As Eskom besluit om met kragonderbrekings voort te gaan, kan ’n saak by die Verbruikerskommissie volg, sê die Demokratiese Alliansie.
Luidens ’n verklaring is die party vuur en vlam om verbruikers en sake-ondernemings wat deur Eskom se “onbillike” sakepraktyke geraak word, te beskerm.
“Die kommissie se mandaat, ingevolge die Wet op Verbruikersbeskerming (Wet 68 van 2008), is om enige optrede of praktyk wat die verbruiker onregverdig beïnvloed, te verhoed,” verduidelik die party.
Verder moet die kommissie regverdigheid bied ten opsigte van verbruikers se keuses om produkte te koop, wat elektrisiteit insluit.
Mnr. Sejamothopo Motau, die DA se verteenwoordiger vir energiesake, sê verbruikers word onregverdig behandel deur Eskom. “Nie net moet verbruikers die las van ’n reeks onregverdigbare kragprysverhogings absorbeer nie, maar nou word hulle ook aangesê om hul verbruik met 10% te verminder of onderbrekings te verduur.”
Swak sakepraktyke
Volgens Motau is dit nie verbruikers se skuld dat die land ’n energietekort het nie.
“Eskom se swak sakepraktyke moet die skuld kry vir die gemors waarin ons sit. Dit is Eskom se swak beplanning wat gelei het tot ’n massiewe agterstand in onderhoud en moontlike onderbrekings.
"En dit was Eskom se besluit om uitbetalings aan lede van die uitvoerende bestuur verlede jaar met 109% te verhoog ten spyte van dié agterstande,” sê Motau.
Volgens Motau is dit ’n tipiese probleem met ’n monopolie wat deur die staat besit word: Daar is geen kompetisie nie en derhalwe word die onus en verantwoordelikheid na verbruikers geskuif. Dít is hoekom die party meen dié kwessie is geskik vir ’n klag by die kommissie.
Alternatiewe
Die party het op Woensdag 1 Februarie 2012 met die Nasionale Energiereguleerder vergader om metodes vir alternatiewe finansiering vir Eskom te bespreek.
“As Eskom besluit om kragonderbrekings in die nabye toekoms toe te pas, sal ons beslis die Verbruikerskommissie betrokke kry. Genoeg is genoeg,” sê Motau.
Die TLU SA het verlede maand reeds ’n brief aan Eskom gerig om te vra dat die situasie verduidelik moet word en dat die kragvoorsiener oop kaarte moet speel voordat 2008 se kragkrisis homself herhaal. Dié organisasie en Agri SA het al hulle kommer uitgespreek oor die invloed van kragonderbrekings op boerderypraktyke, soos melkerye, besproeiing, vrugteverpakking en verkoeling.
1 Februarie 2012