Agri SA wil aanslae op grond in hof beveg

Deur Nico van Burick
11 Augustus 2017
Agri SA wil R38 miljoen insamel om onregmatige aanslae op grond in die howe te beveg.

Agri SA is oorgehaal om enige onregmatige aanslag op die besit van landbougrond, die omgewing en die Grondwet in die howe te beveg. Om dié doelwit te bereik sal die organisasie ’n Artikel 21-maatskappy stig en dit afsonderlik administreer.

Die mikpunt is om minstens R38 miljoen vir toekomstige regsgedinge in te samel, het mnr. Ernest Pringle, voorsitter van Agri SA se landbou-ontwikkelingskomitee  op Agri Oos-Kaap se kongres bekend gemaak.

Mnr.  Omri van Zyl, uitvoerende direkteur, het op navraag daaroor gesê Agri SA sal ander organisasies binne die georganiseerde landbou en ook in die res van die burgerlike samelewing daarby wil betrek en hande vat oor kwessies van gemeenskaplike belang.

In belang van hele SA
“Ons beoog hierdie onderneming nie net in belang van die landbou nie, maar die hele Suid-Afrika. As die landbou vou, vou die breër ekonomie ook. Dit strek dus wyer as net ons eie lede. Ons wil graag die hele burgerlike samelewing in die proses mobiliseer. Regsgedinge is duur, maar as ’n miljoen mense elkeen R100 gee het jy skielik R100 miljoen beskikbaar.

“Ons sien baie keer goed raak wat die algemene publiek nie sien nie, soos bedreigings in eiendomsregte.”

Hy sê dit gaan oor kwessies soos grondwaardasies, grondplafonne, onteiening en ook oor wyer kwessies soos die ontginning van skaliegas en waterregte. Agri SA het reeds met ander organisasies, soos die Wêreldnatuurfonds (WWF), in die verlede saamgewerk.

Agri SA beoog ’n media-veldtog saam met die amptelike bekendstelling van die fonds.


Kommentaar

Kommentaar (4) “Agri SA wil aanslae op grond in hof beveg

  1. Aj roukem
    Aj roukem

    Julle het my R100 met plesier

  2. Elize Botha
    Elize Botha

    Ek sal dit met liefde gee, daar is n onwettige grondeis op ons plaas waarmee ons sukkel. Die vorige eise was afgehandel en nou is daar kamstig n nuwe eis. Kan nie die grond verkoop kry nie. TLU het destyds die eiese afgehandel vir die boere in Koster. Maar nog steeds het die regering mens aan die kort hare beet

  3. butch
    butch

    ongelukkig is dit die pad wat mens met n roekelose regering loop – hul administratiefregtelike handelings moet ingevolge die grondwet aan sekere vereistes voldoen – dit moenie ultra vires wees nie – dis dan wanneer die grondwethof hul pakgee – soos die onwettige proklamasie dat geen verdere mynlisensies uitgereik gaan word nie – en zwane gaan nog persoonlik die regskoste daarvan betaal ook – so sal die grondwethof belaglike eise ten opsigte van grond ook stop

  4. Fj
    Fj

    Ek sal ook n R100 gee


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Verwante artikels