|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 09:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 88% |
| Wind: |
Die departement van landbou in Noordwes staan nog stewig, "anders sou ek nie vandag hier gewees het nie," het mnr. Mandlekosi Mayisela, LUR vir die landbou in dié provinsie, gesê.
Hy het aan Landbouweekblad gesê hy distansieer homself van vroeë uitsprake deur die provinsiale tesourier van finansies, me. Maureen Modiselle, dat daar "nie meer 'n departement van landbou in Noordwes is nie".
Sy het aan die parlementêre komitee vir finansies gesê 'n gebrek aan kundigheid, bedrog en korrupsie het dié departement lamgelê. Sy het ook genoem dat dit onwaarskynlik is dat meer as 2 % van die departement se toekenning van R140 miljoen vanjaar bestee sal word.
Volgens haar het die provinsie teen einde Desember slegs 1,2 % van sy huidige toekenning van R55 miljoen vir die landbou bestee. Net nagenoeg 0,8 % van die toekenning van R91 miljoen vir infrastruktuur in Noordwes is ook tot dusver bestee.
Mayisela het die komitee verseker dat alles in orde is en dat hy liewer nie die verslag van Modiselle wil betwis nie. "Die tesourie gebruik 'n ander berekeningsformule as ons. Ons sal saam die feite oor dié kwessie moet versoen," het hy gesê.
Die departement van landbou in Noordwes asook die een in die Vrystaat het in hul onderskeie voorleggings heftig deurgeloop oor die miljoene rande wat nie op projekte bestee is nie. Die Vrystaatse departement is veral geroskam oor sy onbestede bedrag van R57 miljoen, terwyl parlementslede meen dat daar talle uitdagings in dié provinsie is.
Lede van die komitee wou veral weet hoe provinsies "armoede kan pleit" terwyl geld nie bestee word nie.
Probleme met vermoë is ook as 'n onaanvaarbare verskoning afgemaak "omdat dit jaar ná jaar die skuld kry".
Volgens die voorlegging het die departement van landbou in Noordwes in die boekjare 2004/05 en 2005/06 uit 'n bedrag van R7,6 miljoen niks bestee nie. Die LandCare-projek en droogteverligting uit 'n bedrag van R21 miljoen is daar ook niks bestee nie.
Mayisela se verduideliking was dat R16 miljoen van dié bedrag vir droogte eers in Desember ontvang is, terwyl daar reeds aankope van R3,1 miljoen vir die LandCare-projek gemaak is.
Oor afdankings in sy departement het Mayisela gesê dit volg op 'n forensiese ondersoek wat verlede jaar begin het en dat verdere afdankings nie buite rekening gelaat kan word nie.
Me. Ingrid Coetzee, nuwe hoof van die departement van landbou in Noordwes, sê die personeel is daartoe verbind en toegewyd om boere en kliënte onophoudelik te bedien. Dit behels die aanstelling van 'n senior bestuurspan, aanstellings in poste van kritieke belang, die werwing van skaars kundigheid en die herontplooiing van sekere personeel om dienslewering te bevorder.
Mnr. Tutu Ralane, voorsitter van die komitee vir finansies, het aan die afvaardiging van Noordwes gesê die komitee sal hulle in Julie vanjaar besoek om sake self onder oë te neem. Die portefeuljekomitee vir landbou en grondsake gaan ook later vanjaar in dié provinsie 'n draai maak.
3 Februarie 2006
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24