|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 08:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 88% |
| Wind: |
Miljoene rand gaan bestee word om die besproeiingskemas in die Oos-Kaap wat in onbruik verval het, weer op die been te kry. Die eerste projek is dié by Keiskammahoek wat amptelik deur me. Lulu Xingwana, Minister van Landbou en Grondsake, bekend gestel is.
Nagenoeg 1 000 melkkoeie sal uiteindelik hier gemelk word. Sowat R25 miljoen sal binne drie jaar aangewend word om die projek, wat op die Nieu-Seelandse melkdeelskema geskoei is, te voltooi.
Mnr. Lieb Venter, besturende direkteur van FarmVision op Jeffreysbaai, sê daar word beoog om amper 800 hektaar wat onder gravitasie besproei word, onder gewasse te vestig waarmee die melkery bedryf sal word. Die projek, wat as Seven Stars bekend staan, word deur FarmVision gekoördineer.
Sewe gemeenskappe in die omgewing het ingewillig om grond vir die doel beskikbaar te stel. Vier kommersiële melkboere gaan ook by die skema betrokke wees om die vee, werktuie en kundigheid beskikbaar te stel. Dit was voorheen 'n melkplaas waar tot 14 000 liter melk per dag geproduseer was.
Ander betrokkenes sluit onder meer die Oos-Kaapse departement van landbou, Uvimba Bank, die Land Bank en die Amatola distriksmunisipaliteit in. Die Land Bank het reeds 'n lening van R1,7 miljoen vir die koop van melkbeeste beskikbaar gestel en die departement van landbou het R3 miljoen vir die melkery bewillig. Die oprigting van die melkery behoort teen Oktober voltooi te wees.
Venter sê dit is bemoedigend dat die plaaslike gemeenskap verskille opsy geskuif het en ingewillig het dat die grond gesamentlik bewerk word. "Die mense is bereid om hard te werk. Nóg 'n pluspunt is dat die onderneming nie met groot skuld begin nie aangesien kommersiële boere die koeie en kundigheid gaan verskaf.
"Daar is só 'n groot vraag na melk in die gemeenskap dat alles wat geproduseer word, waarskynlik plaaslik verkoop sal word. Die feit dat die Oos-Kaapse regering die belangrikheid van vennootskappe onderskryf, dra ook by om die sukses van die onderneming te verseker," het hy gesê.
Altesame 125 boere met meer as 700 afhanklikes sal deur die projek bevoordeel word.
11 Augustus 2006
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24