Oor die volgende vier jaar gaan Clover tussen R5 miljoen en R10 miljoen aan sy naamborgskap van die Aardklop-kunstefees bestee. Die maatskappy het verlede jaar ’n vyf jaar lange ooreenkoms met dié kunstefees vir die borgskap onderteken.
Dr. Chris Lerm, die uitvoerende bestuurder van die maatskappy se afdeling vir handelsmerkuitbreiding en bemarking, sê R7,5 miljoen is verlede jaar aan die kunstefees bestee. Hy sê hulle is baie tevrede met wat hulle reeds uit die ooreenkoms gekry het.
Die produk van Clover wat verlede jaar die topverkoper op die fees was, is Aqua-water. Lerm sê Tropica was ook ’n gewilde produk. “Ons tak in Potchefstroom se verkope het tydens verlede jaar se fees die hoogte ingeskiet.”
Nie liefdadigheid
“Ons borgskap was ’n kommersiële besluit, dit is nie liefdadigheid nie. Ons sit geld in om vir die maatskappy en ons produsente geld te maak,” aldus Lerm.
Hy sê hulle is baie beïndruk met die span wat die kunstefees reël. Die twee spanne het die afgelope paar maande baie goed saamgewerk. “Ons sien baie uit na vanjaar se fees, veral aangesien ons nou 12 maande gehad het om te beplan, waar verlede jaar se beplanning binne twee maande moes plaasvind.”
Een van die veranderinge vir vanjaar se fees is dat Clover sy eie produkte sal versprei en verkoop. Lerm sê dít sal die maatskappy die kans gun om met die verbruiker self in kontak te kom. “Ons kan nou deel wees van die hart van die fees.”
Sowat 200 000 besoekers word by die jaar se fees verwag.