Deur JAN BEZUIDENHOUT
27 Julie 2012

918 keer gelees | 4 kommentaar

As die landbou sekerheid van sy verwagtinge kan kry, kan die Regering maar agteroor sit, dié bedryf sal sorg dat Suid-Afrika genoeg kos op die tafel het, sê prof. Johann Kirsten.


Die landbou in Suid-Afrika is by ’n kruispad en hy sal sekere keuses moet maak, het mnr. Carl Opperman, hoof- uitvoerende beampte van Agri Wes-Kaap, op dié organisasie se jaarkongres by die Goudini-spa by Rawsonville gesê.

Gaan dit ’n besluit wees wat ’n verskil sal maak, of gaan dit hakke inskop wees, was sy vraag aan kongresgangers.

Die tema van die kongres was “Dis halftyd” en Wynand Claassen, Springbokkaptein van weleer, het die verrigtinge begin met ’n regruk-praatjie.

Hy het staaltjies vertel van hoe hy telkemale in sy roemryke rugbyloopbaan die spanne wat hy aangevoer het teen halftyd moes motiveer om te hergroepeer en van spelstrategie te verander om punte-agterstande uit te wis sodat hulle wedstryde kon wen.

Claassen wou van kleintyd af ’n Springbok word, maar hy het ná ’n retina-besering besef dat sy rugby-loopbaan in ’n doodloopstraat in Noord-Transvaal beland het. Hy moes sy strategie verander en het Natal toe verhuis. Deur dié besluit in sy eie “halftyd” te neem, is sy droom bewaarheid. “Sukses gaan oor jou houding - beskou jouself altyd as ’n wenner.”

Afrika moet kos kry
Die tweede genooide spreker, prof. Willie Breytenbach, afgetrede hoogleraar in politieke wetenskap aan die Universiteit van Stellenbosch, het gesê boere moet nie moed verloor nie. “Afrika se bevolking gaan binnekort meer as een miljard wees, en hulle moet kos kry.”

Hyt het gewaarsku dat China ’n al hoe groter betrokkenheid in Afrika kry. China gaan ontpop as ’n goedkoop mededinger wat kos in Afrika vir China wil produseer. China is slegte nuus vir Nepad. ’n Nuwe organisasie vir samewerking tussen Afrika en China is reeds gestig en dit gaan probleme veroorsaak, het hy voorspel.

Maar wat moet die landbou doen, het hy gevra. Die doelpale word voortdurend geskuif, maar die landbou moet die toeskouers tevrede hou.

Breytenbach het opgemerk dat Suid-Afrika al talle voorvalle van betogings oor swak dienslewering beleef het, maar nog nooit oor voedselsekerheid nie.

‘Speel die bal, nie die man nie’
Prof. Johann Kirsten, hoof van die departement van landbou-ekonomie aan die Universiteit van Pretoria, was die derde genooide spreker. Hy sê die landbou moet wegkom van die persepsie dat hy teen ander mense speel. “Hier is eintlik net vennote, maar ons moet die wedstryd slim benader. Ons het nuwe omstandighede, nuwe spelers, nuwe strukture. Ons moet nou op die bal fokus en nie die man speel nie. Ons strategie is voedsel.”

Kirsten het verwys na grootskaalse internasionale belegging in landbougrond deur maatskappye en verskansingsfondse. Volgens hom is sowat 2 000 transaksies van nagenoeg 228 miljoen hektaar die afgelope tyd aangegaan, waarvan 161 miljoen hektaar in Afrika is. Die ander beleggings is onder meer 42 miljoen hektaar in Asië en 17 miljoen hektaar in Latyns-Amerika.

Kirsten het benadruk dat die landbou in Suid-Afrika homself nie goed genoeg bemark nie. “Ons moet positief wees, ons moet slim wees en ons moet die klem op die regte goed plaas.”

Die landbou moet aan die Regering kan sê: “Gee ons net die sekerheid van ons verwagtinge, dan hoef jy (die Regering) verder niks te doen nie – ons sal vir die res sorg, soos om vinnig 500 000 nuwe werkgeleenthede in die voormalige tuislande te skep.”

* Mnre. Cornie Swart en Niël Joubert is onderskeidelik as voorsitter en ondervoorsitter van Agri Wes-Kaap herkies.


Kommentaar
Slegs in Afrikaans


Miskruier

2012/07/27 10:06:58 AM

Ek dink die landbou moet ophou oplossings soek by mense wat nie self direk betrokke is by landbou nie. Die goed wat hulle se is nie heeltemal op plaasvlak relevant nie.


Jongboer

2012/07/28 11:57:22 AM

Miskruier, 60% van 'n boer se besigheid gebeur buite sy plaas. Die toepassings is dus relevant. As jy dan die oplossing het, hou op met bolle rol, terwyl jy jou dik eet aan aan alles wat landbou vir jou op die tafel sit, en bring jou oplossing! Kom net met feite!


john durr

2012/07/28 04:37:48 PM

Dit is nie Cornie Uys nie , maar wel Cornie Swart .Baie geluk met jul herverkiesing . Julle is puik leiers en het 'n baie goeie kongres gehad wat goed gereël is deur personeel wat weet wat hulle moet doen en dit dan ook doen . Veels geluk en sterkte vir die nuwe jaar


Janbez

2012/07/30 02:23:54 PM

Dankie, John. Fout is herstel.

Naam Kommentaar
E-pos
Tik in die nommers  

Kry ons op jou foon

Vind jou perfekte maat nou!

Ek is 'n:
Stel belang in:
Ouderdom: tot
Huidige
Ligging:
Wys net profiele met foto's

Teken in vir die nuusbrief

Teken in op Landbou se weeklikse nuusbrief deur jou e-posadres hier in te vul.

Lewende Hawe

Soort 14/05/13 21/05/13 %
Beesvleis A2/A3 2814c 2815c down 0
Speenkalf (lewend) 1583c 1552c down -2
Skaapvleis A2/A3 4428c 4430c down 0
Varkvleis (gem. prys) 1766c 1774c down 0.5
Braaikuikens 1483c 1512c down 2

Aandele

Pricecheck Flights