Bradfield: Tegnologie agri se toekoms

Deur Verslaggewer
19 Junie 2017
Suid-Afrika moet meer geld aan navorsing en ontwikkeling bestee en wetenskaplik boer.

Tegnologiese vooruitgang is die dryfkrag vir die ontwikkeling van die wêreldlandbou en boere wat wil voortbestaan, sal moet byhou sê dr. Michael Bradfield, uitvoerende hoof van Breedplan SA.

Hy sê as ’n mens na die prysverskil tussen bees- en hoendervleis kyk, kos beesvleis meer as dubbeld soveel per kilogram as hoender. Die enigste regverdiging vir dié duurder prys is die verbruiker se liefde vir die produk. “Wat gee die veebedryf ’n bestaansreg as dit nie bereid is om geneties aan te pas nie?” vra hy.

Bradfield sê vooruitgang in genetiese tegnologie gaan waarskynlik die grootste rol in die toekoms van die landbou speel. Deur seleksie het boere in Amerika dit reeds reggekry om Angusbeeste te teel wat elke 3,2 kg mielies in ’n kilogram vleis omskakel.

Meer kos verbou
In Suid-Afrika is die gemiddelde omskakelingskoers nog 5,6 kg mielies per kilogram vleisgewig. Hy sê Suid-Afrika moet meer geld aan navorsing en ontwikkeling bestee en wetenskaplik begin boer.

“As ons ons vleisbeeskudde se kalfpersentasie met 1 kan verbeter en ons speengewig met 1% kan verbeter, beteken dit R4,5 miljard meer inkomste oor ’n tydperk van 10 jaar.” Dieselfde geld gesaaides. Daar is net twee maniere om meer kos te verbou. Die eerste is om meer grond te bewerk, ’n opsie wat net tot op ’n bepaalde punt uitgeoefen kan word, en daarna is die enigste ander uitweg om meer produktief te boer.

Bradfield sê die vier faktore wat as dryfkrag vir produktiwiteit benut moet word, is meganisasie, besproeiing, chemikalieë en teelmateriaal. Suid-Afrika moet op hierdie velde bybly, het hy gesê.


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Verwante artikels