Vanjaar se aanvanklik belowende somergraan-oes verskroei nou oor ’n wye gebied.

Droogteskade neem daagliks toe en teen middel verlede week was die algemene gevoel dat die mielie-oes met honderdduisende ton kan krimp as nóg ’n week sonder wydverspreide reën sou verloop.

Op plekke het boere al op groot skaal verdroogde mielies begin afsny. Weiding begin ook nou skade ly.

Intussen het die heersende La Niña-klimaatverskynsel die wyk begin neem, wat kan beteken dat die kans op bogemiddelde reën in die res van die seisoen verswak, sê mnr. Johan van den Berg, klimatoloog van Santam Landbou.

Tropiese siklone
Die laaste tyd se swak reënval oor groot dele van die sentrale, noordelike, westelike en suidelike binneland word aan tropiese siklone in die Indiese Oseaan tussen Suid-Afrika en Australië toegeskryf. Sedert begin Januarie was daar reeds twaalf van dié siklone, waarvan sowat nege heelwat nader as gewoonlik aan die vasteland beweeg het. Dit het reënvalpatrone ontwrig, sê Van den Berg.

Hy vrees dat droogteskade die mielie- en sojaboonoes tot kritieke vlakke kan laat krimp. Daarby hang die swaard van ’n groot ryprisiko ook nog oor die talle hektare wat weens ’n droë voorsomer eers laat beplant kon word.

Hoewel die Oesskattingskomitee in Februarie, met sy jongste skatting, nog ’n mielie-oes van 11,7 miljoen ton verwag het, is die meeste ontleders dit nou eens dat dit maar bars sal gaan om 11 miljoen ton te haal.
http://www.landbou.com/nuus/nuus-artikel/mielie-oes-13-groter-s-komitee

Mnr. Werner Rossouw, graanverhandelaar en direkteur van die onderneming Silostrat in Welkom, sê hy sal nie verbaas wees nie as die komitee sy tweede amptelike mielie-produksieskatting van die seisoen (op 27 Maart) tot onder 11 miljoen ton verlaag nie.

Sukkel om geskatte oes te behaal
Mnr. Abie van der Walt, uitvoerende hoof van Profert, meen Suid-Afrika gaan sukkel om ’n mielie-oes van 10,2 miljoen ton te haal. Vrystaat Mielies se jongste mielie-skatting is 10,7 miljoen ton.

’n Onlangse opname deur Profert onder sy streekbestuurders skets ’n donker prentjie. In die Oos-Vrystaat word van ’n gemiddelde mielie-opbrengste van 3,5 ton tot 3,8 ton per ha gepraat. ’n Gemiddelde sojaboon-opbrengs van 0,8 ton tot 1 ton per ha word genoem. Moontlike vroeë ryp is ’n groot bedreiging daar.

Mnr. Koos Blignaut, streekbestuurder van Profert in Noordwes, skat droogteskade op die mielie-oes daar is tussen 25% en 35%.

Mnr. Arnold Otto, van die Oostelike Hoëveld, verwag 30% skade aan hul mielie-oes; en mnr. Jan de Klerk in die Noord-Vrystaat berig van daaglikse skade, tweede koppe wat by Bothaville begin afspeen, meer as 50% skade suid van Kroonstad, en ’n boer by Bothaville wat al 500 van sy 3 000 ha mielies afgesny het.

19 Maart 2012


Kommentaar

Kommentaar (4) “Droogte: Somergraan verskroei

  1. JUDIE VAN HEERDEN
    JUDIE VAN HEERDEN

    die droogte is vreeslik vreeslik erg

    nog nooit was dit so droog nie judie

  2. Butch van Blerk
    Butch van Blerk

    En dan deel geeneen van die insetverskaffers in hierdie verliese van die landbouers nie en sit inteendeel baie van hulle hulle pryse doodeenvoudig op ???!!!! Almal van die boere ly skade, maar wanneer staan almal van die boere saam om hierdie euwels van insetkosteverhogings teen te gaan. Volgende maand druk eskom hierdie selfde boere met hoër rekenings – totaal en al belaglik !

  3. Cobus  Coetzee
    Cobus Coetzee

    Noord van Kroonstad gaan ons nou vir week 5 sonder reen. My mielies is al verby die punt van herstel en ek skat ‘n opbrengs van 1 ton per hektaar. Die droogte is die ergste in baie jare. Ek sien grootskaalse probleme vir die seisoen want weidings sal ook nie deur die winter hou nie.

  4. Boeta Brand
    Boeta Brand

    Insetkosteverhogings is voorwaar ‘n euwel. Dit is vir almal van ons moeilik om deur sulke droogtes en moeilike tye te kom. Ek wonder maar net of die boere wat een vir een wegbeweeg om “beter pryse” self direk by verskaffers te beding nie eendag sal besef dat elke druppel wat deur hul plaaslike kooperasie gegaan het juis in sulke tye tot hul voordeel kon trek om sodoende hul kooperasie in ‘n mededingender posisie te plaas om verskaffers in ‘n blik te druk met beter beheerde prysstygings van insetprodukte nie? As klein boertjie vra ek maar net? Ons vat mos maar altyd, soos ouder gewoonte, elkeen ons eie ou paadjie. Dit is nog ‘n spreekbuis wat ons het, ten minste is die kooperasies nog afhanklik van ons hardverdiende brood en botter, en as hulle nie is nie – dra ons nie ook die blaam hieraan nie?


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.