Holstein-koei vrek ná sy jersey insluk

Deur Corli van der Merwe
11 Januarie 2017
'n Boer het 'n interessante ontdekking in 'n Holsteinkoei se maag gevind nadat die oënskynlike gesonde dier gevrek het.

’n Boer wat die vrekte van een van sy oënskynlik gesonde melkbeeste ondersoek het, was verbaas om ’n trui in dié dier se maag te vind.

Mnr. Frikkie Schlebusch van die plaas Lammermoor in die distrik Lady Grey vertel aan Landbou.com dat hy nie kommersieel met melkbeeste boer nie, maar wel ’n paar Holsteinkoeie op die plaas aanhou, wat in ’n baie goeie kondisie is.

“My melkkoeie is pragtig vet en gesond. Ek het so vyf van hulle. Een van die plaaswerkers het onlangs laat weet dat een van die koeie skielik dood is. Toe ek egter na die koei gaan kyk, kon ek sien sy lê nie soos een wat opgeblaas is nie en ek het besluit om haar oop te sny om te kyk hoekom sy gevrek het,” vertel Schlebusch.

Nou toe nou!
Hy het tot sy verbasing ’n trui in die dier se pens ontdek. “Ek het die trui, wat steeds in een stuk is, uitgehaal en aan van die werkers op my plaas gewys om uit te vind waar dit vandaan kom.”

Tot Schlebusch se verbasing het een van die werkers wat op die plaas woon, aangedui dat die trui aan haar dogtertjie behoort en dat dit voorheen van ’n wasgoeddraad af verdwyn het.

Schlebusch vermoed dat dié bees, wat naby die wasgoeddraad wei, ’n skielike lus vir wasgoed ontwikkel het en die trui van die draad af gesteel het.

Stukke lap en plastiek
Schlebusch vertel dat hy wel al stukke lappe en plastiek in beeste se ingewande gevind het, maar dat dit die eerste keer is dat hy so iets sien. Hy vermoed dié trui is as gevolg van sy grootte nie verantwoordelik vir die koei se dood nie en probeer nog uitvind wat die eintlike oorsaak was.

* Dr. Faffa  Malan van die Herkouerveterinêre Vereniging van Suid-Afrika sê egter dat die trui wel vir ‘n verstopping en die dood van die koei verantwoordelik kan wees. Malan sê dat hy selfs al ‘n sambreel in die maag van ‘n bees gevind het en dat plastiese sakke, drade en klippe ook telkens deur beeste gekou en ingesluk word.

Lees hier Malan se advies oor vreemde voorwerpe in ‘n bees se slukderm en grootpens.


Kommentaar

Kommentaar (2) “Holstein-koei vrek ná sy jersey insluk

  1. Faan Beukes
    Faan Beukes

    Wel, baie jare terug ‘n rok saam met plastieksakke en nylon toue in pens gekry. A.g.v. bees wat aan pika ly. Het vers betyds geslag voor sy self gevrek het.

  2. Brakanjan
    Brakanjan

    Hahaha, ek hou baie van die dubbelsinnige opskrif, ‘Holstein-koei vrek ná sy jersey insluk’. Vir 3 sekondes dog ek, dis ‘n Holstein koei wat ‘n Jersey koei insluk. Toe is die jersey al die tyd ‘n kledingstuk. 😉 Dankie vir hierdie artikel en ook vir Dr. F Malan se uitstekende advies. Ek onthou toe ek ‘n seun was, het ek en my ma gesien ons 1 jaar oue wolfhond lyk nie lekker nie. Ons maak die arme brak se hond oop en sien ‘n stuk plastiek steek uit die slukderm. Ons trek, nee, maak dit ryg die plastiek uit, uit en nogmaals uit. Die plastiek was toe ‘n plastiek sak wat vir droogskoonmakery gebruik word om skoon klere mee te beskerm. Dit was ‘n groot stuk plastiek vir ‘n jong hond en geen wonder ‘n deel van die sak het in die slukderm en bek gebly. Die hond was ok gewees, niks probleme nie verder nie. Die hond het uiteindelik 12-13 jaar oud geword. So gaan dit maar, hou maar ‘n ogie oor jou diere, dis ‘n voltydse werk nogal! 😉


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Verwante artikels