Boer bekommerd oor sinkgat op plaas

Deur Corli van der Merwe
11 Januarie 2017
'n Aardskeur of sinkgat wat onlangs naby die R31 tussen Daniëlskuil en Kuruman gevorm het, is moontlik lewensgevaarlik vir padgebruikers van dié omgewing.

Die aardskeur of sinkgat wat vandeesweek op die plaas Mount Carmel tussen Daniëlskuil en Kuruman gevorm het, is ’n gevaar vir gebruikers van die R31 wat dié twee dorpe verbind.

Só sê mnr. Andries van Zyl oor die skeur wat binne twee uur ná hewige reën in die omgewing gevorm het. Die skeur is sowat 300 m lank en op plekke tot 30 m diep en 10 m wyd.

Onveilige situasie
Van Zyl het aan Landbou.com gesê hy is bekommerd oor die veiligheid van die R31 en reken die pad behoort gesluit te word. “Die kraak, soos hy ingeval het, eindig sowat 4 m van die skouer van die pad af. Die ondergrondse spasie loop duidelik onderdeur die pad. Die pad het ’n ruk terug al gesak.”

Hy boer met wild, beeste en skape op die plaas en sê sy boerdery word nie te veel geraak deur die probleem met sinkgate nie. “Ek span die gat toe sodat dit nie ’n gevaar inhou nie,” sê hy.

Van Zyl sê daar was nog nie ingenieurs van die department van vervoer op die plaas om ondersoek in te stel na die sinkgat nie.

Dolomiet en sinkgate
Volgens Van Zyl is dié grond van hom en sy broers, Pietie en Wilhelm van Zyl, geneig daartoe om sinkgate of skeure te ontwikkel weens dolomietformasies. Dit is bekend dat sinkgate en skeure vorm wanneer reën en grondwater ondergrondse dolomietformasies wegkalwe.

Dié wegkalwing veroorsaak oop ruimtes onder die laag bogrond. Die bogrond kan onstabiel raak wanneer water ná goeie reën op die grond versamel en in krake in die dolomietformasie vloei. Sodra die “dak” bogrond nie meer stabiel genoeg is nie, val daar ’n kraak of sinkgat in die grond in.

Die wêreldbekende Boesmangat, een van die wêreld se diepste varswatergrotte, is op die plaas. Die grot is ’n besienswaardigheid in die omgewing en is veral gewild onder duikers.

* Intussen is die R31 gesluit nadat nóg reën in die omgewing geval het en die sinkgat tot sowat 3m van die pad af oopgeval het.


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Verwante artikels