Chris Burgess: Swaarkry maak boere beter

Deur Chris Burgess
17 Julie 2017
Suid-Afrikaanse boere is 'n bietjie soos die All Blacks, reken Chris Burgess. Hulle weier eenvoudig om te gaan lê.

Ek het met ’n eienaardige tevredenheid gesit en kyk hoe die All Blacks die toetsreeks teen die Britse en Ierse Leeus moes deel. Dit was eienaardig omdat ek nog nooit baie tyd vir die bleek Engelse kapokhaantjies gehad nie (die Iere is darem beter — hulle was minstens aan ons kant in die Anglo- Boereoorlog), maar ook omdat bewondering vir die All Blacks se geniale rugby ’n natuurlike reaksie is.

My tevredenheid met die gelykop uitslag was deels ook danksy die wete dat ek nie weer vir Gert Miggel sou moes probeer vermy nie. Ons gebou se joviale hoof van parkering is ’n vurige All Blackondersteuner (en ’n Stormer). Vroegoggend gesels hy graag rugby.

Op triestige, donker, Kaapse Maandagoggende loop ek gewoonlik draaie om Gert nadat die Springbokke weer aangejaag en die All Blacks ’n meesterrugbyklas opgelewer het. Maar die Maandagoggend ná die All Blacks-toets het ek moeite gedoen om Gert op te soek.

Almal sukkel soms
Afgesien van Gert was daar ook die bevrediging om te sien dat almal, ook die magtige All Blacks, ’n slegte dag op kantoor kan hê. Dinge kán verkeerd gaan, maak nie saak hoe goed jy is of hoe goed jy voorberei het nie. Die vet weet, dít is seker hoe baie boere voel.

In die noorde begin die groot herbou ná die droogte, maar ook net vir diegene wat kan. Ondanks die reën plaas die bitter lae kommoditeitspryse ’n remskoen op die hoop wat saam met ’n vol dam kom. Alles van pekanneute en mielies tot wild se prys het op ’n jaargrondslag meestal met dubbelsyfers gedaal.

Oor die regulatoriese omgewing kan ’n mens net jou kop skud. Dan is daar ook al die siektes, soos die skrikwekkende uitbreking van E. coli.

Plaasmoorde
Dit is egter die voortdurende plaasaanvalle, veral in Noordwes, wat ’n mens regtig mismoedig maak. Die mees onlangse slagoffer is die 58-jarige Dries Botha. Hy het aan sy skietwonde beswyk nadat hy op sy plaas buite Brits oorval is.

Dit was kort op die hakke van ’n rits ander moorde in dié provinsie. Verder vererger die droogte wat van die weste tot in die suide en die Oos-Kaap strek.

Erge benoudheid heers onder boere — van Calvinia in die Karoo se klipharde kleinveeboere wie se kontantreserwes nou op is tot die melkboere van Alexandria se Goue Myl, die wêreld se enigste droëlandmelkboere, wat weet hoe om ’n droogte te oorleef. In die winterreënsaaigebiede is ’n moeilike produksiejaar nou nóg moeiliker weens die onreg van ’n onvoldoende koringtarief.

Boere staan altyd weer op
Die swaarkry bring egter ook die beste in ons boere na vore. Die voertrokke hou nie op loop nie, en vir ander is die uitkoms nog wonderbaarliker.

Vir Werner Teubes, ’n boer van die plaas Tesselaarsdal by Caledon, was dit ’n inskrywing op die Facebook-groep Landbou Sosiaal oor hoe hy noodgedwonge sy Boran-kudde sou moes verkoop. Binne enkele ure het Kobus Oosthuizen uit Amerika laat weet Werner moet eers hokaai.  Dié Suid-Afrikaner, wat vir ’n Amerikaanse boer werk, stuur geld vir voer. Lees Werner se storie hier.

Wat kan ’n mens sê? Hulle is ’n bietjie soos die All Blacks, dié boere van ons. Soos enige wêreldklasspan weier hulle om te gaan lê, ondanks terugslae — hoe ernstig ook al. Dit is ’n besonderse eienskap, een waarvoor ek myself om ons boere se onthalwe heel gewillig aan Gert Miggel se spot sal onderwerp.

Chris Burgess is redakteur van Landbouweekblad. Hierdie is sy redakteursbrief in LBW van 21 Julie.


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Verwante artikels