Openbare verhore het die afgelope week plaasgevind rakende die Departement van Waterwese se voorgestelde tariefaanpassings vir die 2013/’14-boekjaar. Een van die voorstelle is dat tariefstygings vir bedryfs- en onderhoudskostes van waterinfrastruktuur
tot 20% beperk moet word.
Agri SA sê hy het die departement versoek om dié beperking op 20% vas te stel, soos wat met die bepalings vir die 2012/’13-boekjaar die geval was.
Luidens ’n verklaring is die voorstel vir die koste van waardevermindering rakende infrastruktuurkoste op 1,5c per kubieke meter, plus die toepaslike produksieprysindeks (PPI) persentasie, vasgestel.
Verder is voorgestel dat besproeiingstariefstygings beperk word tot April vanjaar se PPI van 6,6%.
Besproeiingskoste wat in dié jaar 1,5c per kubieke meter behaal het, moet tot 1,5c per kubieke meter beperk word.
Beperkte kapasiteitVolgens Agri SA is plaaseenhede se vermoë om
hoër watertariewe te absorbeer, baie beperk. “Produsentepryse vir die tuinboubedryf, wat van besproeiing en die gebruik van water op groot maat afhanklik is, het in 2011/’12 net met 5,9% verhoog, wat ’n aanduiding is van ’n baie beperkte vermoë om drastiese stygings in produksiekoste te absorbeer,” aldus Agri SA.
Ander kostestygings wat die land se boerderye die afgelope jaar onder groot druk geplaas het, is stygings van 15,9% in kragtariewe, 9,3% in die koste van arbeid en 17,6% in brandstofkoste.
Die volhoubaarheid van produksie onder besproeiing sal bedreig word deur nog kostestygings, waarsku Agri SA. Dít sal ook ’n nadelige impak op voedselsekerheid, landelike ontwikkeling en ekonomiese groei hê.