Kykers kan begin regskuif vir al die aksie wanneer Boer soek ’n Vrou 5 vanaand op kykNET – nou op kanaal 144 – afskop.
Hierdie gewilde program het deur die jare deel van Afrikaanse kykers se lewe geword. Vanjaar se reeks gaan beslis nie teleur stel nie. Die aanbieder, Angelique Gerber, gaan maak môreaand weer ’n draai by die tien boere vir wie vroue ’n briefie in die pos kon gooi.
Volgende week speel sy posman en lewer die briewe af. Die vyf boere wat die meeste briewe ontvang het, sal daarna tien vroue kies vir blitsafsprake. Daarna kies hy vyf saam met wie hy op ’n uitstappie gaan. Die uitstappies is gewoonlik groot pret, maar ons boere moet hul oë en ore oophou, want hy moet ná die uitstappie twee vroue groet. Die drie vroue wat oorbly, kan hul tasse pak vir ‘n kuier op die plaas!
Vanjaar se program lewer ‘n paar interessante kinkels in die kabel op, want die formaat het effens verander. Maar ons verklap niks daaroor nie – volg die boere in hul soeke na liefde om meer uit te vind!
Boer soek ’n Vrou word 20:00 uitgesaai.
Die tien hubare manne:
Jasper (32) is ’n skaap-en-beesboer van die Noord-Kaap. Hy was voorheen ’n ingenieur, maar wou nie die plaaslewe vir die stad verruil nie.
Hubert (29) is ’n bees-en-saaiboer in die Vrystaat. Hy is ook ’n geoktroieerde rekenmeester wat ’n praktyk met sy broer in Pretoria deel.
FJ (23) bedryf ’n skaap-, bees- en saaiboerdery in Mpumalanga. Boerdery is in sy bloed en hy glo as ’n mens eers geboer het, doen jy nooit weer iets anders nie.
Naas (29) boer met beeste, mielies, skape en sojabone in Mpumalanga. Hy hou van hengel, kampeer, die buitelewe, diere, dans en lekker Afrikaanse musiek.
Louis (26) se vrugte-en-wynplaas is in die Wes-Kaap. Hy is ’n grapmaker met ’n ernstige sy. Louis is gek oor sport en sy motorfiets.
Arno (23) bestuur ’n wyn-en-perskeplaas in die Wes-Kaap. Sy ideale vrou is ’n opregte mens. Sy is aantreklik, lief vir diere en hou van kos maak.
Piro (32) is ’n skaapboer van die Karoo. Hy is ’n boerseun in murg en been en is op sy gelukkigste tussen sy diere op die plaas. Hy is hardwerkend en perfeksionisties, maar sit graag tyd opsy om kos te maak en in die tuin te werk.
André (25) boer met Bonsmaras, skape en wild in Mpumalanga. Hy besit ook ’n forel-lodge. André is ’n familiemens wat baie geheg is aan sy eenjarige dogtertjie. Hy is ook gek oor sport en het onder meer aan wêreldbekertoernooie in yshokkie deelgeneem.
Herman (42) is ’n beesboer van die Vrystaat. Hy is geskei en het twee seuns. Herman was ’n prokureur, maar het die kantoor vir die buitelug verruil.
Francois (28) boer met mielies in die Vrystaat. Hy speel graag golf en geniet ’n lekker boere-braai. Bergfietsry is ’n nuwe passie in sy lewe.