Aartappels is glo een van die maklikste maniere om ’n mens se bloeddruk te verlaag omdat dié groente die rykste bron van kalium in die groentewêreld is.
Só sê dr. Ina van Heerden, dieetkundige van die Landbounavorsingsraad (LNR), wat tydens die Suid-Afrikaanse Vroue-Landbou-unie (SAVLU) se driejaarlikse nasionale kongres as spreker opgetree het.
Die kongres vind tans by die Meulstroom Lodge naby Bronkhorstspruit (Gauteng) plaas.
Van Heerden sê die LNR, met die samewerking van Aartappels SA, het die aartappelkultivars Mondeol, Van der Plank, Darius en Up to Date getoets om uit te vind watter eienskappe al dié aartappels gemeen het.
Gevriesdroog en fyngemaal
Ses aartappels van elke kultivar is met die skil aan in ’n oond teen 180 °C gebak tot gaar. Die onderskeie kultivars is toe gevriesdroog en fyngemaal om te verseker dat die aartappelskil eweredig verspreid was.
Die fyngemaalde aartappels is toe ontleed en ooreenkomste, wat al die kultivars gemeen het, is aangeteken.
Volgens die navorsing bevat aartappels min natrium en is dit die beste bron van kalium (van alle groente), ’n goeie bron van chroom en bevat dit geen vet nie.
Kalium verlaag bloeddruk en is noodsaaklik vir selgroei. Aartappelskille is nie net die beste natuurlike bron van kalium nie, maar die groente is boonop relatief goedkoop. Daarom bied dié groente goeie waarde vir geld.
Die Glukemiese Indeks (GI) van aartappels is ook getoets. Die onderskeie kultivars het verskillende vlakke, wat wissel van medium tot hoog.
Voorbereiding het invloed
Van Heerden sê die voorbereidingsproses het ’n groot invloed op die gesondheidswaarde van aartappels. ’n Gebakte aartappel is byvoorbeeld heelwat gesonder as ’n pakkie aartappelskyfies.
Sy maan dat verbruikers in gedagte moet hou dat verwerkte fabrieksprodukte dikwels nie dieselfde gesondheidswaarde as die oorspronklike groente het nie. “Die verwerkingsproses verander dikwels die proteïenstruktuur van kos. In die geval van aartappels gaan kalium byvoorbeeld dikwels verlore terwyl daar sout bygevoeg word.” Daarom is ’n meer natuurlike produk beter as ’n verwerkte produk.
Van Heerden sê ook porsiegroottes is belangrik vir ’n gesonde dieet.