Droogte vreet Clanwilliam se blomme op

Deur Johan van der Merwe
12 Augustus 2017
Die droogste jaar sedert 1956 in die Namakwaland het die organiseerders van die Clanwilliam Veldblomskou genoop om hul veldblom-uitstalling te kanselleer.

Vanjaar sou die 46ste keer wees wat die Clanwilliam Veldblom-uitstalling by die Clanwilliam Veldblomskou gehou word, maar weens die droogte, gaan hierdie uitstalling nie vanjaar by die skou teenwoordig wees nie.

Volgens me Alida Stone, die voorsitter van die Clanwilliam Veldblomvereniging, is dit met ’n swaar hart dat hulle besluit het om die uitstalling te kanselleer. “Die bewaring van die veld is egter steeds ons eerste prioriteit. Weens die droogte is daar maar min blomme in die veld en om ’n volwaardige uitstalling te bou, sou ons basies die veld moes stroop, wat totaal teen ons vereniging se beginsels en prioriteite indruis,” het Stone verduidelik.

Droogste sedert 1953
Volgens Cape Nature is vanjaar die droogste jaar in die streek sedert 1953. “Vanjaar is nie net droog nie, dit is besonder droog. Dit is egter die derde winter in ’n ry wat ons ondergemiddelde reën kry. Die droogte tref ons toerismebedryf baie swaar.

“Ons hoop die laatwinter sal nog reën bring, want tans is die Clanwilliamdam slegs 30% vol en die dam is n groot bron van toerisme-inkomste in die somer vir die dorp. So, buiten dat die boere in die omgewing regtig swaar trek en daar groot uitdagings voorlê die komende somer as dit nie nog reën nie, gaan al die ander bedrywe net so swaar gebukkend onder die droogte.

“Die Veldblomvereniging is ’n vrywilliger-organisasie en die inkomste wat ons insamel word gebruik om die historiese geboue in die dorp te onderhou, want daar is nie ander fondse waarmee dit gedoen kan word nie. Ons is dus hartseer dat ons nie oudergewoonte die veldblom-uitstalling kon bou vanjaar nie. Normaalweg is hierdie tyd vanjaar ’n herlewing in die omgewing na die winter. Alles is gewoonlik kleurvol en ons gemoedere is hoog. Vanjaar is dit nie die geval nie,” verduidelik Stone.

Die Clanwilliam Veldblomskou sal steeds van 25 Augustus tot 2 September plaasvind. Vir meer inligting skakel die Clanwilliam Toerismekantoor by: 027 4822 024.


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Verwante artikels