Grondpryse in Noord-Kaap onder druk

Deur Johann Bornman
19 Junie 2017
Grondpryse in die Noord-Kaap is onder druk, met dalende prysneigings wat in verskeie distrikte waargeneem word, sê mnr. Johann Bornman.

Die ontleding van grondverkope in Mpumalanga, die Noord-Kaap en Noordwes is van transaksies vir grond wat groter is as 10 ha vanaf Mei verlede jaar tot April vanjaar.

In die Noord-Kaap is 284 transaksies in 21 distrikte gesluit. Dit het 573 618 ha teen R2,288 miljard behels. Daarvan was 27 transaksies van kleur (10%), wat 76 379 ha (13,3%) teen R384 miljoen (16,8% van die totale waarde) verteenwoordig.

Altesame 65% van die transaksies was vir grond groter as 300 ha. In ses (28,6%) van die distrikte is dalende prysneigings waargeneem. Grondpryse in die distrik Barkly-Wes het aansienlik gekrimp in die 12 maande van die ontleding, met ‘n gemiddelde daling van 21,7%. Sake lyk heelwat beter in Kenhardt, met ‘n gemiddelde toename van 17,3% in die 12 maande.

Groter transaksies
In Mpumalanga was daar ‘n dalende neiging in net een van die ses distrikte. Altesame 460 transaksies het 113 490 ha teen R2,838 miljard behels. Daarvan was 91 (20%) ooreenkomste van kleur, wat 29 944 ha (26,4%) teen R738 miljoen behels het.

Ál meer transaksies (27%) is vir grond groter as 300 ha. Die distrik Amsterdam in die provinsie het gemiddelde groei van 8,8% oor dié periode aangeteken.

Altesame 638 transaksies het in 14 distrikte in Noordwes plaasgevind. Net sewe van die distrikte se pryse het gedaal. Altesame 194 832 ha is verhandel teen R4,813 miljard.

Daarvan was 104 (16%) ooreenkomste van kleur, wat 10,5% van die totale waarde behels het. Altesame 29% van die transaksies was vir grond kleiner as 50 ha.

Statistieke, soos bogenoemde, is vir ál die provinsies op Landbou.com beskikbaar, asook meer besonderhede, soos wie die transaksies aangegaan het. Klik hier. Dit behels:

■Statistieke.
■ Besonderhede oor alle plaasverkope binne ’n distrik.
■ Ontleding van die randwaarde per hektaar van transaksies in elke distrik.

* Johann Bornman is voorsitter van Agri Development Solutions (ADS). Kontak Bornman by jchb@mweb.co.za.


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Verwante artikels