Die ANC se beleidskonferensie beegin op 26 Junie 2012 in Midrand.
Met die ANC se beleidskonferensie wat in Midrand begin, vra Agri SA dat “nugter denke” – wat tot die ekonomiese welstand van die landbou sal lei – sal seëvier.
Ná maande lange spekulering oor wat die
ANC se
beleidskonferensie, wat Dinsdag (26 Junie 2012) begin, kan oplewer, lê die kongres in Midrand om die draai en die landbousektor vra vir “nugter” denke wanneer grondkwessies bespreek word.
Mnr.
Johannes Möller, voorsitter van
Agri SA, sê die organisasie vertrou dat ekonomiese groei dié week op die voorgrond sal wees.
“Ek hoop ook dat ons op die 53ste ANC-konferensie daarna terug kan kyk as ’n waterskeiding waar die ekonomiese welstand van die landbousektor ’n prominente posisie gegee is,” aldus Möller.
Volgens Möller besef hulle dat dié sektor ’n gunstige bydrae moet lewer wat werkskepping, die verligting van armoede en huishoudelike voedselsekerheid betref.
Wag en sien Möller sê die konferensie sal nutteloos wees as die party nie aandag skenk aan faktore wat die land in ’n afwaartse spiraal kan laat verval nie. Hy sluit korrupsie,
swak dienslewering en die onvermoë om gesonde beleid in te stel – wat ook grondhervorming raak – by dié faktore in. “Die land kan nie meer ’n ‘wag en sien’-benadering tot beleggers bekostig nie.”
Die ANC se
Progressive Business Forum sal gelyklopend met die vier dag lange konferensie plaasvind, en Agri SA is uitgenooi om daaraan deel te neem. Volgens Möller sal hulle dié geleentheid gebruik om ministers en ander regeringsbeamptes in te lig oor die kwessies wat die landbou in die gesig staar.
“Die landbousektor kan, mits ’n bevorderlike beleidsomgewing bestaan, beslis bydra tot die bou van ’n trotse toekoms vir die land, ook met betrekking tot politieke doelstellings wat deur die ANC as van uiterste belang beskou word,” aldus Möller.