Derduisende vir Vrystaat se beveiliging

Deur Liezl Vercueil
21 April 2017
’n Allemintige R420 000 is tydens VKB se Dryf vir Veiligheid-golfdag vir die verbetering van landelike veiligheid ingesamel.

Die beveiliging van plaasbewoners deur VKB en Vrystaat Landbou (VL) se veiligheidslessenaar in die Vrystaat het ’n stewige finansiële hupstoot gekry. VKB se Dryf vir Veiligheid-gholfdag by Clarens het vanjaar R420 000 vir die lessenaar se bedrywighede ingesamel.

Dié golfdag neem al vir die afgelope vier jaar plaas en die fondse stel die lessenaar in staat om sy mandaat te vervul en goeie verhoudinge tussen die polisie en boere te help handhaaf, asook om boere by te staan om hulself en hul afhanklikes te beveilig. Bykans 65 instansies het vanjaar deelgeneem en 77 gholfkarretjies, die meeste nog ooit, was bedrywig op die baan. Pryse ter waarde van R80 000 was op die spel.

“Sonder hierdie befondsing sou die VKB/VL-veiligheidslessenaar nie in staat wees om hul rol ten volle te vervul nie. Ons is baie dankbaar vir VKB en al die deelnemende spanne se ondersteuning,” sê mnr. Henk Vermeulen, VL se hoof uitvoerende beampte in ’n mediverklaring.

“Ons erken die onmiskenbare rol wat die produsente in die welvaart van die maatskappy speel, deur in samewerking met VL strukture te help vestig en onderhou wat tot die welstand van produsente kan bydra. Ons voel dit is juis belangrik om met die borgskap erkenning te gee aan die rol wat landbouers, as primêre voedselprodusente, in die daaglikse lewe van elke mens vervul, en hierdeur leef ons ook ons leuse, ‘vir die liefde van die land’, uit,” sê mnr. Jan van der Walt, VKB se bemarkingsbestuurder.

Hoe lyk die syfers?
Statistiek van die veiligheidslessenaar dui aan dat 17 plaasaanvalle tussen Januarie en Maart vanjaar plaasgevind het. Dis ’n toename teenoor verlede jaar se 12 aanvalle in die ooreentemmende tydperk. Daar was 10 aanvalle in Maart, en in agt van die voorvalle is boere self aangeval, terwyl werkers en ander plaasbewoners in nege teikens was.

“Ons hoop dat die lessenaar se pogings en diens ’n daadwerlike verskil sal maak in die misdaad-situasie in die Vrystaat se boerderygemeenskappe,” sê Vermeulen.


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Verwante artikels