Plan nommer 21, wat kom uit artikel 6 van die
Nasionale Beplanningskommissie se voorgestelde plan vir Suid-Afrika, laat boere ril. Dié plan is Maandagaand (22 Oktober 2012) deur pres. Jacob Zuma op die eerste jaarlikse kongres van African Farmers’ Association of South Africa (
Afasa) voorgehou.
Zuma sê die plan stel ’n distriksbenadering tot grondhervorming en die finansiering daarvan voor. “Dit stel voor dat elke distrik ’n grondhervormingskomitee op die been moet bring waarin alle belanghebbendes ingesluit word.”
Dié distrikskomitee sal verantwoordelik wees vir die identifisering van 20% van
kommersiële landbougrond in die distrik en sal aan kommersiële boere die keuse gee om hand by te sit om grond na swart boere oor te dra.
StappeDie voorstel sal deur middel van drie stappe ingestel word: Die eerste stap sal wees om grond te vind sonder om die mark te “verdraai”. Dít sluit grond in wat reeds in die mark beskikbaar is, grond waar die boer onder ernstige finansiële druk verkeer, grond wat deur ’n afwesige verhuurder besit word wat dit sal verkoop en grond in ’n swak toestand.
“Tweedens, ná dit geïdentifiseer is, sal die grond teen 50% van markwaarde (wat nader is aan die regverdige produksiewaarde) gekoop word. Die tekort van die eienaar sal opgemaak word deur kontant of bydraes van kommersiële boere in die distrik wat vrywilliglik deelneem,” aldus Zuma.
Zuma se plan se derde stap is: “In ruil vir bogennoemde bydraes, sal
kommersiële boere beskerm word teen die verlies van hul grond en hulle sal swart ekonomiese bemagtigingstatus kry. Dit sal die onsekerheid en wantroue wat grondhervorming omvou en die gevolglike verlies van beleggersvertroue verwyder.”
Die vierde stap fokus op ’n program vir finansiering, wat die Nasionale Tesourie, die
Land Bank en gevestigde wit boere insluit. Die model stel voor dat die koste van grondhervorming tussen alle betrokkenes verdeel moet word.
Bedekte dreigementDr. Theo de Jager
, ondervoorsitter van Agri SA, sê verskeie bekommerde boere het hom sedert die toespraak genader. ”Die Grondwet beskerm boere om
nie hulle grond te verloor nie, hoekom moet so ’n plan vir jou beskerming bied?”
“Hierdie plan en stellings word gesien as ’n bedekte dreigement en dit stuur ’n verskriklike ongesonde sein uit. Dit maak die ANC ernstig verdag,” sê De Jager. “Hoe moet ons, na ons baie swaar belasting betaal, opdok vir ’n nasionale plan? In watter soort demokrasie moet ’n individu opdok vir ’n nasionale plan?”
Wat die bepaling van markwaarde betref, sê De Jager dit is al voorheen bewys, die produksiewaarde waarna verwys word, hang van die produsent af – nie die grond nie. Hy vertel van ’n plaas in Limpopo wat ’n omset van tussen R10 miljoen en R15 miljoen gehad het, en na dit oorgedra is, nooit ’n omset van meer as R300 000 kon lewer nie.
“Dié voorstel (stap twee) laat ernstige vrae ontstaan oor die kundigheid van die nasionale beplanningskomissie wat die plan saamgestel het.”
’n Kwessie wat deurentyd bespreek word en as die kern van die land se grondhervormingsprobleem gesien word, word egter nie deur Zuma aangeroer nie – die werkvermoë van die
Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming. De Jager sê: “Ons is baie skepties oor waar die departement die vermoë gaan kry om dié plan deur te voer. Hoe gaan amptenare nou skielik presteer wanneer hulle dit nog nie van tevore kon doen nie?”