Ontginning van skaliegas in VSA. Foto: KAROOSPACE MAGAZINE
Baie onsekerheid kan uit die weg geruim met eksplorasie vir skaliegas, maar die Regering se “baanrekord” wek kommer.
Heelwat onsekerheid kan uit die weg geruim word deur eksplorasie vir skaliegas toe te laat, maar die Regering se gebrekkige regulatoriese “baanrekord” maak hom bekommerd, het dr. David Fig, ‘n vryskutnavorser en –skrywer, by ’n debat oor die ontginning van skaliegas by die Karoo Ontwikkelingskonferensie op Beaufort-Wes gesê.
Volgens Fig het die burgery ses tot 12 maande om sekere eise aan die Regering te stel. Hy sou normaalweg nie probleme gehad het met eksplorasie nie, maar daar is byvoorbeeld geen wet wat die ontginning van skaliegas reguleer nie.
Ironies genoeg, is myne vrygestel van impakstudies oor die omgewing, wat in die geval van skaliegas-ontginning in elk geval nie omvattend genoeg gaan wees nie. “Ons behoort nou daarop aan te dring dat daar wetgewing geskryf word wat die ontginning van skaliegas reguleer.”
Onafhanklike reguleerder nodig
‘n Ander probleem is dat Prasa (die Petroleumagentskap van Suid-Afrika) ‘n waghondrol speel, maar ook petroleum-aangeleenthede moet bevorder. Fig sê Suid-Afrika het eintlik ’n onafhanklike reguleerder nodig. “Die moratorium moes nooit opgehef gewees het voordat daar antwoorde op alle die vrae gegee is nie.”
Prof. Maarten de Wit, hoof van die departement van aardwetenskap by die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit in Port Elizabeth, het tydens die debat gesê hy verwelkom die opheffing van die moratorium op eksplorasie vir skaliegas, aangesien dit kan wys wat onder die grond aangaan.
De Wit sê die eksplorasieproses sal ten minste vyf jaar neem, en daarna sal ons weet wat in ons “bank” is, en of dit ontgin kan word. “Indien dit ontgin kan word, beteken dit dat daar vyf jaar is om seker te maak dat monitering en regulering in plek is.”