|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 08:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 88% |
| Wind: |
Die Overbergse blomboere het ná die onlangse brande dringend regeringsbystand nodig om veral die volgende vyf jaar te oorleef en werkgeleenthede in dié bedryf te behou.
Mnr. Cobus Dowry, Wes-Kaapse minister van landbou, sê die verliese in die Overberg beloop sowat R665 miljoen. Hiervan is R391,6 miljoen fynbosverliese, R266,5 miljoen verliese uit die toerismebedryf en R6,8 miljoen is landbouskade. Die landbouskade verwys na grensdrade, pyplyne en ander infrastruktuur.
Hy sê die Wes-Kaapse regering is "bekommerd oor die 4 000 werkverliese" wat uit die brand spruit. Minstens 800 gesinne, waarvan die meeste kontrakwerkers in die blombedryf is, word regstreeks hierdeur geraak.
Die departement van landbou, Kaapse Natuurbewaring, die Nasionale Parkeraad en belanghebbendes uit die blommebedryf het 'n verslag saamgestel wat hulle aan die Regering oorhandig het. Dié verslag beskryf die omvang van die ramp in die Overberg-gebied om die Regering om hulpverlening te vra.
Mnr. Ebrahim Rasool, Wes-Kaapse premier, het die gebied besoek en opdrag aan Dowry, mnr. Richard Dyantyi, die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering en behuising, en me. Tasneem Essop, Wes-Kaaspe minister van omgewingsake en ontwikkelingsbeplannings, gegee om met voorstelle daarvoor vorendag te kom.
"Dit sal nog 'n paar dae duur voor die ondersoek klaar is," het Dowry gesê.
Volgens me. Lesley Richardson, uitvoerende direkteur van die Flower Valley-trust wat hulle beywer vir die volhoubare pluk en verkoop van blomme, is daar sowat 32 000 ha plukbare blomveld verwoes. Volgens haar wag daar veral die volgende vyf jaar 'n moeilike tyd op die blombedryf.
"Die trust se hoofdoel is om werksgeleenthede te behou. Ons sal na ander maniere kyk om 'n inkomste te genereer," het sy gesê. Sy glo dit is beter om permanente werksgeleenthede daar te stel, as om kontrakwerkers in diens te neem.
Sy sê al die boere wat aan die trust blomme verskaf, het onderneem om tot sover as Swellendam grond te huur om blomme te pluk. Dit is belangrik dat dié bedryf nie die uitvoerbande wat hulle met Brittanje en die Midde-Ooste opgebou het, verbreek nie.
Hulle kyk ook na maniere om beter pryse vir die blomme te beding en "om kreatief te wees met die saamstel van bosse blomme".
Blomme wat deur dié trust versprei word, word in klaaropgemaakte bosse uitgevoer en verkoop. Volgens Richardson gaan hulle probeer om met afsetpunte te onderhandel om ander soorte blomme aan hulle te verskaf.
Intussen sien sy die gebrande veld as 'n geleentheid om uitheemse plantegroei uit te roei.
"Ná die eerste reën sal die uitheemse sade ontkiem. Dit is onmoontlik om volgroeide bosse te vernietig, maar dit is makliker om jong plantjies uit te wis. Ons sal in die vyf jaar-tydperk ook seker maak dat brandbestuur in werking is. Só iets kan nooit weer gebeur nie," het Richardson gesê.
24 Februarie 2006
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24