Die tydbom van werklose jeug in Afrika

Deur Kobus Laubscher
14 Julie 2017
Werkloosheid onder die jeug in Afrika is ’n tydbom, maar daar is oplossings vir die probleem.

Amptelike statistiek aangaande werkloosheid verloor dikwels trefkrag tensy nadere besonderhede deeglik onder oë geneem word. Een so ’n aspek wat die aandag behoort te trek, is die omvang van werkloosheid onder die jeug.

In Maart vanjaar was meer as 54% van mense tussen die ouderdomme van 15 en 24 in Suid-Afrika werkloos. Met ’n arbeidsabsorpsievermoë van net minder as 13% is daar ander oorsake wat aandag verdien, veral aangesien kenners meen dat tot 50% van die jong mense in daardie ouderdomkategorie dalk nooit in hulle lewe werk sal kry nie. Hulle sal nooit formeel kan werk en geld verdien nie.

Dit lyk na die beste verduideliking van hopeloos, veral as die voorspelde voordele van die sogenaamde demografiese dividend van Afrika as primêre drywer van ontwikkeling en komplementeerbare beleggings so beklemtoon word. Dié jeug kan net ’n bydrae maak indien drastiese stappe geneem word, anders is anargie die voorland in suidelike Afrika.

Landbou onaantreklik
Suid-Afrika se syfers is morbied, maar dalk die beste van die slegste vergeleke met sy onmiddellike bure. Tydens ’n vergadering van Afrika se landbouministers gedurende die Europese en Afrika Unies se konferensie op 2 Julie vanjaar in Rome, het die direkteur-generaal van die Verenigde Nasies se industriële ontwikkelingsorganisasie, mnr. Li Yong, gesê die indiensneming van die jeug moet sentraal staan tot die aanspreek van ekonomiese en demografiese uitdagings in Afrika.

In 2014 alleen het 11 miljoen jong Afrikane die arbeidsmark toegetree, maar baie min van hulle het enige toekoms gesien in die landbou. Hulle is ernstig gestriem deur ’n gebrek aan die nodige vaardighede, lae lone en beperkte toegang tot grond vir produksie, asook behoorlike finansiële ondersteuning. Gesamentlik is hierdie faktore as genoegsame redes gesien om die platteland, en die landbou, te verlaat.

Daarmee saam verdiep die verouderingsuitdaging in die landbou. Te veel “ou” mense bly agter en behalwe vir die verlies aan energie en arbeid, is sulke agtergeblewenes ook nie geneë en/of in staat om tegnologiese vernuwing te omarm vir doeleindes van produktiwiteitverbetering nie.

Die internet bevry
Yong stel ’n vyfpuntplan voor om werkloosheid te verminder en groter jeugbetrokkenheid in die landbou en landelike ontwikkeling aan te moedig. Stap een behels groter betrokkenheid van die jeug by produsente-organisasies en ander landelike ontwikkelinginisiatiewe ten einde hulle te bemagtig vir deelname aan beleiddialoog. Tweedens behoort privaatsektorbeleggings aangemoedig te word vir die vestiging van dinamiese en moderne waardekettings in die landbou en die skep van moderne ondersteunende infrastruktuur.

Derdens, en hier val regerings vas, moet die landelike omgewing van verbeterde dienste soos elektrisiteit, opvoeding en gesondheid voorsien word. Die impak van swak finansiële bestuur van plaaslike owerhede in Suid-Afrika het dus verdere negatiewe gevolge.

Dit is juis hier waar die geduld van die jeug onnodig beproef word en mens het nie baie verbeelding nodig om te dink wat ontsluit kan word in terme van opleiding, sou die platteland behoorlike en bekostigbare toegang het tot die internet nie. Dit sal aan die vierde vereiste voldoen omdat dit noodsaaklike ekonomiese, sosiale en politieke bande met die jeug in die platteland skep en in stand hou.

Toegang tot die internet en gepaardgaande moderne kommunikasietegnologie, die vyfde vereiste, sal die plaaswerk die aantreklikheid kan gee wat dit verdien en markte ontsluit. In hierdie opsig is veral lande aan die suidpunt van die vasteland arm, vergeleke met ander Afrikalande in die noorde. Die geografiese dividend is onderbenut in terme van bemagtiging van die jeug om self planne te kan maak wat vir hulle kan werk – en dit omvat meer as om beeste op te pas.


Kommentaar

Kommentaar (2) “Die tydbom van werklose jeug in Afrika

  1. mkruger
    mkruger

    Die rede hoekom ons tans ‘n ooraanbod van werkers het is omdat die ANC gese het sy lede moet aanhou met babas maak en hulle tot vergoed om dit te doen.
    Toe begin 13 jariges swanger raak sodat hulle maandeliks hulle toelaag kan kry.
    Nog nie eenmaal in 22 jaar het die ANC gese dat die aanwas te hoog is nie.

    Ek hoop ek is die dag nog daar as die hond omdraai en se genoeg is nou genoeg en die baas(ANC) byt.

    Glo my met mense soos Mal Emma en die kommies gaan dit gebeur.
    Wat het Abe gese.
    You can fool all of the people…….

  2. Andre Lemmer
    Andre Lemmer

    STATISTIEK en OPLOSSINGS gaan HAND aan HAND.
    Wil Ons Luister en Aanvaar dat Afrika se Uitdagings is ook Suid Afrika se Uitdagings.
    Wereld Bank en Verenigde Nasies se Voorspellings kan nie Afgemaak word as Politiese of
    Ras gedrewe uitsprake….Vergeet van Politiek of Ras voorkeure…Statistiek is….FEITELIKE INLIGTING
    vir ONS OM TE GEBRUIK en te BEPLAN.
    01. Einde 2020 sal 99% van Afrika bevolking swart Afrikane wees….geen probleem.
    02. Einde 2020 sal 1% van Afrika bevolking ..Blank..Indier..Kleurling wees…geen probleem
    03. Einde 2020 sal 63% van Afrika bevolking …Ongeletterd wees…DIT IS SKRIK WEKKEND
    04. 86% van Afrika Bevolking is Bestaans Boere en 86% van Landbou behoort aan 86% Bevolking.
    05. Geen Industrie of Kommersiele aktiwiteit of Stad kan werk -inkomste-behuising verskaf as ….
    06. Groot Gemeganiseerde Boerdery Bedrywe het Groot stukke Aarde nodig om winsgewend te Boer
    07. Een Groot Meg Saai plaas het nodig Groot Geld en Minimum Arbeiders …
    08. Een Bestaansboer op 1Hektaar lewer dieselfde opbrengs per Ha as Groot Meg Boer….
    09. Wie het nou Bekostigbare Voedsel geproduseer en Behuising verseker en Werk geskep…
    10. AS ONS NIE DIE MASSAS GAAN BEMAGTIG >>GAAN ONS ALLES VERLOOR>> ONS HET PRAKTIESE ERVARING EN GESKOOLDE KUNDIGHEID >> KOM ONS WORD MENTORS EN LEIERS VAN BESIGHEDE >>KOM ONS WORD MEGA BOERE>>KOM ONS WORD GROOT LANBOU GEDREWE KONSORTIUMS.


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Verwante artikels