Die
droogtes in Amerika en ander wêrelddele kan erge implikasies vir die wêreld se voedselvoorraad, en gevolglik voedselpryse, en verbruikers se lewenstyl inhou.
Mnr. Markos Fava Neves, professor in strategiese beplanning vir voedselkettings by die Skool vir Ekonomie en Sake aan die Universiteit van Sao Paulo, sê weerkundiges het onlangs gewaarsku dat droogtes in die toekoms meer gereeld kan voorkom.
“Ons moet erken dat dié droogtes voorkom in ’n tyd wat voedselverbruik internasionaal groei. Ons sal produksie vinniger moet verhoog as wat aanvanklik verwag is,” sê Fava Neves in ’n berig in
China Daily.
WaarskuwingsNamate reserwevoorraad tans en in die komende seisoen gebruik gaan word om te verseker dat daar in die vraag voorsien word, gaan die reserwevoorrade “gevaarlik lae vlakke bereik.” Fava Neves verwag dat hoë
kommoditeitspryse dus vir meer as net een seisoen gaan voorkom, totdat voorrade weer tot gerusstellende vlakke verhoog is.
Die vleisbedryf word beskryf as die sektor wat die meeste deur die situasie bedreig gaan word, aangesien dit nie noodwendig hoë voerpryse – weens hoë graanpryse – outomaties aan supermarkte en verbruikers kan deurgee nie.
Verder gaan dié situasie
hoë voedselkoste vir veral ontwikkelende lande tot gevolg hê, veral as voorrade teen hoë pryse ingevoer moet word. “Hoë voedselpryse kan ook regstreeks met politieke onbestendigheid verbind word,” aldus Fava Neves.
Ander bedryweVolgens die ontleder gaan markte wat nie regstreeks aan voedsel verbind is nie, die hardste geslaan word wanneer verbruikers die gordel intrek, “want voedsel is die laaste item wat gesny word wanneer ’n gesin koste moet besnoei.”
Fava Neves waarsku dat ook restaurante hard geslaan kan word deur die situasie, aangesien eet in ’n restaurant ook as ’n luuksheid gesien word.
Die situasie kan ekonomiese gevolge in verskeie lande tot gevolg hê, wat dié lande se groeikoers en wisselkoerse kan beïnvloed.
“Ons verwag baie meer regulasies oor handel in voedsel in verskeie lande (insluitend uitvoerkwotas en produksie-insentiewe). Ons kan ook politieke spanning oor skaars watervoorrade verwag,” aldus Fava Neves.
Bron:
China Daily