Die Regering bekommer hom oor mag – nie oor sy mense nie, het mnr. Mike Mlengana, voorsitter van die African Farmers’ Association of South Africa (Afasa), op dié organisasie se kongres in Centurion gesê.
Daar moet ’n program wees vir regeringsopleiding sodat leiers verstaan dat hulle verantwoordbaar is teenoor ander en dat hulle leer om mense te eerbiedig. “Die Regering is bang vir aandeelhouers.”
Hy het boere aangemoedig om koöperasies te vorm om sodoende beleid te kan beïnvloed.
Mlengana het ook melding gemaak dat Afasa voorbrand wil maak vir ’n begroting van R1 miljard om onder meer ’n mielie-aanleg tot stand te bring waar kleinboere hul oes kan lewer vir onmiddellike betaling. Die oogmerk is om veral vroueboere aandeelhouers daarvan te maak.
Goeie verhouding
Mnr. Aggrey Mahanjana, uitvoerende direkteur van Afasa, het in sy bedryfsverslag dank uitgespreek teenoor Agri SA en die RPO, wat sy mentors was. Hy het gesê Afasa het ’n goeie verhouding met Agri SA en die TLU SA, en het boere aangemoedig om deel te word van die kommersiële bedryfsorganisasies. “Julle sal verbaas wees oor die ondersteuning wat van hulle ontvang word.”
Hy het laat blyk dat verskeie van dié organisasies voelers uitgesteek het vir aansoek om lidmaatskap van Afasa. Graan SA se aansoek om lidmaatskap is op die kongres goedgekeur.
Sowel hy as Mlengana het klem gelê op die belangrikheid van integriteit, deursigtigheid en verantwoordbaarheid vir die organisasie en gesê daar is reeds ontslae geraak van mense “wat by die agterdeur” wou inkom vir eie gewin.
Die organisasie se mikpunt is 10 000 lede teen Desember.