|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 08:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 88% |
| Wind: |
In die volgende paar maande is die mielieprys op pad na nêrens. Eers as daar teen einde vanjaar bewyse is dat boere wesenlik aan hul aanplantings in die seisoen 2005/06 afgeskaal het, is 'n beter prys moontlik.
Volgens mnr. Jean Craven, hoof van landbou by Rand Aksepbank (RAB), is die groot oordragvoorraad die bepalende faktor vir prysvorming omdat daar geen groot veranderings in die wisselkoers of internasionale pryse verwag word nie. Craven sê RAB meen die prys vir die kontrak vir lewering in Julie kan van R514 per ton tot R642 per ton verhandel.
Hy sê die krisis in die mieliebedryf sal nie opgelos word deur uitvoer nie omdat die oordragvoorraad te groot is. Al wat sal help, is as boere wesenlik afskaal aan hul aanplantings. Craven sê tans is die uitvoerpariteitsprys slegs 'n teoretiese syfer. Al daal die prys tot op uitvoerpariteit, sal die land steeds met die klomp mielies sit omdat dit nie logistiek moontlik is om dit uit te voer nie, sê hy.
Mnr. Nico Hawkins, senior ekonoom by Graan Suid-Afrika, sê die jongste inligting van die Oesskattingskomitee is tans nie 'n dryfveer in die mark nie. Volgens die komitee se twee produksieskatting word 11,136 miljoen ton mielies van kommersiële boere verwag. Dit is 8,6 % meer as die vorige skatting van 10,259 miljoen ton mielies.
Hawkins sê die verwagting is wel dat 'n groot oes op hande is, maar groter sekerheid sal eers met oestyd verkry word. Hy sê in dele van die produksiegebied was die weer baie warm en dit is moeilik om die uitwerking van die droogte op die oes te bepaal.
8 April 2005
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24