Droogte steeds nie verby vir KZN

Deur Johan van der Merwe
9 Januarie 2017
Alhoewel daar goeie reën oor KwaZulu-Natal uitgesak het oor die eerste week van 2017, is die droogte in baie dele steeds ’n bron van kommer.

Die boere van KwaZulu-Natal (KZN) voer ’n guerrilla-oorlog teen die droogte. Sommige gebiede het goeie reën gehad op die regte tye, ander gebiede het deurgeloop onder hael en oorstromings terwyl steeds ander streke steeds erg gebuk gaan onder die voortslepende droogte.

Volgens mnr. Anthony Muirhead, veteraan graanboer van die Winterton-omgewing, lyk die mielies en soja in daardie gebied uitstekend na volgehoue goeie reën op die regte tye. “Net 30 km verder noord, by Bergville, lyk dit regtig sleg, want daar het nie reën geval die hele somer nie. Sommige boere moes ook twee en selfs drie maal oor saai weens oorstroming in die vroeë seisoen en daarna, en sommige nog deurgeloop onder hael ook,” verduidelik Muirhead.

In die noorde van die provinsie gaan dinge al beter, maar boere daar is nog nie ontspanne oor die komende winter nie. Volgens mnr. Johan Boonzaaier, uitvoerende hoof van die Impala-watergebruikersvereniging in Pongola, het daar nie veel reën in Pongola geval hierdie somer nie, maar die opvanggebeid van die Bivanedam, waaruit die boere van Pongola besproei, het goeie reën gehad.

“Die dam is tans 48.5% vol, wat beteken dat die skema se lede soos normaal kan besproei. Ons hoop is dat die dam teen einde Februarie 65% vol sal wees, wat beteken dat al ons aan al ons lede hul volle kwota kan verskaf vir die komende seisoen, anders sal daar weer inperkings wees op die kwotas,” verduidelik Boonzaaier.

Volgens mnr. Angus Williamson, ’n verkoopsagent van Voermol Voere in die KZN-middellande, het die onlangse reën baie gehelp om weiding aan die gang te kry in die gebied. “Die reën is steeds baie kol-kol, maar op meeste plekke het daar darem tussen 40 mm en 50 mm neergesak. Vir die ganse Desember in 2016 het daar maar 48 mm reën geval in die Middellande, teenoor die 12 0mm wat in Desember 2015 uitgesak het. Daar is dus met rede steeds groot kommer oor die beskikbaarheid van veevoer vir die komende winter. Die aantal dae wat daar oor is vir weiding om toe te neem in volume, is min en dit is ’n bron van kommer,” verduidelik Williamson.


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Verwante artikels