Altesame 177 777 ha veld het tot dusver vanjaar weens veldbrande in die Vrystaat in die slag gebly. Mnr.
Malcolm Procter, adjunkdirekteur van bos- en veldbrandoorsig van die Vrystaatse departement van landbou, bosbou en visserye, sê dié syfer is presies 100 000 ha minder as die totale syfer van hektare verlede jaar in die provinsie gebrand.
Die afgelope naweek, 18 en 19 Augustus, het sowat 1 000 ha gebrand. Sowat 500 ha het naby Petrus Steyn afgebrand, terwyl die ander brande naby Ficksburg en Zastron voorgekom het.
OndersoekeIntussen ondersoek forensiese deskundiges die ontstaan van brande in die omgewings van
Verkeerdevlei en
Hertzogville. Die vermoede bestaan dat dié brande die gevolg was van brande wat by munisipale stortingsterreine gestig is, en moontlik nie bestry is nie. Boere het verlede week aangedui dat hulle regstappe sal oorweeg as bevind word dat munisipaliteite nalatig was.
Die
brande wat by Dewetsdorp en Hobhouse voorgekom het, is vermoedelik deur kragdrade wat laag gehang het, veroorsaak. Procter sê dié sake word ook ondersoek.
’n Reusagtige brand, waarin 55 000 ha in die distrik Memel in die slag gebly het, is vermoedelik deur ’n trekker se uitlaatpyp veroorsaak, maar nog geen finale bepalings kon in dié verband gedoen word nie. Procter sê geen regstappe word in dié stadium in hierdie geval oorweeg nie.
AartappelmoereSkenkings van voer, weiding en kontant stroom intussen steeds in vir boere wat weens die brande hul weiding of veevoer kwyt is. Mnr. Charl Nel, bemarkingsbeampte vir die
Wes-Vrystaatse Aartappelmoerkwekers, sê hulle sal aartappelmoere wat geskik is vir veevoer, gratis aan boere voorsien.
“Die moere se tyd om ekonomiese waarde vir aanplanting te hê het uitgeloop, maar dit is nog in ’n goeie toestand vir gebruik as voer,” verduidelik Nel.
Enigiemand wat in dié skenkings belang stel kan Nel by cnel@wvmoere.com of 082 388 0522 kontak.