Durban-metro nou hoenderboer

Deur Verslaggewer
19 Mei 2017
Die eThekwini-munisipaliteit wil vrylopende, inheemse pluimvee vir die plaaslike en streeksmark op aangekoopte RCL-plase produseer.

Die eThekwini-munisipaliteit het die sukkelende hoenderprodusent RCL Foods R15 miljoen aangebied vir sy Uitkomst- en Doornrug-hoenderplase, wat op die mark is nadat die maatskappy besluit het om sy bedrywighede af te skaal.

Die munisipaliteit wil vrylopende, inheemse pluimvee vir die plaaslike en streeksmark op dié plase lewer, en sê die besluit is geneem om afgedankte werkers van RCL by te staan. Die genoteerde hoenderprodusent het onlangs 1 350 werkers uit diens gestel, en 13 van sy 25 plase in die Hammarsdale- en Camperdown-omgewing is tans op die mark.

Die eThekwini-stadsraad het op ’n vergadering op 28 April gestem ten gunste van die koop, kragtens ’n nuwe “Radikale Agrariese Sosiaal-ekonomiese Transformasieprogram”.

Produsente
Mnr. Thulani Nzama, waarnemende hoof van die munisipaliteit se eenheid vir sakesteun, toerisme en markte, sê die munisipaliteit steun verskeie bestaande hoender- en varsprodukteprodusente in sy landelike gebiede, en die nuwe plase sal saam met hulle werk.

Volgens Nzama wag die stad tans vir terugvoer van RCL op sy aanbod, en as alles goed gaan, kan die stadsraad reeds in Desember besit neem. Die stadsraad is besig om ’n vestigings- en bemarkingsplan vir die besigheid te finaliseer, wat oor alle landelike kiesafdelings heen toegepas sal word.

Die stadsraad beoog ook om met die Food and Allied Workers’ Union (Fawu), wat die afgedankte werkers verteenwoordig, te vergader om voorbereidings te tref om die plase in bedryf te stel.

Nzama sê enkele afgedankte werkers het die stadsraad genader, en hulle het reeds met plaaslike vakbondbase gepraat oor die tipe vaardighede wat nodig sal wees. “Die plaaslike gemeenskap, waaronder ervare afgedankte RCL-personeel, sal aangemoedig word om die sake-entiteit te vestig wat dan ’n huurooreenkoms met die stad sal aangaan en die plaas bedryf,” sê hy.

Inheemse hoender
Nzama sê die stadsraad is in gesprekke met hoenderprodusente om hulle te voorsien van vrylopende, inheemse hoender.

Hulle het ook samesprekings begin met provinsiale staatsdepartemente – onder meer korrektiewe dienste, maatskaplike ontwikkeling, onderwys en gesondheid – om hulle van hoendervleis te voorsien sodat die plase markte sal hê sodra produksie volgende jaar begin.

“Op kort tot mediumtermyn sal sleutel-staatsdepartemente geoormerk word as potensiële markte vir die hoendervleis- en eierprodukte, in pas met die gewysigde Wet op Openbare Finansiële Bestuur,” het hy gesê.

Mnr. Katishi Masemola, hoofsekretaris van Fawu, het die plan verwelkom en sê Fawu sou graag wou sien dat afgedankte werkers ’n meerderheidsaandeel in die nuwe besigheid het.

(Deur Paddy Harper, City Press)


Kommentaar

Een kommentaar op “Durban-metro nou hoenderboer

  1. mkruger
    mkruger

    Hkgk.
    Skoenmaker hou jou by jou lees.
    Ek het nie geweet dat die munisipaliteit onder kommunistiese beheer is nie.
    Wil voorkom asof hulle in daardie rigting beweeg.
    Wag maar tot die plan nie werk nie en hulle die werkers moet afle.
    Gaan die belastingbetaler ‘n lekker klomp geld kos.


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Verwante artikels