glo "in baie gevalle die kopers was en nou in 'n gerieflike opwaartse mark hul koffers vul."
Die drukgroep sluit in dr. Jaco de Villiers, 'n besigheidspesialis, mnre. Coenie Fourie, 'n boer van Bultfontein, Dirk Kruger en Corrie Fourie van Profuture, Dirk Mouton, 'n boer van Lichtenburg, Johan Wasserman, 'n graanmakelaar, en Abie van der Walt, die voorsitter van Profert.
Boere wat voel hulle het weens die oesskatting skade gely, kan Pienaar by sel 083 561 5790 of tel. 051 444 2625 kontak.
6 Januarie 2006
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24