‘Dank adjunk af wat sê grond is gesteel’

Deur Corli van der Merwe
17 Februarie 2017
Steek die adjunk-minister in die pad wat sê grond is gesteel, eis die TLU SA.

Die TLU SA dring aan op die afdanking van me. Ayanda Dlodlo, adjunk-minister van Staatsdiens en Administrasie, oor uitsprake dat grond onteien moet word sonder vergoeding, want “dit was in die eerste plek gesteel”.

Dié organisasie het in ‘n verklaring gesê Dlodlo verkondig onwaarhede en skep ‘n gevaarlike klimaat vir grondeienaars.

Gevaarlike uitsprake
Dlodlo het tydens ‘n verdelende debat oor grondsake, wat by die Universiteit van KwaZulu-Natal aangebied is, gesê die kern van die Wetsontwerp op Onteiening fokus op die nasionale belang.

Dlodlo moes ook pa staan vir bewerings dat die Regering toelaat dat korrupsie en wanadministrasie die proses van grondhervorming belemmer. Sy het onder luide protes van die gehoor gesê dat die ANC probleme met korrupsie aanspreek.

Verskeie deelnemers aan die gesprek het aangedring dat grond dringend herverdeel moet word, insluitend oproepe van sommige dat mense grond self moet terugvat.

Reaksie
Mnr. Louis Meintjes, voorsitter van die TLU SA, het gesê die ANC moet wegbeweeg van politieke ideologie en besluite neem wat ekonomiese groei en werksgeleenthede in Suid-Afrika sal bevorder.

“Mense moet besef die politiek het niks vir hierdie land gedoen nie. Kyk hoeveel mense sit sonder werk. Hoekom sal mense belê in grond as hulle dit nie kan besit nie?”

Volgens Meintjies dui toenemende uitsprake deur politici dat grond gesteel is en teruggegee moet word, op die ANC se desperaatheid oor sy loesing in die munisipale verkiesings verlede jaar.

Duidelikheid
“Pres. Jacob Zuma moet dit duidelik stel of hy as leier van die ANC ook dié mening toegedaan is, wat daarop sal neerkom dat die grondwetlike bepaling dat geen eiendom onteien kan word sonder billike vergoeding nie, vertrap word. As hy die bepaling wil omseil, beteken die res van die Grondwet dus ook niks vir die ANC nie,” sê Meintjes.

Dlodlo het tydens die debat gesê niks keer die Regering om die Grondwet aan te pas om beter in die hoeftes van Suid-Afrikaanse burgers te voorsien nie en dat die nuwe wetsontwerp juis deel van dié proses is.

Meintjes sê die vermoede bestaan reeds lank dat die ANC niks vir die Grondwet voel nie, maar dat die party slegs aandag gee aan die Freedom Charter en die Nasionaal Demokratiese Revolusie (NDR).


Kommentaar

Kommentaar (5) “‘Dank adjunk af wat sê grond is gesteel’

  1. Saaiboer
    Saaiboer

    Mnr. Meintjies, ek het nog altyd baie respek vir TLU SA gehad, maar van u uitsprake ontstel my. Die feit dat die grondwet ons NIE kan beskerm NIE, is mos al lankal algemene kennis. “Openbare belang” trek ‘n streep deur die hele grondwet, en die ANC sal die steun in die parlement kry om die grondwet te verander.

    Ons as boere het lankal gevra, neem hierdie onkundiges wat ons belieg met beskuldigings van diefstal en kla hulle aan vir karakterskending. Die ANC sal vir Dlodlo mos nou nie eers amper afdank oor haar uitsprake nie, hulle stem dan saam. Sulke uitsprake deur TLU is ‘n mors van asem.

  2. Louis Meintjes
    Louis Meintjes

    Saaiboer, Ek sit nou tussen twee vure. As ek reageer dan kry ek jou reaksie. As ons nie reageer oor die regering se gemors nie, word ons gekritiseer omdat ek niks se nie. Ons weet dat ons geen reaksie van hulle gaan kry nie, maar ten minste weet almal wat ons daarvan dink. Vir die toekoms sal ons dit ook gebruik aangesien ons hulle ook deur die briewe en verklarings op terme sit oor ons standpunt. Hoop jy verstaan dit so Dankie vir jou positiewe insette

  3. mkruger
    mkruger

    Saaiboer.
    Ek weet nie of jy die gister gesien het nie.
    http://www.news24.com/Opinions/Voices/return-land-to-the-people-20170219-2

    Lyk nie asof sy vir Louis se versoek geskrik het nie.
    En haar feite.
    Ek persoonlik het al lankal gesmeek dat ons die mense moet reghelp met hulle verkeerde feite.
    Maar ja, wil my voorkom hulle is baie slimmer as ons.
    Hulle weet presies hoe on hierdie geveg aan te vat.
    Want hulle weet ons sal net kerm daaroor en niks doen daaraan nie.

  4. Saaiboer
    Saaiboer

    Mnr Meintjies, dis een van die redes hoekom ek respek het vir TLU SA, antwoord my sommer hier en nou, nie een van die ander instellings van georganiseerde landbou sal dit sommer doen nie. Ek verstaan jou verduideliking en waardeer dit. Van ons boere se kant, dit is frustrasie met ‘n korrupte en onbevoegde regering wat wil hê daar moet optrede wees met hulle gelieg en bedrieg. Ek besef egter julle beleef dit baie meer as ons op grondvlak. Baie sterkte vir julle en mag TLU SA net gaan van krag tot krag.

  5. Louis Meintjes
    Louis Meintjes

    Die vraag is of mens n politieke argument met die ANC kan wen. Ek glo nie. Die enigste argument wat sinvol gevoer kan word is die ekonomiese argument. Daaraan steur die ANC hom ook nie want hy moet stemme behou, en die enigste manier is die grond geelwortel. Alhoewel dit nie ekonomies sin maak nie, maak dit vir hulle politieke sin. Die vraag is wat om te doen? Ek dink die enigste rede hoekom daar nie daadwerklik tot die proses van radikale transformasie oorgegaan is nie, is die feit dat hulle weet dat daar hongersnood sal wees sonder ons kommersiele boere. As hulle n antwoord daarvoor kry, glo ek sal die skrif aan die muur wees vir SA. Kos is die enigste deel van die ekonomie wat nog nie in hulle hande is nie. Daarom is die 50/50 model vir hulle belangrik. As ons meewerk daaraan implimenteer ons hulle beleid van radikale transformasie soos beskryf in hulle NDR en Freedom Charter.


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Verwante artikels