Boere wil met natuurbewaringsorganisasies saamwerk om te verseker die beste metodes word gebruik om die impak van roofdiere op veeverliese te beperk, sê mnr.
John Durr, voorsitter van die Wes-Kaapse Rooivleisprodusente-organisasie (RPO).
Hy sê hulle is ten gunste van die gebruik van die sogenaamde beenhoutoestel oftewel soft trap om roofdiere te vang, en die wegdoen van die ou slagysters. Dié toestel word ook deur
Kaapse Natuurbewaring aanvaar as ’n metode om roofdiere van kant te maak.
Die kwessie van die jag van roofdiere, die gebruik van vangtoestelle en die
impak wat roofdiere op veeverliese het, is dié week weer aangeroer in ’n insetsel van die aktualiteitsprogram 50/50. Volgens dié program het jakkalse, rooikatte en verskeie ander roofdiere 350 jaar laas sonder sorge in die Wes-Kaap voorgekom.
Die program het onder meer gefokus op die gebruik van die beenhoutoestelle asook op bewerings dat boere tientalle jakkalse of rooikatte per jagsessie van kant maak. In antwoord op die jagbewerings sê Durr: “Nee, een man kan sowaar nie soveel diere op een slag doodmaak nie. Ek kan my nie indink hoe dit moontlik sal wees nie, en ek het ook nog nooit daarvan gehoor nie.”
Hy sê dit kan moontlik wees as tien mense, byvoorbeeld lede van ’n jagklub, saam jag. “Maar die jagklubs bestaan lankal nie meer nie.”
ReaksieDie program het ook reaksie onder
Landbouweekblad se
Facebook-gebruikers uitgelok. Hier is van die kommentaar wat op die blad geskryf is:
Mnr. Martien Roux sê: “En as die mens nie orde bring in daai roofdiere nie, wat (gaan) hulle anders onder beheer bring? Want wat moet ek as skaapboer doen wat elke aand 5 tot 8 lammers verloor? Al wat ek vra, vat by daai groen mense of wie hulle ookal mag wees net ’n R1 000 ’n maand weg en hoor hoe spring hulle in die lug op.”
Volgens Karin du Preez Miller bestaan ander metodes: “Ek het gekyk en amper begin huil toe ek die ‘soft trap’ sien!! Dis mos onmenslik! Ons buurman gebruik radio's wat heelnag speel en hy het bitter lank laas skape as gevolg van roofdiere verloor!”
Me. Drienie Rautenbach vertel dat sy tans 500 ooie het wat lam, en dat sy Dinsdag, 30 Oktober 2012, ’n tweeling-lammers weens ’n jakkals verloor het. “Moet ek dit los? Mense wat dink hulle leef na aan die natuur om jakkalse te ‘‘bewaar’’ is so ver van die waarheid af, dis om van te skree! Ek het my pa gekry om my te help (om) jakkalse te jag, en nie in die dag nie, jy kry hom in die nag. Wens daai mense met hul bewaring kan een oggend saam met my loop ooie toe en sien hoe blêr en soek daai ooi haar lammers! Dalk sing hulle ’n ander liedjie! Sover ek kan, sal jakkalse vrek! Dit geld vir rooikatte ook!”
Op sy beurt vra mnr. Johan Rautenbach: “Ek hoor (dr.) Bool Smuts (direkteur van die Landmark-stigting) sê in die program ‘boere stel slagysters vir ekonomiese gewin’. Wat beteken dit? Ek wonder of hy diefwering of ’n alarm in sy huis het. Of moet mens nie iets doen om jou goed te beskerm nie?”
Bronne:
Facebook - en
50/50