|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 09:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 88% |
| Wind: |
Daar is niks verdag aan die versoek wat die Woodlands-melkery aan die Kommissie vir Internasionale Handelsadministrasie (ITAC) gerig het dat regulasie 470,03 weer op die melkbedryf van toepassing gemaak word nie.
Dié maatskappy wil dit bloot as werktuig gebruik om beter marktoegang vir sy klante op die uitvoermark te beding en om sy buitelandse mark te beskerm, sê dr. Hennie Kleynhans, besturende direkteur van die Woodlands-melkery op Humansdorp.
Ingevolge regulasie 470,03 kan Suid-Afrikaanse verwerkers aansoek om 'n permit doen om nie 'n invoertarief op sekere grondstowwe te betaal nie mits waardetoevoeging in Suid-Afrika plaasvind en die eindproduk binne 'n bepaalde tydperk uitgevoer word. Omdat die regulasie in die verlede ten opsigte van melkprodukte misbruik was, is dit vir die betrokke sektor gestaak. In die plek daarvan kan invoerders van melkprodukte regulasie 521,00 gebruik. Daarvolgens kan die invoertarief eers teruggeëis word ná die goedere uitgevoer is.
Kleynhans het aan Landbouweekblad gesê sy produsente het hom reeds 18 maande gelede genader om meer uitvoergeleenthede te ontgin. "Omdat melkproduksie al hoe meer seisoenaal word, ontstaan daar sekere tye van die jaar tekorte wat dit moeilik maak om buitelandse klante reg deur die jaar volhoubaar van melkprodukte te voorsien."
"Produkte wat ingevolge item 521,00 ingevoer word, benadeel nie net Woodlands se kontantvloei nie, maar stel ons ook onnodig aan wisselkoersskommelinge bloot. Dit benadeel ons mededingendheid op die uitvoermark. Die doel is nie om regulasie 470,03 te gebruik om melkprodukte in Suid-Afrika te verkoop nie, maar om die surplus te verwyder en in die tye wat daar 'n tekort in die binnelandse melkvoorsiening is, ons uitvoermark te beskerm."
Die MPO gaan Woodlands se versoek teenstaan. Me. Barbara Bieldt, bestuurder van internasionale handel by die MPO, sê dié stap is nie teen Woodlands as sodanig gemik nie, maar omdat dit deur invoerders in die verlede misbruik was. "Melkprodukte is teen gesubsidieerde pryse ingevoer, die tarief is nie daarop betaal nie en is boonop in die binneland verkoop."
Kleynhans sê dit is duidelik daar bestaan 'n misverstand in die bedryf oor invoer. "Enige instansie kan melkprodukte invoer as die nodige heffing betaal is. Regulasie 470,03 het uitsluitlik ten doel om uitvoer aan te moedig. As die betrokke vergunning misbruik word, is dit 'n oortreding wat deur die SA Inkomstediens gekontroleer behoort te word. Woodlands is bereid dat al sy transaksies geoudit word om produsente die gemoedsrus te gee dat die versoek nie daarop gemik is om die binnelandse mark te benadeel nie".
12 Augustus 2005
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24