Boere staan tussen vrede en rewolusie

Deur Nico van Burick
13 September 2017
Rewolusie word afgeweer deur boere wat kos op die land se groeiende bevolking se tafels sit.

Die enigste mense wat ’n verskil kan maak tussen vrede en ’n volskaalse rewolusie is ’n land se boere, want hulle plaas kos op mense se tafels, sê mnr. Christo van der Rheede, adjunk-uitvoerende hoof van Agri SA.

Hy het tydens die voortsetting van ’n bemagtingsprojek vir jong boere saam met Agri Gauteng in Pretoria gesê Suid-Afrika sit met ’n groeiende bevolking en as hierdie bevolking gaan honger ly, is die land in ernstige moeilikheid. “Ons moet verby die kwessie van swart en wit beweeg. Kom ons stop die vyandigheid, verenig en werk almal saam om die bevolking te voed.”

“Die Regering gaan dit nie doen nie. Wys my politici wat suksesvol kan boer. Ons kan nie sit en wag dat die Regering vir ons iets moet doen nie. As jy as boer net wil wag tot die Regering jou help, los liewer die boerdery en gaan werk vir ’n staatsdepartement. Boere maak dinge werk vir hulle. Hulle weet hoe om na hulself om te sien en ook mekaar se belange te beskerm.”

Soos ’n taxi se onderdele
Dr. Willem Pretorius, voorsitter van Agri Gauteng, het boerdery met onderdele van ’n taxi vergelyk. “Eerstens is daar die wiele wat aan die rol moet bly vir die taxi om ’n inkomste te verdien. Só moet ons die wiele aan die rol hou deur voortdurend te bou aan ons verhoudings en dit uit te brei.

“Die stuurwiel bepaal die rigting waarin die taxi beweeg. As ons met integriteit en eerlikheid ons rigting bepaal waarin ons wil beweeg, kan ons dit saam doen. Dan is daar ook die venster waardeur ons kyk om te sien waarheen ons beweeg. Deur te gaan kyk na suksesvolle klein boerderye en met mentors te praat kan nuwe boere sien waarheen hulle wil beweeg.”

Die bemagtigingsprojek van Agri SA saam met Agri Gauteng het verlede jaar afgeskop met gesprekke tussen jong belangstellende boere en landboumaatskappye oor die dienste wat beskikbaar is. Dit is verlede week voortgesit met besoeke aan suksesvolle klein boerderye noordoos van Pretoria sodat die nuwelinge eerstehands by boere kan leer.


Kommentaar

Kommentaar (2) “Boere staan tussen vrede en rewolusie

  1. mkruger
    mkruger

    Ja tot die massas oortuig is die kosvoorsieners is die vyand.

    Kyk maar wat het in Zimbabwe gebeur.

    En die res van afrika waar die wit boere vermoor en verjaag is.

  2. Marius
    Marius

    My gevoel is dat n revolusie in elk geval op ons voorstoep le. Soos boere en slaggoed uitgemoor word is dit nie meer lank nie. Het 8 jaar terug gese in 2020 is ons waar zimbawe is. Soos dit nou lyk dalk nog vroeer


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Verwante artikels