Die Kabinet bespreek tans die kwessie van
hidrobreking en
skaliegasontginning in die Karoo asook die verslag wat ’n taakspan oor dié mynmetode se invloed op daardie deel van die land saamgestel het. Mnr. Jimmy Manyi, regeringswoordvoerder, het dié inligting Woensdag (22 Augustus 2012) in Pretoria bekend gemaak.
Luidens ’n
berig op
Fin24.com sê Manyi die kwessie geniet die Kabinet “se volle aandag. ‘‘Sodra die besprekings in die verband afgehandel is, sal alle belanghebbendes, insluitend die media, ingelig word.
Volgens die berig is druk op Manyi geplaas om aan te dui op watter datum die aankondiging sal plaasvind, waarop hy geantwoord het: “’n Meer akkurate prentjie sal duidelik word in die Kabinetsbespreking . . . (wat) ’n bietjie meer detail sal verskaf.”
Opheffing van moratoriumIntussen verwag die
Treasure the Karoo-aksiegroep (
TKAG) dat die
moratorium op die myn van skaliegas en die gebruik van hidroliese breking deur die Kabinet opgehef sal word. Dít sal die pad oopmaak vir die Departement van Minerale Hulpbronne om lisensies vir prospektering in dié verband aan Shell, Bundu en Falcon toe te staan.
Mnr.
Jonathan Deal, voorsitter, sê hulle verwagting is gegrond op die uitsprake wat mnre. Dipuo Peters, Minister van Energie, en Trevor Manuel, Minister in die Presidensie, in die media oor die kwessie gemaak het, asook op die feit dat me. Susan Shabangu, Minister van Minerale Hulpbronne, se taakspan sy verslag “in die geheim” voltooi het.
RegstappeDeal sê hul regspan asook ander regspanne werk aan sake wat sal volg as die moratorium opgehef en lisensies vir prospektering toegestaan word. Hy sê sekere foute is al in die proses rondom die moratorium en die oorweging van lisensie-aansoeke uitgewys, en dié foute sal deel wees van die regsproses.
Verder is die
TKAG van plan om Shabangu aan ’n belofte te hou wat sy by ’n geleentheid van die Kaapstadse Persklub gemaak het. Deal sê Shabangu het aangedui dat die taakspan se verslag vir openbare kommentaar aan die publiek beskikbaar gestel sal word voor enige besluite oor die moratorium en die myn van skaliegas in die land gemaak sal word.
Bron:
Fin24.com