Sowat 227 miljoen ha grond is wêreldwyd vasgevang in grootskaalse internasionale ooreenkomste, sê Oxfam, ’n internasionale navorsingsgroep en waghond vir omgewingsake en landbou.
Luidens ’n berig op Black Business Quarterly (BBQ) is die meeste van dié ooreenkomste ten koste van plaaslike gemeenskappe aangegaan.
Volgens Oxfam se verslag, Land and Power, het die meeste van die internasionale kopers hulself, sonder om gemeenskappe v vooraf te raadpleeg of hulle te vergoed, op die grond gevestig.
“Voorlopige opnames dui aan dat soveel as 227 miljoen ha – wat die grootte van Wes-Europa is – deur middel van dié manier verkoop, gehuur of gelisensieer is,” lui die berig.
Nie waarvoor landbou wag
Volgens Oxfam is dié nuwe ooreenkomste nié die nuwe beleggings waarop miljoene mense in die wêreld se landbousektor gewag het nie.
“Baie van hierdie transaksies is in werklikheid ‘grondgrypery’ waarvolgens die behoeftes en regte van mense wat op die grond leef, geïgnoreer word, hulle dakloos gelaat word en nie meer vir hulself kos kan produseer of ’n bestaan kan maak nie.”
Deursigtigheid is glo ’n groot probleem met dié transaksies. Tot op datum is 1 100 transaksies, wat 67 000 ha verteenwoordig, behoorlik nagegaan. Die opvolgproses gaan voort.
“Belegging in die landbou is veronderstel om goeie nuus te wees, maar hierdie vergrype aan grond werk die dekades van harde werk om mense se lewens te verbeter teen,” aldus Oxfam.
Die navoringsgroep meen dat spoedige internasionale stappe nodig is om vergrype aan grond te stop.
Bron: BBQ-online
4 Oktober 2011