|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 09:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 88% |
| Wind: |
As die rooivleisbedryf in Suid-Afrika wil
voortbestaan en gedy, sal dringende bedryfsbesluite - sommige selfs ongewild -
geneem moet word om struikelblokke oor prysvorming, navorsing en reklame uit die
weg te ruim. Deur samewerking kan dié struikelblokke oorkom word.
Die verbruik van rooivleis in Suid-Afrika daal al die afgelope 20 jaar en een van die verklarings daarvoor is dat dié vleis taamlik duur is, vergeleke met wit vleis.
Hierdie verduideliking bevat 'n element van waarheid, maar wêreldwyd ervaar die rooivleisbedryf dat ekonomiese oorwegings (die prys, inkomste en die prys in verhouding tot ander produkte) nie meer die grootste impak op die verbruik van rooivleis het nie.
Volgens onlangse navorsing oor rooivleisverbruik in Europa het ekonomiese faktore se rol aansienlik verklein in die besluit om rooivleis te koop of nie. Sogenaamde nie-ekonomiese faktore, soos voedselveiligheid, dierewelvaart, die impak op gesondheid, sensoriese eienskappe (smaak, sagtheid, kleur) en gerief speel deesdae nét so 'n groot rol in die besluit om rooivleis te koop.
Dit beteken dat die beeld van rooivleis as produk 'n al hoe groter rol speel in verbruikers se besluit om hierdie produk te koop.
Hierdie verskynsel kom ook in Amerika en Australië voor, waar die rooivleisverbruik per kop voorheen dieselfde neiging as in Suid-Afrika getoon het. Daadwerklike bemarkingsaksies om die beeld van rooivleis te verander, het veroorsaak dat die rooivleisverbruik per kop in sowel Amerika as Australië aan die toeneem is.
In Australië, byvoorbeeld, is intensiewe navorsing gedoen om die voedingkundige voordele van rooivleis te bepaal en om die bevindinge aan dieetkundiges en mediese dokters oor te dra. Waar net 30 % tot 40 % van dieetkundiges en dokters in die verlede aanbeveel het dat mense drie tot vier maal per week rooivleis eet, doen 70 % tot 80 % nou dié aanbeveling.
Die Australiese inisiatief is aangevul deur bemarkingsaksies wat regstreeks op verbruikers gerig is - 'n advertensieveldtog met die slagspreuk "Feel so good". Uit die aard van die saak kon hierdie inisiatiewe net slaag as dit gaan oor 'n produk van die regte gehalte. In Amerika het 'n soortgelyke veldtog daarin geslaag om die rooivleisbedryf se omset met $200 miljoen (R1,5 miljard) per jaar te verhoog.
Die situasie in Suid-Afrika is heel anders. Wanneer laas was daar sprake van 'n nasionale veldtog gemik op die vergroting van rooivleisverbruik?
Die tweede struikelblok hou verband met navorsing in die rooivleisbedryf. Die afgelope twee jaar het die bedrag geld wat deur die Rooivleisnavorsing- en ontwikkelingstrust vir navorsing begroot is, net sowat 0,02 % van die omset van die rooivleisbedryf behels. Dit vergelyk swak met die internasionale norm dat ten minste 5 % van 'n bedryf se omset aan navorsing en ontwikkeling bestee behoort te word.
Selfs al word buite-navorsing in ag geneem, is dit onwaarskynlik dat die besteding aan navorsing en ontwikkeling naastenby 5 % van die omset van die rooivleisbedryf behels. Verder word sulke navorsing in baie gevalle as inklusief beskou.
Suid-Afrika het genoeg wêreldklasnavorsers wat internasionaal met die bestes kan meeding om 'n bydrae tot die welvaart van die rooivleisbedryf te lewer mits hulle toegang het tot die nodige ondersteuning en hulpbronne. As dít nie gebeur nie, staan die bedryf voor die risiko om, eerstens, hierdie vermoë te verloor en, tweedens, dat nuwe vermoëns nie gevestig word nie.
Michael Porter, die Harvard Business School se ghoeroe oor mededingendheid, meen dat enige bedryf wat internasionaal mededingend wil wees, onder meer sterk ondersteun moet word deur navorsing en ontwikkeling.
Akkurate syfers oor die getal vee wat geslag word, is sedert middel 1997 nie meer beskikbaar nie - gevolglik kan niemand met akkuraatheid bepaal hoeveel rooivleis beskikbaar is nie. Inligting oor die aanbod wat op skattings of berekende raaiskote berus, is net nie goed genoeg nie.
Dit is ook nie net inligting oor die aanbod van rooivleis wat gebrekkig is nie, daar is ook ander inligting wat veel te wense oorlaat. Dit lei tot wantroue en benadeel samehorigheid in die bedryf.
Geld moet dringend vir navorsing en reklame gevind word. Dit is 'n netelige saak, maar die resultaat sal waarskynlik 'n groter en volhoubare wins wees.
Betrokkenes in die bedryf moet besef dat hulle as vennote tot die breër voordeel van die bedryf saamwerk en dat integriteit nie onderhandelbaar is.
Verskeie ander kwessies wek ook kommer, soos veediefstal en invoer, maar dié wat hierbo genoem word, verg dringend aandag.
Dit plaas 'n groot verantwoordelikheid op die leiers wat vooruit moet dink. Dit kan meebring dat ongewilde besluite wat die bedryf ten goede sal wees, soms geneem moet word, maar goeie leierskap en gewildheid is nie altyd sinoniem nie.
Indien die rooivleisbedryf in Suid-Afrika wil voortbestaan en gedy, sal die struikelblokke wat mededingendheid vandag beïnvloed, dringend aandag moet geniet.
Dr. André Jooste is verbonde aan die departement landbou-ekonomie aan die Vrystaatse Universiteit. Sy foonnommer is 051 402 3359, of 083 307 3703.
4
Julie 2003
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24