|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 09:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 88% |
| Wind: |
Pres. Kgalema Motlanthe het in sy Staatsrede erken dat die grondhervormingsprogramme en die nasorgprogramme hiervoor vinniger en beter gehanteer moes gewees het.
Behalwe vir dié uitlating het Motlanthe nie veel oor die landbou en grondsake in sy rede uitgelaat nie.
Motlanthe, wat sy eerste en heel waarskynlik sy laaste Staatsrede gelewer het, het gefokus op die welslae wat die afgelope jare behaal is. Hierdie was nie 'n tradisionele staatsrede waar 'n duidelike aanduiding gegee was van programme en strategieë voorentoe nie.
Sommige kommentators meen dat hy 'n gebalanseerde toespraak gelewer het, terwyl ander weer meen dat dit maar net 'n verkiesingstoespraak was.
Motlanthe het aangedui dat die datum vir die verkiesings binne die volgende paar dae aangekondig sal word.
Op die sakefront het hy uitgewys dat Suid-Afrikaanse finansiële instellings nog sterk staan en die land ietwat teen die wêreldwye ekonomiese afswaai beskerm het. "Ons ekonomie is grootliks afhanklik van mynbou en die landbou vir uitvoer.
"Behalwe vir die dienstesektor het ons nie 'n groot genoeg uitbreiding in belangrike sektore, veral vervaardiging, nie."
Hy het gesê die groeikoers in uitvoer was nie so hoog as vergelykbare lande nie, en dit was verantwoordelik vir die groot tekort op die lopende rekening. Hierdie is van die uitdagings wat die land vorentoe moet aanspreek, het hy gesê.
'n Taakspan is aangestel om te keer dat die land nie in dieselfde krisis sal beland as Amerika nie. Hy het bygevoeg dat die Regering sal voortgaan om spesiale aandag aan die maatskaplike noodverligtingstoelaag en maatreëls vir voedselsekuriteit te gee. Verdere spesiale aandag sal aan teen-mededingende gedrag gegee word.
Motlanthe het ook uitgewys dat misdaad nie vinnig genoeg afneem nie. Dit is 'n groot kommer dat roof met geweld in huishoudings en ondernemings aan die toeneem is en misdade teen vroue en kinders nie beduidend verminder het nie.
Hy het gesê dit wys na die swakhede in die buurte, veral in die bou van eenheid om te help om misdaad te voorkom en te bestry.
Dit wys ook na die sistemiese swakheid in die strafregstelsel - van die ondersoek van misdade tot die rehabilitasie van oortreders.
Dit wys na die swakheid in doeltereffenheid van die hofstelsel, in terme van tegniese- en ander infrastruktuur en bestuur.
6 Februarie 2009
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24