|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 08:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 88% |
| Wind: |
Die plaaslike mieliemark is 'n groot koper kwyt, maar dié koper sal na alle waarskynlik terug gelok kan word as die prys reg is.
Stygings in die mielieprys die afgelope paar maande het die Verenigde Nasies se Wêreldvoedselprogram (WVP) genoop om aan te kondig dat hy nie langer Suid-Afrikaanse mielies sal koop nie. Dié mielies het vir hom glo te duur geword het. Die WVP maak nou planne om mielies van Argentinië in Suid-Amerika na Suider-Afrika in te voer.
Volgens mnr. Mike Huggins, woordvoerder vir die WVP, het dié organisasie verlede jaar altesame $56 miljoen (sowat R342 miljoen) bestee om 340 000 ton mielies en ander voedselprodukte uit te voer na buurlande in die streek waar mense hongersnood in die gesig staar.
"Die Suid-Afrikaanse mark het nou duur geword vergeleke met ander wêrelddele. Die WVP het 'n mandaat om voedsel te verskaf teen die mees ekonomiese prys en daarom sal ons na moontlikhede in ander lande kyk. Ons kan mielies van Argentinië invoer en in Malawi land vir $260 (sowat R1 586) per ton," het Huggins gesê.
'n Handelaar van Vrystaatmielies op Welkom het by navraag gesê die WVP is 'n belangrike koper omdat die organisasie "redelike volume skuif". Volgens die handelaar kon die WVP se onttrekking uit die mieliemark tesame met goeie reën verlede week oor die mieliestreek moontlik tot dalings in die mieliepryse tot onder R1 000 per ton gelei het. Die handelaar sê as die mielieprys rondom R900 per ton stabiliseer, sal dit waarskynlik die WVP lok om weer plaaslik te koop. "Dit bly 'n risiko om van só ver (Argentinië) in te voer," het hy gesê.
Daarby sê mnr. Abie van der Walt, voorsitter van die kunsmismaatskappy Profert, daar is geen fundamentele redes vir die huidige skerp daling in die mielieprys nie. "Dit is presies wat ons teen die stelsel het. Die mark raak paniekbevange en dan beleef ons die sneeubal-effek. Die onderliggende fundamentele redes, vraag en aanbod, het nog glad nie verander nie. Daar gaan steeds 'n tekort aan wit mielies wees," het Van der Walt gesê.
Luidens die jongste syfers van die Suid-Afrikaanse Graaninligtingsdiens (Sagis) is sowat 1,5 miljoen ton mielies tot Desember uitgevoer. As die WVP verlede jaar 340 000 ton mielies gekoop het, beteken dit hy was vir meer as 'n vyfde van die plaaslike aankope verantwoordelik. Huggins sê die WVP wil die volgende 12 maande sowat $80 miljoen (R488 miljoen) aan die koop van kos bestee.
10 Februarie 2006
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24